Groot stryd broei tussen Cele en McBride

Genl. Bheki Cele, minister van polisie (Foto: ANA)

Twee van die Suid-Afrikaanse polisie-omgewing se kleurrykste rolspelers gaan mekaar in die openbare arena pak wanneer die minister van polisie, genl. Bheki Cele, te staan kom teen die hoof van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), Robert McBride.

McBride is ʼn voormalige hoof van die metropolisie in Ekurhuleni en was in die 1980’s bekend as die Magoo’s Bar-bomplanter.

Sy kontrak verstryk op 28 Februarie en Cele wil dit nie hernu nie – so het Cele reeds per brief laat blyk.

McBride voer egter aan dis nie Cele se besluit of sy kontrak hernu moet word nie. Hy meen daardie besluit berus by die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie.

Robert McBride Foto: Werner Beukes/SAPA

Ter ondersteuning van sy argument verwys hy na die uitspraak van die konstitusionele hof in die 2016-saak van McBride teen die Minister van Polisie, wat McBride gewen het en wat bepaal het dat die minister van polisie slegs die hoof van Opod mag skors, dissiplineer of verwyder as die parlement se oorsigkomitee daartoe instem.

Luidens ‘n brief van Cele aan die voorsitter van die portefeuljekomitee en ANC-LP Francois Beukman, wat Maroela Media onder oë gehad het, voer Cele aan die uitspraak handel glad nie oor die hernuwing van ‘n termyn nie.

In die brief vra Cele aan die portefeuljekomitee dat hulle, in die lig van McBride se neiging tot uitgerekte hofsake, tog maar sy besluit onderskryf – wat gegewe die ANC-meerderheid op die komitee in politieke kringe as ‘n gegewe beskou word.

Die portefeuljekomitee het die kwessie vandeesweek kortliks bespreek en advies ingewin, wat die tafel dek vir ‘n interessante botsing tussen Cele en McBride.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Andre ·

So n persoon in beheer wat na die publiek moet omsien. Die Magoo’s bar was n openbare plek waar die publiek bymekaar gekom het.

Db ·

Hierdie McBride klou soos dinges aan ‘n wolkombers. Niemand gaan hom uit sy possie lig nie hoor

christa ·

natuurlik sal die bomplanter klou want hy weet die ANC kyk baie goed na sy mense ten koste van ons mense. Geld rol in hulle sakke

Maljan ·

Wat praat die man van uitgerekte hofsake? Hy moet n slag onder sy hoed uitklim, alle anc aangeklaagdes volg daardie neiging. Kyk hoe mors hulle held met die vorige pres se sake en malema sn? Net nog n bewys dat malema steeds as anc gesien word

Heinrich ·

McBride het miskien die bom gaan plant maar dit was met die seën van die hele ANC, hulle almal se hande is vol bloed.

Die Verlore Skaap ·

Dit is interresant hoe hulle nou almal teen mekaar draai…..meer en meer. Soos hulle beheer oor hulleself en die land verloor. Hulle maak n skande van hulself en wys vir die res van die wereld hoe geldgierig en korrup hulle regtig is. Hulle kan duidelik nie saamstaan nie.
Dit is hoe die wiel draai ….ne’
Watch this space…..

LouE ·

Ag nee ou Bob man, dis nou eers weer iemand anders se beurt om te gaan skep!

jakes ·

Wat maak dit nou saak of McBride en Cele mekaar aanvat? Dit gaan geen verskil maak aan die swak dienslewering en beeld van die polisie nie. Buitendien Macbride was n kader in die ANC en n glibberige karnallie.

zoom zoom ·

Ek hoop hy split op almal dat ons kan sien of iemand sukses vervolg kan word deur die nuwe Hoof van doe NVG

Gert ·

Hond vreet hond…in n ordentlike land was beide tronkvoëls.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.