Groot taxi-roetes net voor Paasnaweek gesluit

Argieffoto

Bheki Cele, minister van polisie, het aangekondig dat hoof-taxi-roetes in Mthatha in die Oos-Kaap en omliggende omgewings onmiddellik en onbepaald gesluit is. Dit is as gevolg van voortslepende konflik in die bedryf wat sedert 2016 die dood van meer as 60 mense tot gevolg gehad het.

Nonkululeko Phokane, woordvoerder van die polisie, het gesê die roetes wat beïnvloed gaan word, is onderskeidelik die R61 en die N2-wisselaar na Maclear en Tsolo.

Volgens Phokane het die provinsiale regering verskeie ingrypings in werking gestel, insluitend die ondertekening van die vredesverbod tussen die onderskeie taxi-verenigings. “Alle pogings het tot dusver misluk.”

Cele het gesê die selfsugtigheid van die taxi-industrie moet in die wiele gery word. “Ons kan nie aanhou om liggame te tel nie. 60 mense is ʼn groot getal; die sterftes moet stop óf die taxi-operateurs gaan hul besigheid verloor. Die roetes behoort aan die burgers van die land en is nie daar om deur taxi-base gemanipuleer te word vir selfsugtige finansiële gewin nie.”

Cele het toegegee dit is nie die eerste keer dat die besluit om die roetes te sluit geneem is nie. “Wat dié keer anders is, is dat ons die roetes onbepaald sal sluit – tensy daar gehoor gegee word aan die vredesverbod.

“Ná die verbod geteken is, is 13 mense al dood en 17 sake van poging tot moord word ondersoek. Ons is nie ʼn piesangrepubliek nie, daarom kan hul aktiwiteite nie soos normaalweg aangaan nie. Die taxi-besighede kan eerder op hul knieë gaan in stede daarvan om as begrafnisondernemers op te tree,” het Cele gesê.

Cele het saam met Weziwe Tikana, die LUR vir vervoer, veiligheid en skakeling, lt. genl. Liziwe Ntshinga, die provinsiale polisiekommissaris, asook die hoofbeamptes van die twee hoof-taxi-operateurs van Uncedo Services Taxi-vereniging en Border Alliance Taxi-vereniging vergader.

“Die gesprekke het tot ʼn einde gekom sonder dat enige van die partye verantwoordelikheid geneem het vir die voortslepende geweld.”

Dié geweld het al die lewens van operateurs en onskuldige pendelaars geëis.

Phokane het verder gesê die polisie se ondersoek is in ʼn gevorderde stadium. ʼn Span gespesialiseerde magte is op strategiese en plofbare liggings ontplooi om wet en orde te handhaaf en polisieteenwoordigheid te verhoog.

48 mense is al in verband met die sterftes in hegtenis geneem.

Cele het gesê hy is bereid om met taxi-operateurs te vergader wanneer hulle gewillig is om ʼn langtermynoplossing te vind vir die voortslepende taxi-konflik in die Oos-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hansmy.t ·

Ons is nie n piesang republiek nie? Dis nuus! Wat is ons dan? Guptastan?

PJC ·

Die minister moet dieselfde doen met roetes waar hulle nie verkeersreëls gehoorsaam nie. Dit sal salig wees om van die klomp ontslae te wees.

Lydia ·

Ons is nie eesd meer n piesang nadie mie. Nog net die skil is daar. Ons het almal op die Zuma skil ons alies gesien ,!

Cherokee ·

Die berig laat my wonder of daar nie dalk selfs meer mense die lewe laat in taxi-oorloë as in plaas-oorloë.

Piet Pompies ·

Aangesien die Toyota taxi by die berig verskyn, gaan Toyota dan ook sy minibus recall…

Hanna ·

Omtrent tyd dat die eienaars en operateurs van hierdie doodskiste-op-wiele in die bek geruk word, want hulle blyk onaantasbaar te wees. Kom ons hoop Cele staan vas!

Sarel Strydom ·

60 Mense dood in Taxigeweld??? Wat van die ander wettelose plunderings en moorde wat daagliks gepleeg word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.