Groot terugslag vir Gidion: ‘Hy is nou in God se hande’

Tuschka Reynders sê haar seun, Gidion, is nou in God se hande. Dié foto is op 22 November op Facebook geplaas. (Foto: Facebook via Gidion’s blessed life)

Die negejarige anemielyer Gidion du Toit is in ʼn kritieke toestand nadat hy twee hartstilstande gehad het.

Tuschka Reynders, Gidion se ma, sê die ouerpaar “vat dit nou minuut vir minuut” en bly heeltyd langs Gidion se hospitaalbed. “Die dokter sê Gidion is nou in God se hande. Hulle het alles gedoen wat hulle kon,” het Reynders Sondag op die “Gidion’s blessed life”-Facebook-blad geskryf.

“Die slegste scenario is dat hy nog ʼn hartstilstand kry en dat dokters hom nie sal kan red nie. Of hy kan stadig beter word. Ek volstaan by dít. Ek glo opreg hy is nie in sy liggaam nie. Dat God hom styf in sy skoot vashou terwyl sy liggaam óf herstel óf versleg. En dat Hy [Gidion se] gees weer sal laat gaan wanneer sy liggaam sterk genoeg is. Die volgende 48 uur is krities.”

Gidion se verhaal het van meet af mense reg oor die land aangegryp met duisende wat vir die jong seun bid. Gidion is by geboorte met Fanconi-anemie gediagnoseer, ʼn genetiese siektetoestand wat die beenmurg aanval. Die enigste hoop was ʼn beenmurgoorplanting.

Die pad tot by dié oorplanting was vol hindernisse en probleme, maar op 24 Oktober het Gidion uiteindelik sy langverwagte oorplanting ontvang.

Sedertdien was Gidion se herstel op en af, met sommige dae wat hy beter lyk en selfs aan pizza in sy hospitaalbed smul, net om die volgende dag weer ʼn terugslag te kry en erge pyn te ervaar.

Saterdagoggend het Reynders gesê Gidion het vyf keer stuipe deur die nag gekry. Hoewel skanderings getoon het dat hy nie erge bloeding opgedoen het nie, het dokters gevrees daar kan wel klein bloedings op sy brein wees.

Gidion du Toit voordat sy toestand só versleg het, dat hy na die Rooikruis-kinderhospitaal oorgeplaas moes word. (Foto: Facebook via Gidion’s blessed life)

Gidion is dieselfde dag na die Rooikruis-kinderhospitaal oorgeplaas waar hy in die waakeenheid opgeneem is. Reynders het verduidelik hoewel die beenmurgoorplanting suksesvol was, ervaar Gidion nou ernstige komplikasies met sy lewer, niere en hart en kry hy nou stuiptrekkings. Dit was dus nodig dat Gidion oorgeplaas word sodat hy deur ʼn hele span mediese dokters behandel kan word.

Teen Sondagoggend was daar nie goeie nuus nie. “Gidion het twee hartstilstande gehad. Sy linkerlong het platgeval en iets blokkeer die linker lugweg en die dokter het geen idee wat dit is nie,” het Reynders geskryf.

“Suurstofsaturasie is nie te sleg met net die een long nie, maar die ossilator is op maksimum suurstofkapasiteit. [Hy ontvang ook] ʼn hoë dosis medikasie om sy hart aan die gang te hou. Die dokter is bekommerd oor sy brein – hy was vir agt minute sonder suurstof en toe weer vir vier [minute].”

Vroeg vanoggend is peritoneale dialise op Gidion gedoen, ʼn proses waardeur ʼn pypie by die buik ingesit word en ʼn oplossing genaamd dialisaat gebruik word om afval en vloeistof uit die liggaam te spoel aangesien Gidion se niere nie werk en sy liggaam dit dus nie self kan doen nie. Teen 04:30 het Reynders gesê die prosedure het goed gegaan, aangesien Gidion se bloeddruk stabiel gebly het en daar minimale bloeding was.

Gidion is egter ver van buite gevaar en Reynders sê hulle kan nou net bid dat die Here sal ingryp en hul seun sal genees. “Gidion het God se engele wat gestuur is om rondom hom te staan en hom te beskerm, asook die ongelooflike personeel wat saam met ons baklei. Die dokters, die verpleegsters … almal is wonderlik. Ons bid vir ʼn algehele ommekeer, maar spesifiek vir sy niere, lewer, hart, brein en longe. Asseblief God, beskerm ons seun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Willa ·

Aan die ouers – my hart gaan uit na julle!!! Geen ouer wil sy kind so sien nie – eintlik glo ek…geen mens wil kinders so sien nie!!! Ek weet God het n plan vir hierdie seun van julle – hy is n ongelooflike dapper vegter!!! Mag hy volkome genees – ek bid vir julle almal!

Elsabe Ras ·

Jul is in my gebede. Baie sterkte. Mag Jesus jul almal dra in hierdie moeilike tyd.

MissDemeanor ·

God werk ook maar net deur die hande van dokters en wetenskaplikes.

Trix ·

Missdemeanor jy het duidelik geen kennis van die Groot Geneesheer nie! Hy spesialiseer veral in gevalle waar mensehande faal.

Lollie ·

Sterkte! Ons sal nie ophou met bid nie. Slegs God het die antwoord.

VanAfrika ·

Ag Heer lê hande op hierdie kleinding. Al wat hy ken is om siek te wees. Gun hom n lewe van absolute gesondheid. Heer dis net U wat hom nou kan gesond maak, dis in U wil. U is nou sy Groot Geneesheer en ons vra dat U hierdie siekte sal hokslaan sodat Gidion hierdie Kersfees saam met sy familie kan geniet en U geboortedag saam met hulle kan vier. Lê U Hande op hierdie liggaampie en laat hom die wondere van U genesing voel. Vader ons lê nou hierdie seuntjie in U hande sodat U, U werk vrygewig kan doen. Ons bid dat ons n wonderwerk gaan aanskou en ons sê dankie dat U hierdie seuntjie met U liefdie gaan genees.

Gesiggie ·

Baie sterkte! Hou aan veg Gideon, moet nooit moed opgee nie. Jesus liefde vir julle hele gesin xxxxx

Tannie ·

Die trane loop….

Ag Here, wees asseblief vir Gidion genadig. En hou sy geliefdes styf vas, want hulle kry bitterlik swaar saam met hom.

Al ·

Ek lê Gidion voor U neer waar hy soveel pyn en siekte in sy kort lewetjie het.
U is ñ almagtige geneesheer, ons bid vir ñ wonderwerk, o Christus.

Ronel ·

My hart is so seer vir julle hartseer! Mag die Here julle genadig wees, mag julle krag kry om aan te gaan en te aanvaar dat Sy wil sal geskied. Baie baie sterkte.

Yvonne ·

Baie sterkte aan die ouers. Ouers ,wees dankbaar vir jul gesonde kinders. Ek weet ek is, al dryf hulle my soms teen die mure uit.

TN ·

Trix ___ wat NOOIT gebeur nie . Kon die ou mense dan nie bid nie of waarom dink jy het die lewensverwagting al soveel opgegaan ?

Rina Kotze ·

STerkte aan die ouers en klein Gideon!

Hou net vas aan ons Hemelse Vader. HY is die GROOT Dokter.

Beatrix ·

Jul het n lang en swaar pad gestap… tree vir tree het God jul by gestaan, dit is so erg om te dink dat n mens deur soveel hartseer moet gaan. Maar Onse Vader weet beter En Hy sal Gidion stuif vashou en Sy Engele stuur om oor hom te waak. Sterkte aan jul almal , ons Glo en Vertrou…..

Lola ·

Ai Cornelis en Tuschka, julle engelkind sit op God se skoot. Die is ‘n klein mannetjie met ‘n groot lewenslus en ‘guts’ wat menige mense se lewens net positief aanraak.

Lola ·

Cornelis en Tuschka, julle engelkind sit op God se skoot. Hy is so geliefd.

Andrea ·

Ek kry julle so bitter jammer. Mag die Here vir Gideon volkome genees. Hy kan, want Hy is almagtig, die Groot Geneesheer, die een wat wonders kan doen. Daarom kan ons aanhou bid en vra vir ‘n wonderwerk vir julle. Baie sterkte.

InSkaamte ·

En hier sit en moun ek oor die weer terwyl hierdie gesin deur verskriklike hartseer gaan…. Ek is so hartstogtelik jammer vir jul pyn en seer

Franci ·

Liefste ma en pa, my hart gaan uit na julle. Twee van my susters het FA gehad- my jongste sus is 26/10/2018 oorlede. Ons ken Die pad… Ek bid vir Gidi en ook vir julle. Daar gebeur Die grootste wonderwerke wanneer mens dit Die minste verwag. Xxx

Tertia Human ·

Gideon, groot seun jy is n GESKENK VAN GOD…. weet dat PAPPA JESUS net vir jou die beste wil he. Ons bestraf alle siektes in die NAAM VAN JESUS EN NEEM NOU ONS SKULD OP en dank ons HEMELSE VADER VIR GENESING. Sterkte Mamma en Pappa ONTHOU NET BY GOD IS NIKS ONMOONTLIK NIE. soentjie en drukkie hom vir my part asb.

hannelie ·

Liefde Gidion, weet net ons Pappa gaan saam met jou en jou ouers hierdeur. Mag Hy jul vashou in hierdie onseker tyd. Ons bid vir julle xxx. Sterkte grootman.

E ·

Liefste Tuschka,

Wees vertroos in die wete dat God kinders vir ons leen. Ja, dis ons kinders, maar God leen hul en dus is ons almal Syne. Wees vertroos in die wete dat maak nie saak wat gebeur nie, God se wil sal geskied. Bly gewortel in Hom Tuschka en weet verseker dat God se plan vir ons altyd volmaak is.

Baie liefde vir julle.

Byps du toit ·

Ek is Conrad se ouma, hy en Gidion selfde tyd gebore… Ek het die afgelope amper 10 jaar saam Christina hulle gebid. Sterkte , ek is sprakeloos.. Dink en bid vir julle… So jammer vir julle. Liefde

Marius ·

Baie baie sterkte aan jul as ouers en familie. Jul is beslis op ons gebedslys. Vertrou op God, Hy sal jou nooit ooit teleurstel nie. Hy as Skepper God het die soewereine mag om ja/ nee/ wag ‘n bietjie te se. As Hy nee se, moet nie Hom kwalik neem nie Hy staan steeds jul by en dra jul op Sy Hande van Liefde en Genade. Onthou Jesus het die dood oorwin aan die kruis lank gelede.
Namens my en my gesin in Australie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.