Groot terugslag vir Parys-boere-verhoor

Van links is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Maroela Media.

Die opspraakwekkende verhoor van ses mans van die Parys-distrik in die Vrystaat wat aangekla word van die moord op twee vermeende plaasaanvallers, het Woensdag sy grootste terugslag nóg beleef toe die verdediging se regspan hom aan die saak onttrek het.

Dit kom nadat een van die beskuldigdes, Boeta van der Westhuizen, vroeër vandeesweek in die verhoor getuig het. Die staat het verlede week sy saak gesluit en die verdediging het hierdie week begin om getuies te roep.

Van der Westhuizen word saam met sy seun, Loedie van der Westhuizen, asook Anton Loggenberg, sy seun Cor Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo en Miela Janse van Vuuren aangekla van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeba. Die staat beweer die ses beskuldigdes was deel van ʼn groep boere in die gemeenskap wat op 6 Januarie 2016 vir Tjixa en Jubeba op die plaas Swartklip aangekeer en só erg aangerand het dat hulle later in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Parys Gazette berig adv. Koenie Pieterse wat vir al ses die beskuldigdes verskyn het, asook prokureurs Hannes Grimbeek wat Prinsloo verteenwoordig het, en Kobus Burger wat Anton, Cor, Loedie en Jansen van Vuuren verteenwoordig het, het hulle aan die saak onttrek weens ʼn moontlike botsing van belange.

Gideon Mandelstam, wat net vir Boeta verteenwoordig, sal aanbly as opdraggewende prokureur. Boeta sal egter ook ʼn nuwe advokaat vir verskyningsdoeleindes moet aanstel.

Die verhoor sal dus nie hierdie week verder kan voortgaan nie en regter Corné van Zyl het die saak tot 8 Junie uitgestel om die beskuldigdes kans te gee om elkeen sy eie regsverteenwoordiger te kry.

Boeta van der Westhuizen en Anton Loggenberg. Foto: Mariné Lourens

Volgens Parys Gazette het Pieterse aan regter Van Zyl gesê dat hul opsies aan al die beskuldigdes verduidelik is, en dat Anton en Jansen van Vuuren hul eie regsverteenwoordiging sal kry, terwyl Prinsloo, Cor en Loedie sal aansoek doen om regshulp.

Die botsing van belange waarna verwys word, is sekere dele van Boeta se getuienis wat nie ooreenstem met van die ander mans se weergawes nie. Dit maak dit dus onmoontlik vir een advokaat om al ses beskuldigdes te verteenwoordig indien hul weergawes verskil.

Regter van Zyl het in die hof gesê dat dit ʼn baie ongelukkige situasie is, maar dat sy gegewe die omstandighede geen ander keuse het as om die saak weer eens uit te stel om die beskuldigdes toe te laat om regsverteenwoordiging te bekom nie.

Hierdie is nie eerste terugslag wat die voortslepende moordsaak beleef nie. Die dood van Loedie van der Westhuizen sr. (74) vroeër vanjaar was ʼn terugslag vir die verdediging se saak aangesien hulle Van der Westhuizen sr. as ʼn getuie sou roep. Die verdediging voer aan Tjixa en Jubeba het Van der Westhuizen sr. op sy plaas aangeval en gevlug, wat daartoe gelei het dat hulle deur ʼn groep boere aangekeer is.

Kort daarna is die verdediging deur nog ʼn terugslag getref toe adv. Nico Dreyer (54), wat deel van die verdediging se regspan was, in Januarie dood is.

Lees alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.

*Inligting in berig met vergunning van Parys Gazette.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Koos ·

Ja-nee, as hulle lankal ordentlik gekonsulteer het sou die botsing mos doerietyd al aan die lig gekom het? Snaaks dat pa en seun nie eers selfde regsverteenwoordiger gebruik nie. Die wiele begin nou afkom…

Cherokee ·

Daar behoort tog getuies te wees wat kan getuig oor wat Loedie van der Westhuizen (snr) vertel het van die gebeure. Toegegee, hy kan nie onder kruisverhoor geneem word nie maar daar sal of behoort heelwat mense te wees met wie hy gepraat het daaroor en hulle kan ondervra word en dit behoort as getuienis te kan dien om te hoor of hulle, as afsonderlik ondervra word, ten minste min of meer dieselfde storie vertel.

Arizona ·

Hi Cherokee. Hoor se getuienis is nie toelaatbaar in die Hof nie

Regshulp ·

Daar moet n oorsese fondsinsamelingsprojek geloods word om geld vir regshulp in te samel vir mense wat net hulself probeer verdedig maar dan deur die regering opgesluit wil word.

Wonder ·

Die boere moet vir Gerrie Nel kry. Hoeveel boere moordenaars is nou weer gevang en hoeveel sake is op die hofrol? Wonder maar net.

Alida ·

Wanneer gaan julle dit in julle koppe kry dat Gerrie Nel goed doen as om mense in howe te verdedig. Julle bly vashaak by die man.

Theresa ·

Hoe kan mens help – dit moet uitmergelend vir hierdie mense wees!?

B-man ·

Sekerlik nie so uitmergelend soos dit vir die oorledenes was nie…

Willie ·

Skrikwekkend hoe die skuldiges wegkom en die onskuldiges aan die pen moet ry.. En derduisende as regshulp moet kry….

Ai ·

AG asb tog .. arme manne .. al sou hulle ook onskuldig wees, hulle is wit en het nie ‘n kans op ‘n regverdige verhoor nie.

Blommie ·

Net maar weereens n bewys dat ons wit mensies nie kan saam staan nie.
Sterkte

Piet OVS ·

skuldig of onskuldig, maak nie regtig saak nie hierdie het lankal n politieke saak geword.
hulle sal skuldig GEMAAK word.

Darkhorse ·

Maar ons mense mag maar openlik gedreig word en doodgemaak word. Hulle gaan uit om ons dood te maak en as jy jouself verdedig kom JY in die moeilikheid. Hierdie land is in sy GLORY in!!!

Piet ·

Aan julle naasbestaandes wil ek net se dat ek baie aan julle dink, want ek was self in so situasie. Daar daar was nie verraaiers teenwoordig nie, die staat kon dus nie ‘n saak teen ons bewys nie – ek kan net God daarvoor dank. Ek was totaal onskuldig maar ek kan my indink watter tipe kommentaar daar sou wees op MM indien ek gevonnis sou word. Staan sterk in jul geloof. Groete Piet.

Elize ·

Van die begin af, het ons mos geweet dit gaan n ellelange hofsaak wees en dat hulle skuldig bevind gaan word… Wat ek wil weet is, waar die moordenaars van al die duisende blankes, vandag is en moenie vir my se hulle sit in tronke nie??? Net vir interresantheid-halwe, weet enige iemand, waar die moordenaars van E. T. is?

Piet ·

Jip, die minderjarige een het aanklagte vrygespring en ek dink die ander een is lank reeds uit die tronk ontslaan. Hoewel dit duidelik was dat een of ander sexdade voor of na ET se dood met hom gepleeg was is dit van die klagstaat veweider.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.