Groot uitdagings in SA onderwys, maar sukses ís moontlik

Argieffoto

Argieffoto

Suid-Afrika kry glo nie waarde vir geld vir die meer as R160 miljard wat jaarliks nasionaal aan onderwys bestee word nie.

Verskeie onderwyskundiges het gister by ’n konferensie van die Rapport Onderwysfonds (Rof) enorme probleme met burokrasie en ondoeltreffendheid aan regeringskant uitgewys wat tot gevolg het dat onderwys nie uit die moeras waarin dit tans is gelig kan word nie.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het gesê die meeste openbare skole is in KwaZulu-Natal, Limpopo en die Oos-Kaap en elkeen van die drie provinsies is in ’n verbete stryd om te kyk wie die swakste kan presteer.

Hy het na private skole verwys en gesê privatisering van skole is nie vir Suid-Afrika ’n opsie nie en dat dit in die belang van die land is dat openbare skole reggeruk word. Harde werk is egter in die opsig nodig, in die lig daarvan dat 60% van openbare skole disfunksioneel is. Omtrent net 3 000 van die 24 000 openbare skole is werklik produktief.

Colditz het van die probleme toegeskryf aan ’n gebrek aan leierskap op verskillende vlakke, burokratiese rompslomp, en die politieke rol wat die onderwysvakbond Sadou in skole speel.

Die ekonoom Dawie Roodt het in breë na die Suid-Afrikaanse ekonomie verwys wat volgens hom in die moeilikheid is. Hy het gesê staatsbesteding het sedert 2007 skerp toegeneem wat betref salarisse van staatsdiensamptenare en toelaes wat aan meer as 17 miljoen mense betaal word. Dit het die land se inkomste onder druk gebring en ekonomiese groei laat afneem.

Roodt voorspel dat die ekonomie dalk volgende jaar met 1,5 % sal groei, terwyl 5% nodig is. “Die fiskale beleid is in die moeilikheid en die regering kan eintlik net een van twee dinge doen. Dit is om besteding aan salarisse en toelaes te verminder of belasting verder te verhoog.”

Roodt het na lae produktiwiteit verwys en gesê onderwysers is wat hom betref “oorbetaal en onderwerk”. Dit is een van die redes waarom daar geen verbintenis is om gehalte te verbeter nie.

Hy het voorts gesê daar behoort met geen-skoolgeld-skole weggedoen te word omdat al hoe minder leerlinge soontoe gaan en dit nie die moeite werd is nie. Hy meen die staat behoort nie by onderwys betrokke te wees nie en belastinggeld moet só aangewend word dat mededinging tussen skole toeneem en die keuse van skole aan leerlinge en gemeenskappe oorgelaat moet word. Dieselfde geld die huidige storm rondom godsdiens in skole. “Openbare skole moet meer outonomie hê en die besluite behoort by ouers en gemeenskappe te lê,” het Roodt bygevoeg.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het in sy aanbieding gesê vir ’n staat om suksesvol te wees, moet die staat-, private en burgerlike sektor suksesvol wees. Die staat kom egter nie meer sy verantwoordelikhede na nie en aktiewe burgerskap is nodig.

Buys het ’n beroep op skole en onderwysers gedoen om leerlinge aan te moedig en voor te berei om selfstandig te word in plaas van om van die staat afhanklik te wees.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het gepraat oor onderwysersopleiding vir die toekoms. Hy het gesê daar gaan in die nabye toekoms ’n groot uitdaging wees om goeie hoofde, adjunkhoofde en departementshoofde vir skole te kry. Daar is reeds ’n aanduiding dat daar ’n toenemende tekort aan onderwysers in die ouderdomsgroep 30 tot 50 jaar is.

Klopper het die probleem met geletterdheid en gesyferdheid in skole uitgewys en gesê te veel klem word op wiskunde geplaas terwyl kinders vandag nie kan lees of skryf nie.

Hierdie tendens is deur prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit bevestig. Hy het gesê studente is onvoorbereid vir tersiêre studie en hulle betree universiteite met baie oppervlakkige kennis.

Dit het tot gevolg dat die nasionale voltooiing- en sukseskoers van studente maar 44% is. Die hoë uitvalkoers en onsuksesvolle prestasie van studente beteken ’n verlies van sowat R1,3 miljard per jaar vir die staat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

HEVW ·

Voorwaar n baie steil bergpas om te gaan. Gaan daar n omdraai en sukses wees? Ja, as die regering die aanbevelings ter harte neem, maar dit is te betwyfel. n Laaaaaaaaaaaaaaaaaang pad om te stap!!!!!!!!!!!.

Henrietta Klaasing ·

Colditz is reg: een van die hoofoorsake van die swak prestasies is die onderwysvakbond SADOU. Niks gaan verander nie, tensy die GESINHEID van onderwysers by swakpresterende skole kan verander word. Die persoon/persone wat DIT kan regkry, moet vir ‘n NOBEL -prys genomineer word. Daar is net 2 dinge wat mense motiveer: die “wortel” of die “stok” ( soos om ‘n donkie aan die loop te kry) – myns insiens is albei al probeer maar niks het gewerk nie.

onderbetalde-oorwerkte onderwyser ·

Roodt het na lae produktiwiteit verwys en gesê onderwysers is wat hom betref “oorbetaal en onderwerk”.

Dawie ,jy weet nie waarvan jy praat nie. Ek dink diS n baie swak opmerking – ek daag jou uit om bietjie n paar dae in top-medium en agtergeblewe skole te spandeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.