Groot verhoging vir bestuurders in Tshwane-metro

Foto: Argief

Terwyl belastingbetalers in die hoofstad gebuk gaan onder verhoogde elektrisiteitstariewe en ander munisipale verpligtinge het die Tshwane-metro stil-stil ʼn salarisverhoging van 18% vir senior bestuurders geïmplementeer.

Die verhoging val saam met die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) se opgradering van die stad van ʼn kategorie 9- na ʼn kategorie 10-munisipaliteit. Die verhoging is ook bykomend tot die 6,5% jaarlikse salarisaanpassing wat alle werknemers van die munisipaliteit ontvang het.

Die verhoging word hierdie maand van krag hoewel die verslag met die aanbeveling reeds op 17 Oktober verlede jaar voor die burgemeesterskomitee gedien het en toe ook goedgekeur is.

Tshwane bestee tans bykans 30% of R10,5 miljard van die stad se begroting aan salarisse van personeel en die 18% verhoging tree in werking ten spyte van die feit dat dit na bewering strydig is met die Nasionale Tesourie se aanbeveling dat stadsrade hulle salarisbegrotings moet besnoei.

Terselfdertyd is daar ook die afgelope tyd voordurend oproepe gedoen dat die metro onder administrasie geplaas moet word as gevolg van sy benarde finansiële status, hoewel dit in die media ontken word.

Groephoofde en uitvoerende direkteurs wat vir die ekstra 18% kwalifiseer verdien reeds salarisse van soveel as R2 miljoen rand per jaar en is na bewering meestal politieke aanstellings.

Dit beteken dat hulle sonder die vereiste kwalifikasies en ondervinding deur die ANC in poste geplaas is toe dié party in beheer van die stad se administrasie was. Dis glo veral gesinslede van destydse raadslede wat so aangestel is.

Die DA het egter daarop voortgebou nadat dié party in 2016 aan bewind gekom het. Marietha Aucamp, Samkelo Mgobozi en Stefan de Villiers is sonder dat hulle aan die vereistes voldoen het in uitvoerende poste in die vorige burgemeester, Solly Msimanga, se kantoor geplaas. Al drie is later ontslaan toe dit bekend geword het.

Die DA het ook sekere senior kontrak-poste na permanente aanstellings verander en die 18% verhoging is juis op hierdie werknemers se salarisse van toepassing. Die verhoging kan selfs vir meer as 12 maande terugwerkend wees, afhangende van ʼn werknemer se permanente aanstellingsdatum.

Die munisipalewerkersvakbond, Samwu, sê dis onaanvaarbaar dat die waarnemende stadsbestuurder, Lorette Tredoux, die verhoging op geselekteerde wyse implementeer en dat werknemers op direkteursvlak en laer daarvan uitgesluit is. “Dit wys net weer daar is ʼn groot aptyt vir selfverryking,” sê Samwu se streeksekretaris, Mpho Tladinyane.

Die vakbond eis dat die verhoging deur die bank aan al Tshwane se werknemers gegee moet word. Tladinyane beweer dié wat uitgesluit is doen juis die werk en maak seker dat dienste in die stad gelewer word.

Samwu hoop om Dinsdag (16 Julie) terugvoering aan sy lede te gee. Die vakbond oorweeg dit om hom tot die hof te wend as daar nie vinnig aan sy eise gehoor gegee word nie.

Tshwane se mediaskakelbeampte het nie op navrae reageer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Koos ·

DA, ANC, EFF almal dieselfde. Kan nie wag vir die volgende provinsiale verkiesing nie. Ek hoop ons kan almal saamstaan om die spul uit te stem en weg te jaag. Dienslewering was nog nooit so swak in PTA nie, nie eers onder die ANC nie. En ons rekeninge word gemanipuleer om geld te genereer. Hoekom is Solly net so weg? En hoekom stem die ANC saam met die DA vir die begroting? En beide partye doen media verklarings! Hier gaan meer aan as wat die DA en kie wil hê ons moet weet.

HAWK ·

Stem saam. Het 2 weke terug waterrekening van meer as R30 000 gekry, (agv “verkeerde” meter lesing). Sukkel my alie af om te probeer keer dat my dienste gestop word!

Amanda ·

Nou word hulle nog meer betaal om niks te doen nie. Se nogsteeds, die diens wat ons ontvang hoef ons nie Munisipaliteite te he nie!!!

Sarel ·

6,5 % teenoor 18% . Moet eintlik anders om wees. Nee wat DA Tswane mask droog gaan volgende keer weer die Metro verloor want klink meer na ANC ! Stel werklik teleur.

Jacques ·

Die staatsdiens is die enigste maatskapy in die land waar jy oornag skatryk kan word . Dit is n skande en net nog n voorbeeld dat die top bestuur nie dink aan die normale man op straat nie solank hulle net baat vind daarby .

staatsdiens kollega ·

ek wens dit was so. ek werk maar ook vir staats maar is glad nie skatryk nie… verdien ook n peanuts salarie :(

Gert van Wierdapark ·

Dis nou stank vir dank vir die party wat ingestem is om ‘n Verandering mee te bring aan Tshwane se diens en geldsake!!! Die politieke geheueverlies gaan jul met die “Blinde Sambok” bykom in die 2021 munisipale verkiesing!!!

Philip ·

Nee wat almal dieselfde. Dis tyd dat die belasting betaler aksie neem en hulle belasting in trust betaal totdat reg geskied.

Gerhardb ·

Jammer om te hoor, die wat by enige van die drie Grotes sy kruisie getrek het, julle kry waarvoor julle gestem het….Sterkte.

Pieter ·

Ek stem saam jou maar dit is ons eie skuld ons praat te veel en doen te min vat hulle geld weg dis al

Oujongvrou ·

As ek en my ou beste net 10 jr jonger was het ek skedarrel na ander land. Enige plek solank dit nie in Afrika is nie. Maar helaas, hier sit ons nou????????

Gert van Wierdapark ·

Mooi opgelet in “Die Klas”! Skep terwyl jy kan!!!

M ·

Ai mense, as julle maar weet wat alles in die Raad aangaan. Dan sal julle elke druppel water en liggie waardeer. Dis angswekkend.

Johan ·

Makie sakie. DA én ANC skep almal sommer baie lekker. Groot salarisse kom eerste…. Daarna dienslewering!

Nou ja ·

En so sal ons getap word tot nie eers meer ‘n geraamte oorbly om die spul net nog dikker te voer. Mense is werkloos, kry karrige salarisse en soms geen of ‘n spoegseltjie verhoging waarvoor jy jou jis moes afwerk want jy moet mos maar te dankbaar wees jou bleeksiel het nog ‘n werk in die nuwe SA – ag laat ek liewer stilbly

honourable member ·

Dis deur hierdie mense dat elke liewe munisipaliteit bankrot is. Hoe hulle nog vir verhogings kwalifiseer sal net hulle weet.

sweis ·

Die DA is net soos die ANC en eff hulle kan nie vertrou word nie en bewys dit oor en oor

Deon ·

WAARSKUWING: Pretoria inwoners, wees versigtig wanneer die krag en water afdeling sonder waarskuwing jou water- en kragmeters vervang. Jy kom dit eers agter wanneer jy laatmiddag by die huis kom. Die nuwe meters begin wel by 0, maar ‘n paar maande later toon jou munisipale rekening dat die finale lesing van die vorige meters baie meer is as wat dit werklik was. Jy weet wat was die laaste lesing, maar die munisipaliteit soek bewyse, net soos wat ek nie bewyse kry vir die finale lesing nie. Die vorige paar maande is nie eers melding gemaak van die vorige meter nie. Die finale lesing is dan die “actual”, en word nou voorgegee as die “regstelling”. Dit is myns insiens bedrog. Ek is nou besig om dit met my DA raadslid op te volg, maar ek werwag nie veel sukses nie. Enige ander inwoner net dieselfde probleem?

piet piet ·

Die probleem gaan nie opgelos word deur jou DA raadslid nie hulle werk nie graag nie maar kry n groot salaris probeer Afriforum of VF+Ek het gevind hulle help regtig.

Sinies ·

Hulle is wetlik verplig om die meters vir n tyd lank te hou.
Verklaar n dispuut en voeg daarby dat hulle die meter in bewaring moet hou tot die dispuut opgelos is.

Koos de Meyer. ·

Melk sal hulle ons melk, waar is hulle kamstige verkiesings beloftes. Hulle smeer heuning om jou mond en slaan jou met ‘n doring tak op jou agter strewe. Vinkel en koljander, die een is soos die ander.

Petrus ·

Die metro is opgegradeer danksy meer plakkers wat instroom. Nou weet ons waarom die metro tevrede is met die instroming. Die aantal belastingbetalers groei minimaal, maar moet die stygende munisipale uitgawes betaal. Intussen gaan die verouderde infrastruktuur agteruit. Pype bars, en krag onderbrekings is algemeen. Die DA is erger as die ANC.

erwin ·

Dis n skande dat mense betaal word en nie die werk doen nie .
Om n eiendom se klaringssertifikaat te kry neem tot maand en dan moet mens meeste van die tyd die dokumente tot 3 keer instuur . ek is kinderlik ongelukkig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.