Groot verkeersprobleme toe voertuig op N1 vlamvat

Die brandende voertuig. Foto: Twitter

ʼn Ligte afleweringsvoertuig het Vrydagmiddag hewige verkeersopeenhopings op die N1 Noord in Pretoria veroorsaak nadat dit omgeslaan en vlamgevat het.

Talle inwoners het hulle tot sosiale media gewend om foto’s van die dik, swart rookwolke, die brandende voertuig en rye stilstaande voertuie op die snelweg te deel.

Die voorval het omstreeks 12:45 op die N1 Noord net voor die Garsfontein-afrit gebeur. Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê hul paramedici is ook na die toneel ontbied.

‘n Lugfoto van die toneel. Foto: Verskaf

“Volgens getuies op die toneel het die bestuurder van die voertuig, waarop olie vervoer is, beheer oor die voertuig verloor en dit het omgeslaan en gevolglik aan die brand geslaan,” sê Herbst.

“Daar word beweer daar was drie mans in die voertuig, maar hulle het glo die toneel verlaat voor die nooddienste opgedaag het.”

Herbst sê die brand-en-reddingsdienste het die vlamme geblus, terwyl wetstoepassers die verkeer herlei het. Die verkeersvloei op die snelweg was teen laatmiddag steeds traag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Daniel ·

Wonder altyd hoe gooi jy ‘n voertuig om op ‘n reguit stuk pad? Kan met roekelose bestuur wees.

Yankee ·

Ja nee. Let ook op. Hulle het die gebied verlaat. Seker lelik gedop!

Lientjie ·

Ek ry daardie pad elke oggend en middag, en die trokke jaar soos die duiwel op daardie snelweg. Hulle voel vir die voertuie net mooi niks nie!

Susan ·

Ons wat daardie pad elke dag ry, sal almal soos een mens sê dat net voor Rigel en tot by Stormvoël net groot lugvraghouers (afr vir box lol) mense ry. Genade maar die mense is super haastig en ongeskik in daardie deel. Elke liewe dag n probleem. Ennnn ek praat nie eers vd bushalte by Stormvoël sommer op die snel nie.

Pieter ·

Dit het reg voor my gebeur. Die voertuig was ‘n wit ouer model Hyundai trokkie. Die bestuurder het van bane verwissel en die momentum van die vloeistof in die twee 1 duisend liter houers (agter op die voertuig) het begin beweeg en veroorsaak dat die voertuig omval. Die insittendes (3) mans het haastig uit die voertuig gepeul en gehardloop omdat dit amper dadelik aan die brand geslaan het. Die vloeistof het brandend oor al die bane geloop en af teen die stormwater sloot tot net voor garsfontein brug se afrit. Twee van die mans was vir ‘n rukkie nog op die toneel en het net skielik verdwyn toe die ander nood en verkeers-dienste op die toneel opgedaag het. Ek het daar net weer gesien hie bloeddorstig mense is. Ek dink amper al die noodienste was verteenwoordig op daardie toneel (sonder grappies).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.