Groot verligting toe Nigel se krag aangaan

Die kontrakteur het Woensdag begin om ’n permanente struktuur op te rig op die plek waar die kragmas was (Foto: Verskaf)

Die inwoners van Nigel is oorstelp van blydskap nadat die kragtoevoer na dié Gautengse dorp Vrydag herstel is. Inwoners moes vir vyf dae sonder krag klaarkom.

Nigel se ligte het Vrydag omstreeks 18:00 aangegaan.

Maroela Media het vroeër berig die krag het verlede Sondag omstreeks 16:30 afgegaan nadat ’n kragmas omgeval en die kragtoevoer na die dorp afgesny is. Kriminele het die boute en moere – wat dié 30 meter hoë kragmas regop hou – glo gesteel.  Die gewig van die kabels en spanning het veroorsaak dat die mas eindelik omgeval het.

Siekes en bejaardes is veral erg deur die onderbreking geraak, kos het in winkelyskaste sleg geword en skoolkinders moet by kerslig leer vir die eksamen. Talle sakeondernemings moes hul deure sluit en plaaslike klinieke kon slegs beperkte dienste lewer.

Die munisipaliteit moes kontrakteurs identifiseer om die herstelwerk van die mas te onderneem. Volgens Wollaston Labuschagne, DA-wyksraadslid in die Ekurhuleni-metro, het dié kontrakteur Woensdag begin om ’n permanente struktuur op te rig op die plek waar die kragmas was.

“Die kontrakteurs het Donderdag en Vrydag onverpoos gewerk. Die krag is Vrydag eindelik herstel,” sê Labuschagne.

Kriminele het boute en moere – wat dié 30 meter hoë kragmas regop hou – gesteel (Foto: Verskaf)

Groot verligting en blydskap het onder inwoners geheers toe die dorp se ligte aangegaan het.

“Ek het van blydskap geskree toe die krag aangekom het. Dit was hemels om weer in warm water te kon stort,” vertel Leoni Swartz, ’n inwoner van Nigel.

Swartz het vroeër aan Maroela Media gesê dat die kragonderbreking ’n groot impak op haar gesin se lewe gehad het. Sy kon nie haar tienjarige seun wat ’n asmalyer is, stoom nie. Hy het by die dag sieker geraak, en kon nie meer skool toe gaan om toetse te skryf nie. Haar 60-jarige ma, wat in ʼn woonstel in Nigel woon, het ook siek geword omdat sy in koue water moes bad en nie ’n gasstoof besit nie.

“Ek kon weer my seuntjie stoom en wasgoed was.”

An du Plessis vertel hulle het groot skade gehad toe boosdoeners Donderdagaand hulle bakkie en kragopwekker uit hul erf gesteel het. Die kragopwekker was op hul NP 200-bakkie gelaai.

“Ons het op ’n punt nie meer geweet watter kant toe nie. Ons begin nou die stukke optel en aangaan,” vertel Du Plessis.

Du Plessis sê hulle is ook verlig dat hul kinders nie meer by kerslig moet leer vir eksamen nie.

Labuschagne sê hierdie situasie is weer eens ’n bewys van infrastruktuur wat ten gronde gaan weens ʼn gebrek aan instandhouding deur die munisipaliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Adri

Omliggende kleiner dorpies soos Balfour en Greylingstad se watervoorsiening was ook geraak omdat pompe nie krag gehad het nie. Mag die misdadigers wat vir die ramp verantwoordelik is, gevang en gestraf word.

Marius Gerhardus

Ons almal ken teen die tyd die “Veranderde” SA. Kom ons maak voorsiening vir die tipe gebeure dis tog niks nuuts nie. En leer in Kers lig…… Dalk eerder dq se daar was kerse beskikbaar. Bq meer positief wees sal ook die lewe vir almal makliker maak. So ja was seker ongerieflik maar niks ontoorkomendlik nie.

Bart-Man

Raak gewoond aan die nuwe normaal.

Hendrik

Mense moet plan maak en onafhanklik raak. Ongelukkig gaan hierdie sabotasies net meer algemeen word.

Danie

En steeds sal niemand daaraan dink om die boute en moere vas te sweis nie.