Groot verligting vir Sutherland op pad

Die boorspan. Foto: Facebook via Gift of the Givers.

Die projek om die gemeenskap van die droogtegeteisterde Sutherland-distrik in die Noord-Kaap by te staan is in volle gang.

Imtiaz Sooliman, hoof van Gift of the Givers, het gesê die eerste 200 bale voer is Vrydagmiddag in dié streek afgelewer. Volgens hom is die voer deur vrygewige boere in die Noordwes-provinsie geskenk.

“Die volhoubaarheid van die streek is egter afhanklik van water. Al 200 boorgate in Sutherland het opgedroog aangesien die watervlakke aansienlik verlaag het weens die ergste droogte in 100 jaar in dié omgewing,” het Sooliman gesê.

ʼn Boorspan is reeds op pad na die dorp en sal Maandag met twee bore in die dorp aankom. “Dit sal gevolg word deur 40 000 liter diesel wat Maandagaand afgelewer word. Dit word deur ons betaal en is om die boorproses van stapel te stuur en 200 nuwe boorgate beskikbaar te stel.”

Die proses sal deur Gideon Groenewald, hidroloog, en Martyn Landmann, boorman, gelei word. Groenewald, wat 35 jaar ondervinding in die veld het, sal Maandagoggend begin met die plasing van nuwe boorgatposisies.

“Later in die week sal ons vragmotors nog voer insamel en aflewer. Dit sal gevolg word deur kospakkies, komberse, higiëniese pakkies en warm klere vir die plaaswerkers, die algemene bevolking asook skoolkinders. Die skoolkinders sal ook voorsien word van voedsame maaltye.”

Maroela Media het in Maart berig Sutherland is een van vele streke in die land waar daar droogte heers, maar weens sy ligging, ver van hoofroetes, kry dié streek min hulp van ander droogtehulpprojekte. Vervoer is een van die groot struikelblokke om voorraad by hierdie streek uit te kry.

Luidens ʼn mediaverklaring van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) is daar destyds droogtebystand met ʼn algehele waarde van R1,04 miljoen bewillig nadat die gemeenskap in die Overbergdistrik hul harte en beursies oopgemaak het.

Enige ondersteuning vir dié projekte is welkom. Bydraes kan aan Gift of the Givers gemaak word. Besoek gerus hul Facebook-blad of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Snuffels ·

Puik man…Fantasties van julle. Ek gaan beslis ook n donasie maak, hoop dat baie van my mede mense dit ook sal doen…baie klein bedrae maak n groot bedrag. Kom ons ondersteun die fantastiese werk!

izette ·

Wonderlike nuus vir n maandag…
Alle of en eer aan die Here…..

Hannelie ·

Die Here seën jul Gift of the Givers!!! Die Here sal voorsien.

Tokkie ·

Om grond te onteien is maklik om te boer en dit volhoubaar te maak is nie so maklik nie – om te boer is n harde ongenaakbare werk- kom ons kyk of die regering se onteieningsplanne gaan werk – gaan die opkomende boere survive tussen droogtes, haelskade, misoeste ens ? Hulle dink dis maanskyn en rose

Ella ·

Dis mooi van Gift of the Givers.
Ek wonder oor die sukses van die boordery.
Is daar nog ondergrondse water beskikbaar?

Izak ·

Boerdery in die wêreld kan suksesvol wees ja. Die droogte kom nou net al n paar jaar aan en boere se finansiele reserwes is uitgeput. In die verlede het die regering hulp aan boere gegee as daar so n erge droogte was. Dit sal weer reen en weer goed gaan met die boere, maar tot dan moed hulle hul skaap op n manier aan die lewe hou en self ook op n manier deurkom.

Wat ondergrondse water aanbetref, is die berig verkeerd. Daar het wel 200 boorgate opgedroog, maar in die hele Sutherland distrik is daar nie net 200 boorgate nie. Daar is nog boorgate wat wel water lewer wat beteken daar is nog water oor. Daar is ook nog baie ondergrondse waterare waaruit water nog nie onttrek word nie, want boorgate boor is nie goedkoop nie.

Buitestander ·

Kan ons protestante geloowges ook nie sulke noodlediging projekte aanvoer nie???
Moet ons altyd staat maak op ander gelowives???

Diklizzy ·

Net vir my interessant dat die boere elk R1000 moet betaal indien hulle by hulle geboor wil hê………..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.