Groot verwagting vir Jansen-opvolger

Jonathan Jansen. Foto: www.ufs.ac.za

Jonathan Jansen. Foto: www.ufs.ac.za

Die Solidariteit Beweging het vandag sy hoop uitgespreek dat professor Jonathan Jansen, huidige rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), se opvolger moeite sal doen om bande met die Afrikaanse gemeenskap, wat ʼn groot aandeel in die vorming van die universiteit gehad het en steeds het, te versterk.

Dit volg na die aankondiging dat professor Jansen op 31 Augustus vanjaar sal uittree.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, meen die UV se raad het die afgelope paar jaar onder Jansen se bestuur, onder meer deur dreigemente om Afrikaans as onderrigtaal af te skaf, die Afrikaanse gemeenskap vervreem. “Die Afrikaanse kultuur en karakter van Kovsies het grootliks help vorm aan die sukses en uitnemendheid van die universiteit. Afrikaans en Afrikaanssprekendes het boonop ʼn reusebydrae tot die akademiese integriteit van die universiteit gelewer. Laasgenoemde kan en mag nie ontken word nie,” het Buys gesê.

Buys het die hoop uitgespreek dat die aanwysing van Jansen se opvolger met die nodige deursigtigheid en agting vir die universiteit se regulasies rondom die verkiesing van rektors sal geskied. “Die onus rus nou op die universiteitsraad om toe te sien dat Jansen se opvolger geskik is om die universiteit te midde van die heersende kultuur van konflik en geweld op universiteitskampusse na nuwe hoogtes te neem sonder om enige taal- of kultuurgroep verder te vervreem,” het Buys gesê.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het intussen gesê die burgerregte-organisasie spreek die hoop uit dat Jansen se opvolger aktief daaraan sal werk om wedersydse erkenning en respek tussen studente op die kampus te bevorder en ook daartoe sal bydra dat die posisie van Afrikaans as onderrigtaal op die kampus heroorweeg word.

Volgens Bailey het vele omstrede uitsprake van Jansen oor rasseverhoudinge en Afrikaanse onderrig daartoe gelei dat die studente toenemend op rasgronde gepolariseer is en dat die weerstand teen Afrikaans as onderrigtaal vergroot het. “’n Nuwe visekanselier en rektor sal die geleentheid hê om verhoudinge op die kampus te verbeter, brûe tussen studentegemeenskappe te bou en ook die waarde van Afrikaans en ander Suid-Afrikaanse inheemse tale te beklemtoon, eerder as om eentalige Engelse onderrig as enigste opsie vir akademiese uitnemendheid te probeer voorhou.”

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit gaan steeds voort met regsaksie teen die UV na die raadsbesluit van dié instelling dat Engels vanaf 2017 die verstektaal daarvan sal word. Jansen se bedanking sal geen invloed op dié saak hê nie.

Bailey het egter beklemtoon dat ’n rektor ’n leidende rol by ’n universiteit speel wat die houding teenoor tale betref, en dat dit weer ’n invloed op die houding van studente, personeel, raads- en senaatslede kan hê.

“In tye waar die toekomstige aard van die universiteitswese sowel plaaslik as internasionaal heroorweeg word, het universiteite sterk leiersfigure nodig wat akademiese vryheid en uitnemende opvoedingsbeginsels soos die bevordering van moedertaalonderrig bevorder sónder om polities of ideologies gedienstig te probeer wees. Hopelik kan Jansen se opvolger sterk standpunt inneem en die universiteit na nuwe akademiese hoogtes help groei,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

John ·

Dis glo ou nuus in Bloemfontein dat die rektor gaan verhuis na die USA. Moenie te hard hoop die opvolger gaan ‘n hartsommekeer maak nie, want die UV- Raad trek nie saam nie. ‘n Vrou as rektor is nie uitgesluit nie, se die wat glo ‘weet’.

johann cb ·

Dit is werklik jammer dat ons ‘n persoon van Prof Jansen se integriteit en kaliber gaan verloop. Sterkte aan u.

Grap ·

Ek stem nie saam hy is ‘n populis net soos sy presedent se een ding maar doen dan iets anders

Leon ·

Nog ‘n groot man met ‘n groot hart verlore vir Suid-Afrika,

Cobus ·

Indien dit nie polities korrek gaan wees nie sal opstande en geweld weet seevier omdat die owerhede nie hulle week mag uit voer nie. Dus verwag maar ‘n politiese aanstelling wat teen Afrikaans gekant is

humor ·

Ons hou maar duim vas of om dit anders te stel ons hoop maar!!! In SA het hoop egter die gewoonte om te beskaam.

jaco ·

hoe gaan jansen nou in amerika optree teen n taal wat ORAL oor die britse empire n taal van onderdrukking was? In meeste britse kolonies was daar probleme. die basics van apartheid was ook maar wette wat die britse koloniale heersers oorspronklik gemaak het

christine ·

Dankie tog jammer maar die people wat by hom gaan oorneem se instruksie is om die oom verder aftekap.wonder net op wie sy vlg instuksies toegepas gaan word die spanjaarde? siestog kry vir julle duidelik soek die komministe n ander afspring plek. Na Donald Trump sy muur gebou het en Suid Afrika van hulle ontslae is.Klink stapel gek maar dis die wereld vandag

Lance ·

Sien ook seker die skrif aan die muur en spaander nou terwyl hy kan …los ons egter met n warm patat

Betzie van Rensburg ·

As daar gepraat word van Jansen se kaliber en integriteit wonder ek waar die veronderstelde gepaardgaande wysheid en insig is as hy in n TV program teenoor Jak de Priester die volgende feit op die tafel sit .

Hoe hy dan nou deur die venster sou staan en kyk na die arme agtergeblewe sieletjies wat by hul skool in die vierkant moet vergader. Sy kaliber kennis laat hom in die steek om te noem dat die gewaande bevoordeelde blanke kindertjies ook maar in vierkante vergader het by gebrek aan n skoolsaal . Konserte , kermisse , klasverkopings is gereël om fondse in te samel .

As mens fyn en wyd luister , kry hierdie reënboog n definitiewe grys skadukant by .

Koos ·

Ek het dit al gesê en ek gaan weer ons moet ophou om energie te mors op dinge wat ons nie kan verander nie vergeet van hierdie piesang republiek se universiteite en help Solidariteit om nuwe universiteite te bou wat ons taal en erfenisse kan voordra sonder om toestemming te kry by die huidige regeerders dit is demokrasie

Sakkie du Plooy ·

Ons Oud Kovsies sien uit na ‘n omgewingsvriendelike aanstelling wat eerlik sal wees en respek sal hê vir die rol van Afrikaners in die opbou van Kovsies in die verlede. Ons vertrou die Raad wat aanstel sal ‘n vrye en wyse keuse doen en hulle nie laat voorskryf deur die Minister of enige politieke instansie
nie.

Xa ·

Ek hoop regtig dit gaan die uitkoms wees maar ek self vertrou geen meer raad in die land nie. Niks.

Johann ·

Hoop die pos word wyd adverteer vir bv n aanslag…skuus…aanstelling uit die geledere van die ANC …ANC JEUGLIGA….ANC VROUE LIGA…Jacob Zuma familie…GUPTAS…Zuma se swartboekie skuldenaars…EFF…ver die EFF…ek bedoel hulle kan net dalk die ideale kandidaat koester in hulle geledere en gevolg? Obviously nie noodwendig gekwalifiseer nie…hoekom dan? Ja…kom ons kyk maar en sien…en hoor…en..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.