Groot vreugde oor R6 000-fooitjie by restaurant

Die fooitjie het ‘n allemintige R6 000 beloop.

“Wanneer daardie klante weer instap, gaan hulle waarskynlik soos die koningmoeder op die hande gedra word.”

Só skerts Enzo Cocca, algemene groepbestuurder by Simply Asia, nadat ʼn klant verlede week ʼn allemintige fooitjie van R6 000 vir werkers by die restaurant se Durbanville-tak gelaat het.

Cocca sê die egpaar en hul twee kinders het Vrydagaand by die restaurant kom eet en is bedien deur ʼn kelnerin genaamd Violet.

“Dit was baie besig – dis ons besigste tyd van die week, maar alles het soos gewoonlik verloop. Hulle het geëet en daarna vir die rekening gevra,” sê Cocca.

Dié het R453 beloop.

Die klant het egter ʼn fooitjie van R6 000 bygevoeg, tot groot konsternasie van die kelnerin. Violet het aanvanklik dubbel seker gemaak dat die klant werklik dié bedrag by die rekening wou voeg en het later selfs die restaurantbestuurder laat kom sodat hy nóg ʼn keer kon seker maak daar is geen fout of misverstand nie.

Die restaurant het meer as een keer seker gemaak die klant het die regte bedrag neergeskryf.

Cocca sê die klant, ʼn gereelde besoeker aan die restaurant, het gesê die gesin het lekker geëet en het benadruk dat die bedrag heeltemal korrek is.

Hy het ook gevra dat die geld deur al die werkers in die restaurant – 12 in totaal – gedeel word. Elke werker het dus R500 ontvang.

En hoewel hy nie omgegee het dat die nuus oor sy weldaad gedeel word nie, het die klant daarop aangedring om naamloos te bly, sê Cocca.

“Die uitwerking daarvan was opvallend. Die personeel was oorstelp van vreugde en stap almal rond asof hulle die boerpot gewen het.

“Dit gaan egter nie oor die geld nie, maar oor ʼn onselfsugtige daad: Hulle wou ʼn bydrae vir die personeel maak wat almal ʼn moeilike tyd agter die rug het. Veral die kelners kon nie soos gewoonlik werk nie,” sê Cocca.

Suid-Afrika se inperkingsregulasies het in ʼn stadium ʼn algehele verbod op aansit-etes by restaurante ingesluit. Dit is later verslap om wegneemetes toe te laat. Die streng regulasies het die bedryf – en die duisende mense wat van werk in die sektor afhanklik is – met tye op hul knieë gedwing.

Cocca sê baie mense bestel steeds eerder wegneemetes en hoewel personeel ʼn basiese salaris ontvang, help fooitjies om hul salarisse aan te vul.

“Hulle is uit hul velle en só gelukkig,” sê Cocca.

Hy sê hulle het die afgelope tyd ook opgemerk dat talle klante groter fooitjies as gewoonlik vir kelners gee.

“Dit is asof die publiek erkenning wil gee aan hierdie onbesonge helde met hoeveel ook al hulle kan bekostig.

“Dit was ʼn wonderlike ondervinding. Ons waardeer ons klante geweldig baie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

koos10 ·

Lungi Hadede. The patron is sharing, and expected the tip to be shared, and you comment is that only one person must get the money?
Where is your ubunto?

Elinette ·

Ek sien so, ja. Ek wonder waar dié mense wat so lekker kan uiteet en rojale “tips” kan los, werk, want ek – op my (bogemiddelde) salaris, kan nie eens bekostig om vis uit ‘n blikkie te eet nie ….

Blomme ·

G9ed om te sien ons kry onder die moeilike omstandighede nog sulke goedhartigheid.

VaalDonkie ·

Ek het al ‘n paar keer mense se huur betaal omdat hulle nie kon nie. Waar’s my artikel?

Baardman ·

Moenie jou dade op aarde bekend maak, dan het jy reeds jou loon weg, gaan lees maar die groot Boek

Hannelie ·

Ek het n vermoede wie die klant was. Ek glo baie ander weet reeds van hom op sosiale media.

JM ·

VaalDonkie, die Woord sê jou linkerhand moet nie weet wat jou regterhand doen nie. Het jy die huur betaal om erkenning te kry?

Elinette ·

Nou, is daar dan nie iemand daar buite wat met MY wil deel nie???????????????????

Danie ·

Lungi Hadebe weet natuurlik dat dit n chinese restaurant met native thai chefs is.
Violet on the other hand…… :-))
Hooo hê êh

Esme ·

In die huidige finansiele chaos, glo ek dat ‘n kelner/in breed sal glimlag met sulke liefdadigheid. Welgedaan – ons almal kan ‘n les hieruit leer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.