Grootbrak-moorde: ‘Werker’ hoor sy lot

Tewie en Eurika Human. Foto: Verskaf

Tamsamqa Howard Sishuba (26), een van twee mans wat verdink word van die wrede moord op Tewie (72) en Eurika (62) Human in Grootbrakrivier in die Wes-Kaap, het Donderdag sy lot in die Mosselbaai-hooggeregshof aangehoor.

Louise Karsten, joernalis van die Mossel Bay Advertiser, berig Sishuba is deur regter Robert Henney skuldig bevind op al vier aanklagtes teen hom – twee van moord en twee van roof met verswarende omstandighede.

Henney het in sy uitspraak gesê Sishuba het drie verskillende weergawes aan die hof gegee van wat op die dag van die dubbelmoord gebeur het. Henney het bevind die moorde is vooraf beplan.

Die Human-egpaar is Dinsdagoggend 14 Junie 2016 in hul huis in Sandhoogtepad aangeval. Tewie se liggaam is Saterdag 19 Junie 2016 in die motorhuis aangetref en dié van Eurika in die egpaar se bed. Tewie is sewe keer met ʼn panga oor sy kop geslaan en Eurika is met ʼn selfgemaakte mes in die hart gesteek.

Die polisie het van die begin af vermoed dat iemand wat die egpaar geken het by hul moord betrokke was omdat daar geen tekens van gedwonge toegang tot die huis was nie. Verskeie items is uit die huis gesteel. ʼn Bedrag van R14 000 is op die dag van die moord vanuit die Humans se bankrekening na ʼn bankrekening in Lesotho oorgeplaas.

Sishuba (26) is in Julie 2016 in verband met die moorde in hegtenis geneem nadat forensiese bewyse wat op die toneel gevind is hom met die moorde verbind het. Die polisie glo egter Lebohang Rethabile Lekoro, ʼn werker van die Humans, is die meesterbrein agter die moorde. Lekoro is steeds op vrye voet nadat hy vermoedelik na ʼn buurland gevlug het. ʼn Beloning is intussen vir sy inhegtenisneming uitgeloof.

Sishuba het tydens sy verhoor, wat verlede week begin het, die blaam op Lekoro gepak.

Sishuba het getuig hy was onder die indruk dat hy die dag van die moorde saam met Lekoro vir die Humans werk sou doen. Volgens Sishuba het Lekoro vir Tewie met ʼn panga aangeval. Sishuba het ook beweer dat Lekoro hom gedwing het om ook vir Tewie een keer met die panga te slaan.

Die saak is tot Maandag uitgestel vir vonnisoplegging.

Bron: Mossel Bay Advertiser

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Annie ·

Hoop hy ontsnap nie ook uit die tronk die naweek nie – hoekom het julle hom nie dadelik gevonnis nie – kan nie so moeilik wees nie – jammer DOODSTRAF is afgestel want dis al wat die vark mos kry.

Cherokee ·

Ek wonder of regters per sessie (of strafsaak) betaal word. Dit sal dalk verduidelik waarom hy tydens een hofverskyning skuldig bevind word en in ‘n opvolg-verskyning gevonnis word.

m ·

Net jammer die suurstof dief gaan nou lekker op die tax betaler se geld in die tronk sit.

Jeanne Human ·

So onnodig gewees. Twee wonderlike mense wat niemand skade gedoen het nie.

Petru Pietersen ·

Jeanne, ek stem saam. Ek het hulle nie self al ontmoet nie, maar my man en my skoonfamilie het net goeie goed oor hulle gepraat. My hart is sommer nog seer vir al die kinders en kleinders se part.

Jean ·

Hoop hy sit en sy tjomie Word gekry want ons lewe sal nooit weer die selfde wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.