Groote Schuur-ontvoering: Interdik gevra om meisie te beskerm

Die Grootte Schuur-hospitaal. Foto: Google Maps

Die Grootte Schuur-hospitaal. Foto: Google Maps

Die regspan van die meisie wat as ‘n baba uit die Groote Schuur-hospitaal ontvoer is, gaan om ‘n dringende interdik aansoek doen om die media te verhoed om haar naam bekend te maak wanneer sy teen die einde van die maand 18 jaar oud word.

Ann Skelton, direkteur van Tuks se Sentrum vir Kinderreg en die meisie se regsverteenwoordiger, het gesê die saak sal op 21 April op die dringende hofrol van die hooggeregshof in Pretoria geplaas word.

Die matriekmeisie is op 28 April 1997 gebore en is glo twee dae na haar geboorte uit die Groote Schuur-hospitaal ontvoer.

Die vrou wat die meisie glo ontvoer en as haar eie kind grootgemaak het, sal aanstaande maand weer in die Kaapstadse landdroshof verskyn op aanklag van ontvoering.

Die meisie vrees glo dat die media haar ware identiteit op haar verjaarsdag sal bekend maak en dat dit haar droom om ‘n universiteit by te woon en uit die soeklig te bly, in die wiele sal ry.

Skelton het gesê die dringende interdik sal voorkom dat mediahuise die kind se naam bekend maak voordat Deel B van die aansoek aangehoor word. Deel B van die aansoek behels dat daar ‘n behoorlike interpretasie verskaf word van die bepalings in die Grondwet en Strafproseswet wat minderjariges beskerm.

Skelton het gesê indien die hof nie die wet kan interpreteer nie sal hulle versoek dat ‘n gedeelte van die Strafproseswet ongrondwetlik en ongeldig verklaar word tot die mate dat dit nie beskerming bied aan minderjarige slagoffers of beskerming verleng aan diegene ouer as 18 jaar nie.

Die aansoek vir die dringende interdik volg nadat die applikante glo nie ondernemings van die meeste mediahuise kon kry dat hulle nie identiteit van die meisie sal bekend maak hangende die uitkoms van Deel B nie.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.