Grootkop in avo-bedryf sterf

Ernst, die besturende direkteur van die Allesbeste-familieboerdery, is veral bekend vir die kweking en uitvoer van die Maluma-avokado, ’n internasionaal gesogte avokadokultivar [Foto: Verskaf]

Dr. André Ernst (67), die welbekende avokadoboer van Tzaneen, Limpopo, is Woensdagmiddag aan Covid-19 oorlede. Hy het internasionaal naam gemaak met sy avokado’s en was besonder verknog aan dié bedryf.

Ernst, die besturende direkteur van die Allesbeste-familieboerdery, is veral bekend vir die kweking en uitvoer van die Maluma-avokado, ’n internasionaal gesogte avokadokultivar.

Volgens Ernst se vrou, Liezel, het hy aan die begin van Julie positief vir Covid-19 getoets.

“Sy suurstofvlakke het 11 dae later van 90% na 70% geval. “Ons wou hom by ’n hospitaal in Tzaneen laat opneem, maar al die beddens was vol. Ons het toe vir hom plek gekry in die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion en hy is op 23 Julie opgeneem,” vertel Liezel.

“André is eers in ’n gewone saal geplaas en vier dae later onder verdowing geplaas en aan ’n ventilator gekoppel. Hy was 27 dae lank aan die ventilator gekoppel.”

Ernst is in die hospitaal ook met nierversaking gediagnoseer en het elke dag dialise ontvang.

Liezel vertel die dokters het Ernst van Vrydag af stadig uit die verdowing begin wakker maak.

“Hy het Dinsdag vir die eerste keer sy oë oopgemaak. Sy infeksie het opgeklaar en hy het heelwat verbetering getoon. Ons het gedink hy is op die herstelpad.

“Ek het Dinsdag by hom gesit en vir hom boodskappe gelees wat vriende en familie vir hom gestuur het. Ek het ook sy gunstelingmusiek vir hom gespeel.”

Ernst se gesondheid het egter Woensdagmiddag ’n slegte wending geneem.

“Die dokters het ons gebel en meegedeel dat André ’n hartaanval gehad het. Dokters kon hom gelukkig bybring. Ons het omstreeks 12:30 hospitaal toe gejaag, maar toe ons by hom aankom, was hy reeds weg.”

Volgens Liezel het Ernst ’n groot passie vir boerdery en veral avokado’s gehad. Hy het ook sy doktorsgraad in die kloning van avokado’s gedoen.

“Avokado’s was André se lewe. Hy het van Maandag tot Sondag sy lewe aan avokado’s gewy.”

Die plaas waarop Ernst geboer het, is die plaas waarop hy grootgeword het.

“Toe André op hoërskool was, het sy pa met sitrus geboer. Hy het later oorgeskakel na avokado’s. Sy pa het in daardie tyd siek geword en hy het op die plaas vir sy pa ingestaan. Dit is hier waar sy liefde vir die avokado’s begin het. Die passie het oor die jare gegroei.”

Ernst het op groot skaal Maluma-avokado’s en -plantjies na verskeie lande uitgevoer. In die afgelope paar jaar het die vraag na avokadoplante ook onder die plaaslike mark toegeneem en Ernst het verskeie satelliet-kwekerye met avokadoplante op verskeie plekke in die land opgerig.

Die Maluma-avokado, ’n oorwegend Guatemalaanse kultivar met ’n bietjie Mexikaanse gene, is in die vroeë 1990’s deur Dries Joubert op sy plaas Maluma, Suid-Afrika, ontdek.

Joubert het die Maluma aan Ernst oorhandig vir verdere ontwikkeling en navorsing.

’n Maluma-avokado verskil van ander avokadokultivars op grond van faktore soos produktiwiteit, uitvoerbaarheid, raklewe, rypwording, gehalte, interne en eksterne voorkoms en smaak.

“Dié kultivar het ’n prominente smaak en kleiner pit.”

Ernst word oorleef deur Liezel, sy kinders, Larissa, Edrean, Zander en Ronald, asook hul gades en kleinkinders.

Ernst en Liezel was 22 jaar lank getroud. Hy sou volgende maand 68 jaar oud geword het.

“Niks was ooit te veel moeite vir André nie. Hy het altyd uit sy pad gegaan om iemand te help. Hy was ongelooflik trots op sy kinders en het hulle altyd gemotiveer om ver te gaan in die lewe.

“As André gepraat het, het almal geluister. Hy het altyd wyse raad gehad. Sy personeel was net so lief vir hom.”

André was Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, se oom. Oor sy geliefde oom sê Roets:

“Oom André was soos ’n penwortel waaraan die familie geanker is, waarsonder die gemeenskap van Tzaneen, landbou in Suid-Afrika en die wêreldwye avokadobedryf nie dieselfde sou kon wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Skappie ·

Jammer om te hoor. Sterkte aan sy gesien in die moeilke tyd wat nou vir hulle voorle.

Di ·

Sjoe wat ‘n groot verlies! Sterkte aan sy familie en vriende. Ek glo sy afsterwe gaan ‘n groot leemte laat

Erik ·

Sterkte aan sy familie… Die vraag wat niemand wil vra nie, maar waaroor almal wonder. Was hy ingeënt?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.