Grootkop in visskandaal skuldig bevind

(Argieffoto: Pixabay)

ʼn Weskus-sakeman is verlede week in die Vredenburg-streekhof skuldig bevind op 305 van 390 bedrogklagte wat verband hou met visvangste van bykans R7,5 miljoen wat óf onderverklaar óf glad nie verklaar is nie.

Landdros Vic Gibson het in die uitspraak gesê dat Pietie Carstens (56) van St. Helenabaai die gemeenskaplike faktor in elke skakel van die misdadige steelvisketting in die Mosselbaaihawe van 2 Mei 2002 tot 11 Desember 2003 was. As oud- mariene inspekteur het Carstens volgens Gibson die stelsel goed geken en sy reëlings daarvolgens aangepas.

Die saak teen Carstens en sy maatskappye Yellow Star Trading 1004, Sandy Point Fishing en Kalahari Fishing spruit uit getuienis in ʼn 13 jaar lange steelvissaak in die Mosselbaai-streekhof, afgehandel in November 2016. Die meeste van die 34 skippers en walskippers van St. Helenabaai, Vredenburg, Dwarskersbos en Mosselbaai het skuldig gepleit, en is gevonnis of beboet. Veertien beskuldigdes is later op ʼn regspunt vrygespreek.

Deon Muller was tot September 2002 die mariene inspekteur in die Mosselbaaihawe. Hy het getuig dat hy saam met visserbootskippers, waaronder die Maine, Mosselbaaise visverwerkingsaanlegte, kwotahouers soos Carstens en sekere visverwerkingsaanlegte soos Sandy Point Fishing, visvangste onderverklaar het. Volgens Muller het almal, ook die visserbootbemanning, geld hieruit gemaak.

Gibson het opgemerk dat Carstens se beheer “soos ʼn goue draad deur die bewyse loop”. Carstens het Yellow Star Trading 1009 se boot, die Maine, die bemanning se vergoeding en die vervoer, aflewering, ontvangs en verwerking van die vis by Sandy Point Fishing in St. Helenabaai beheer.

Die hof in Vredenburg. (Fotot: Verskaf)

Adv. Louis van Niekerk het bewys dat die gewig soos verklaar op landingsverslae wesenlik verskil van die vraggewig op vervoertrokke en die werklike vangsgewig waarvolgens die skippers en bemanningslede vergoed is.

Volgens Gibson is Carstens, wat nie getuig het nie, se skuld bo redelike twyfel bewys. “Hy was deeglik bewus van en nou betrokke by die misdadige optrede.”

Carstens het onder meer die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne oortree deurdat die Maine met skipper Deon Kühn meer vis gevang het as waarvoor sy kwota geldig was. Hulle het ook oortollige vis onwettig aan die Manny’s Fisheries-visverwerkingsaanleg in Mosselbaai verkoop.

Kühn, wat op 13 Oktober 2004 in hegtenis geneem is en op 26 Julie 2011 skuldig gepleit het, is ʼn boete van R20 000 asook ʼn opgeskorte vonnis opgelê.

Volgens die wetlike proses keur Mariene en Kusbestuur (MKB) ʼn aansoek om ʼn visvang- en visverwerkingskwota af of goed, waarna die kwotahouer aansoek doen om ʼn permit om die viskwota te kan vang. Die permithouer moet heffings per kilogram vis gevang aan MKB betaal, anders lei MKB ʼn verlies aan inkomste.

Voordat vis afgelaai mag word, moet die skipper én die mariene inspekteur ʼn landingsverslag voltooi en sertifiseer. Die vis moet ook in hul teenwoordigheid geweeg word. Destyds in Mosselbaaihawe is ʼn “gemiddelde bak gewig” van tussen 28 kg en 34 kg per bak gebruik.

Permithouers moes weekliks hul vangsstatistieke deurgee aan Johan de Goede, ʼn mariene navorser van MKB in Saldanha, wat dié data gebruik om spesies se volhoubaarheid te verseker.

Kol. Eduard Lerm, ʼn senior spesiale ondersoeker by die destydse Skerpioene, het getuig dat ʼn omvattende ondersoek in Junie 2003 begin is. Hulle het opgemerk dat bote gereeld vangste geland het vóór 04:00, die tyd waarop die monitors aan diens gekom het. In 2002 is die moniteringstaak uitgekontrakteer aan Nosipho Consulting, wie se moniteerders nie altyd daar was as vis afgelaai is nie.

Kühn het getuig dat hy voortdurend inligting deurgegee het aan Carstens, wat daarvolgens die vragmotors gereël het. Volgens Kühn het die vangs soms die vragmotors se kapasiteit oorskry en het daar vis oorgebly. Aanvanklik het Kühn-hulle die oorblywende vis in die hawe gestort, maar Muller het dit verbied en voorgestel dat hulle dit eerder aan Manny’s Fisheries verkoop. Geld uit dié verkope, bekend as “Lottogeld”, is onder die bemanning verdeel. Volgens Kühn het Muller weekliks vir sy stilswye omkoopgeld van tot R1 200 in ongemerkte bruin koevertjies gekry, in opdrag van Carstens.

Die saak is tot 27 Januarie 2022 uitgestel vir vonnisoplegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

marius ·

Is ‘n paling nie ‘n glibberige ding nie ? Nog altyd gedink meer slang as vis ….

Erik ·

Moes hierdie opskrif paar keer lees voordat dit sin gemaak het…

Magda ·

Reg so, hoop sy vonnis gaan lank wees. Genoeg gehad can SKELMS in SA.

SlinkseKoljander ·

Hy moes net alles ontken het, dan sal hy skotvry kom, soos Zuma en sy maaitjies.

Nico ·

Klink meer vir my of hy dit wat nie aan die owerhede toekom nie, verdeel het aan die hardwerkende vissermanne.

Danie ·

En intussen word vir die afgelope 100 jaar al weskus kreefvangste onderverklaar en die verskil openlik gesmokkel langs die paaie terwyl sakke vol small fry onder die neuse van die inspekteurs kar toe gedra word.
En nou wat alles uitgeroei is kla julle oor krepeer van elende.
Kry vir julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.