Grootouers rasend van kommer ná kleinkind se geboorte

Baba Chante-Amorè (Foto: Facebook via Chante-Amorè Koekemoer)

ʼn Oupa en ouma van Rustenburg in Noordwes se vreugde oor die geboorte van hul kleinkind het in ʼn nagmerrie ontaard nadat die kleinding in die hospitaal se waakeenheid opgeneem moes word omdat sy sukkel om asem te haal.

Chante-Amorè Koekemoer is presies ʼn week gelede in die Ferncrest private hospitaal gebore, maar is nou in die waakeenheid aan ʼn ventilator gekoppel.

Stefan Koekemoer, Chante-Amorè se oupa, vertel aan Maroela Media hy en sy vrou was by hul 19-jarige dogter, Simoné, toe haar dogtertjie met ʼn keisersnee in die wêreld gebring is. Dokters het egter dadelik opgemerk dat Chante-Amorè sukkel om asem te haal.

“Die dokter het net na die geboorte sy vinger in babatjie se mond gedruk en onmiddellik besef sy het ’n gesplete verhemelte,” vertel Stefan.

Stefan sê hy en sy vrou, Annelise, sit nou met jul hande in die hare omdat hulle nie weet hoe hulle die hospitaalkoste vir hulle geliefde kleinkind sal kan betaal nie.

Die bevalling is ten volle deur die Koekemoer-gesin se mediese fonds gedek, maar hulle dek glad nie die res van die koste verbonde aan Chante-Amorè se behandeling nie.

Baba Chante-Amorè (Foto: Facebook via Chante-Amorè Koekemoer)

Stefan sê die familie moes onmiddellik ʼn deposito van R150 000 betaal sodat Chante-Amorè in die waakeenheid opgeneem kan word. Volgens die dokters sal sy ongeveer tien dae of selfs langer in die waakeenheid moet bly.

“Sy is gekoppel aan ’n ventilator en ontvang suurstof deur pypies wat aan haar longe gekoppel is,” vertel Stefan. As gevolg van die gesplete verhemelte kan Chante-Amorè ook nie normale voeding ontvang nie. “Sy kry voeding met ’n pypie deur haar neus wat aan haar magie gekoppel is.”

Die hospitaal het hom egter vandag in kennis gestel dat die bedrag van R150 000 reeds uitgeput is en dat hulle deur die moontlikheid van ’n staatshospitaal in die gesig gestaar word.

“Die dokters moet ook vir Chante-Amorè ’n plaatjie maak wat in haar verhemelte gaan pas om die gaping toe te maak. Sonder dié plaatjie sal bottelvoeding nie moontlik wees nie en sal sy steeds moeilik asem haal. Ons weet nog nie eers wat hierdie plaatjie gaan kos nie,” verduidelik Stefan.

Die koste van die X-strale en pediater moet ook uit die grootouers se sak kom.

Volgens Stefan is hulle nie in ʼn finansiële posisie om self dié koste te dra nie.

Die familie het intussen ’n Facebook-blad geskep waardeur verskeie fondsinsamelingsinisiatiewe van stapel gestuur is. “Ons is dankbaar vir die bydraes en ongelooflike ondersteuning van familie en vriende tot dusver,” sê Stefan. “Vriende adverteer selfs kolwyntjies en ander gebak op dié Facebook-blad ten bate van baba Chante-Amorè.”

Volgens Stefan is die pad vorentoe nog nie duidelik nie. “Ons moet nou sterk staan vir ons dogter en kleinkind se onthalwe.”

Besoek Chante-Amorè Koekemoer se Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

marlyn ·

As dit daar op neer kom dat baba na staatshospitaal verwys word KALAFONG beste hospitaal en n baie goeie baba afdeling asook inwoon van moeder ek weet waarvan ek praat hulle het een van die baba afdelings.

JESSICA ·

Shame this is very tough, she’s still a young a child herself, and now sitting with a baby and bigger problems, i pray to God this baby get all the medical help, where is the dad of this tiny baby??? Government hospital’s are the best specially KALAFONG.

Lizelle ·

Ek is bevooreg om hierdie gesin persoonlik te ken. Die grootouers is ongelooflike goedhartige mense en die beste ouers. Ek hoop en bid dat dit moontlik sal wees dat baba die nodige behandeling ontvang.

Besorg ·

Nou vra ek met trane in my oë waarvoor betaal ons ten duurste medies as hul nie n saak van lewe of dood dek nie???

Asjas ·

My eerste vraag was ook watse tipe mediese fonds is hierdie? Noem die fonds asb.? Sekerlik moet mediese fondse voorsorg tref indien daar komplikasies is na die geboorte?
Mediese Fondse was seker oorval met oproepe van swangers vrouens vandag.
Sterkte met jul fondsinsameling!!

GM ·

@Besorg – natuurlik net om die direkteure/aandeelhouers te verryk – soos met alles anders in S.A. Daarom sal staatshospitale nooit op standaard gebring word nie – niemand sal meer vir hul lewens vrees in staatshospitale nie, en hul medies kanselleer. Die staat sal dan ook te veel geld verloor deur V.A.T. ens.

Mag die kleinding gou gehelp word. Dis ‘n hartelose industrie. Ek besef als kos geld, maar hul kan gerus uitsonderings maak as dit by kinders kom en minder belaglike pryse vra.

Riandrie ·

Ek het ‘n vermoede dat hierdie dalk nie ‘n Mediese FONDS is nie maar eerder Mediese VERSEKERING. Daar is ‘n groot verskil. Enige mediese fonds sou dekking bied in ICU maar nie noodwending ‘n mediese versekering nie…… Alle sterkte aan hierdie liefie-kind en haar familie.

Eliz ·

Die ma is 19jaar oud en sekerlik nog op haar ouers se medies. Mediese fondse dek gade en kroos, nie noodwendig kleinkinders nie. Meeste werkgewers en maatskappye wat helfde medies betaal het ook nie n voorsiening vir kleinkinders nie teensy hulle bewys hulle is primere voogde.

Hess ·

Ek sal graag wil weet wat is so duur dat die R150 000 al op gebruik is. Iemand sal moet kyk hoeveel privaat hospitale vra vir hul dienste. Hul weet pasiënte is sagte teikens want enige mens sal baie geld betaal om hul geliefde te red en die hospitale buit dit uit.

Onnie MP ·

Ons tweeling is 18 jaar gelede met ‘n noodkeiser op 31 weke gebore. Hul was dadelik in neonataal opgeneem. Die jongste een het ook met asemhaling gesukkel en was op masjiene. Hy het 4 sterk antibiotika spuite per dag gekry @R4000/spuit. Ons was gelukkig om ‘n mediese fonds te hê wat alles gedek het. Die hele episode het R120 000 gekos. Ek kan heeltemal verstaan dat die geld vinnig opgebruik word. Die toerusting wat gebruik word is gespesialiseerd en baie duur. Die personeel was fantasties en deeglik opgelei. Medikasie is ook baie duur. Ek hoop hulle kry genoeg hulp om in die privaat hospitaal te bly. Ten minste is die baba se kanse beter en die moontlikheid van infeksie kleiner. Sterkte aan die familie.

Marinda ·

Nader die hospitaal se administrator, en vind uit van ñ special rate. As julle nie vra nie, sal julle nie weer nie.
Sterkte, julle en julle kleinkind is in one gebede.

Dina ·

By Steve Bhiko Hospitaal in Pretoria is van die beste dokters en spesialiste. Daar is nog goeie staatshospitale waar sy goeie sorg en behandeling sal kry. Geld bepaal nie noodwendig kwaliteit nie.

Anna ·

Laat hul dokter hulle dringend verwys na die Kaak, gesig en mond afdeling van Steve Biko hospitaal. Drs daar deel van multi-disiplinêre groep wat alles van sjirurge tot gemeenskapsverpleegkundiges insluit. Briljante hulp.

SjN ·

Daar is spesifieke reels soos bepaal deur die raad van mediese fondse tov swangerskap voordele waaraan almal moet voldoen tov lede en afhanklikes. Waar is die vader om mede verantwoordelikheid te aanvaar?

fred ·

Dit is vir my hart verskeurend dat jy jou hele lewe n aardige bedrag aan mediese fondse betaal, maar die dag as mens n diens verwag dan draai hulle hul rue op jou.

Blommie ·

Ek hoop van harte die mense kry die nodige fondse want PKG in Rustenburg sal daardie baba se dood beteken. Ons moes al ‘n baba aan die dood afstaan agv PKG!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.