Grootskaalse bedrog met bestuur van Covid-19-inisiatiewe – OG-verslag

Pasiënte lê in hospitaalbeddens in tente buite Steve Biko-hospitaal in Pretoria. foto: (Phill Magakoe / AFP)

Miljoene rande is afgestaan aan verdagte tenders, maskers is teen ʼn veel duurder prys aangekoop en grootskaalse omgerymdhede het met die huur van veldhospitale plaasgevind.

Dít is van die bevindings in die ouditeur-generaal se tweede spesiale verslag oor die finansiële bestuur van die regering se Covid-19-inisiatiewe. Die verslag van 232 bladsye is pas vrygestel. Die verslag het Woensdag voor die portefeuljekomitee vir verdediging en militêre veterane gedien.

Veldhospitale

Die departement van openbare werke in KwaZulu-Natal het R34 500 per maand vir elk van die 228 beddens in ʼn tydelike veldhospitaal betaal wat in Durban opgerig is om Covid-19-pasiënte te behandel.

Die tydelike veldhospitaal is op ʼn terrein in Mobeni in Durban langs die Clairwood-hospitaal opgerig en vir ses maande aan die provinsiale departement van openbare werke teen ʼn koste van R47,2 miljoen verhuur. Die projek was in opdrag van KZN se departement van gesondheid, maar is gefasiliteer deur openbare werke in die provinsie.

Die ouditeur-generaal kon nie bewyse van die goedkeuring of ʼn uiteensetting van die koste van die projek vind nie en openbare werke én gesondheid kon byvoorbeeld nie eens die bouplanne voorsien om steun te verleen aan die uitgawe van R47,2 miljoen nie. Die enigste beskikbare dokument was ʼn kwotasie van die diensverskaffer, een van slegs drie wat genader is om te kwoteer.

Gesondheidswerkers by die Nasrec-veldhospitaal vir Covid-19-pasiënte in Johannesburg. (Foto: Michele Spatari /AFP)

Die departement van gesondheid het die OG se bevindings na openbare werke verwys, wie se verweer was dat advertensies vir kwotasies nie vinnig geplaas kon word nie en dat hulle daarom diensverskaffers genader het wat reeds aan die departement bekend was.

Die konstruksie van die veldhospitaal het ook aansienlik langer geneem as waarvoor beplan is. Dit moes binne drie weke opgerig word, maar openbare werke het ses weke geneem om die opknapping van die lugreëling goed te keur en die projek het uiteindelik tien weke geneem om te voltooi.

Boonop was daar waterlekkasies, geen warm water, lendelam bedtrollies en ʼn niewerkende roepstelsel vir die verpleegsters. Die dak moes in sekere vertrekke gelig word en gestremdes kon nie die ablusiefasiliteit gebruik nie.

Ook in die Vrystaat kon die provinsiale departemente van gesondheid en openbare werke nie daarin slaag om ʼn veldhospitaal op die skouterrein in Bloemfontein betyds in gebruik te neem nie. Die hospitaal moes op 1 Augustus oorhandig word, maar was teen 15 September nog nie gereed nie. Luidens die verslag is die hospitaal nooit in gebruik geneem nie.

Die verslag verwys ook na tesourie se voorgeskrewe prosedures wat nie nagekom is by die toekenning van infrastruktuurprojekte ter waarde van sowat R1,5 miljard in KwaZulu-Natal, Gauteng en Limpopo nie.

Die aankoop van Covid-19-medikasie

Die departement van verdediging se frontlinie-dienste het ook sterk onder skoot gekom in die ouditverslag. Die bevindings oor die onwettige aankoop van Heberon Alfa B2 in die voorlopige verslag, waaroor Maroela Media voorheen berig het, is meestal bevestig.

Medikasie vir Covid-19 word in ‘n inloop-yskas gestoor. (Foto: Verskaf)

Bykomend is bevind dat ʼn bestaande kontrak met ʼn Kubaanse verskaffer om tegniese dienste aan die weermag te lewer, uitgebrei is om die verkryging van Heberon moontlik te maak. Die aanvullende kontrak is eers ʼn dag ná die eerste besending van die medisyne op 27 April in Suid-Afrika geland het, onderteken.

Daarbenewens het die aanvullende kontrak nie die algehele hoeveelhede of die waarde van Heberon wat aangeskaf is, bepaal nie terwyl medikasie van R34,86 miljoen verkeerdelik as agentskaps- en uitgekontrakteerde dienste, in plaas van medisynevoorraad, in die departement se finansiële state aangeteken is.

Die OG het bevestig dat die verkoelingsketting van sowat 40% van die flessies Heberon tydens vervoer of in die pakhuis verbreek is. Die departement het dit nie self opgespoor nie en ook nie die uitwerking wat dit op die integriteit van die middel het, ondersoek nie. Van die flessies was vir langer as 94 uur aan ʼn verhoogde temperatuur blootgestel wat die integriteit van die middel beïnvloed.

Kwarantyngeriewe

Die verslag verwys ook na die verkrygingsproses wat die weermag gevolg het vir die voorsiening van isolasie en kwarantynterreine met ʼn geskatte waarde van R738,5 miljoen. Die spesifikasies vir die tender is voltooi ná die weermag samesprekings met een van die voornemende diensverskaffers gevoer het.

Moontlike diensverskaffers is daarna slegs 48 uur gegun om hul tenders voor te berei, wat uiteraard die een wat die spesifikasies opgestel het, bevoordeel het. Die betrokke diensverskaffer het dan ook uiteindelik die kontrak gekry, maar dit is in ʼn gevorderde stadium gekanselleer.

Beskermende toerusting

Luidens die OG-verslag het die weermag teen 31 Augustus verlede jaar 6,7 miljoen chirurgiese maskers te veel aangekoop teen ʼn geraamde R76 miljoen. Die prys was deurentyd hoër as die 10% wat tesourie toelaat as aankopers nie ʼn ander keuse het as om duurder te betaal as die voorgeskrewe prys nie. Dit het veroorsaak dat die departement R14 miljoen meer betaal het vir die oortollige maskers.

Die departement het ook kontrakte ter waarde van  R2,25 miljoen toegeken aan mense wie se belasting nie op datum was nie en BTW van R202 500 is betaal aan ʼn verskaffer wat nie vir BTW geregistreer was nie.

Persoonlike beskermende toerusting (PPE) ter waarde van R478 000 is ook deur ʼn weermaglid na bewering uit ʼn stoor gesteel. Hy het dit aan diensverskaffers verkoop wat dit weer aan die weermag verkoop het. Hy het in Augustus in die streekhof in Pretoria verskyn waarna die saak uitgestel is vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

piper ·

op geen manier vertrou ek die vaksiene wat cANCer ons wil gee nie. bly weg

Jean ·

Hoekom nie? En dit is nie die ANC wat die inenting verskaf nie…

Anoniem ·

En CR het nog onlangs belowe “I promise you, this will NEVER happen again”.

Mallie ·

Alles waaraan die Anc en hulle mense raak is n gemors. Niks werk nie. Niemand kan vertrou word nie.

Kokerboom ·

I rest my case!! Die ANC staan vir Absolute National Corruption!Bewys weereens: Die mense het GEEN benul van geldwaarde!Dit geld vir hele Afrikal. Hoe lank gaan die belastingbetaler nog toelaat dat sy swaarverdiende geld so vermors word???Skaam jou mnr Ramaphosa. Jou kaders is ‘n totale verleentheid en las vir die land! WANNEER gaan jy dit eendag besef??

Mari ·

Hy is die kop op die skouers van die so called top 5! Hulle draai daai kop in die rigting wat hulle wil doen! Die man het geen ruggraat nie! Dit is een GROOT GRAP!
En alles om hulle sakke vol te hou!! Wys my waar een van hulle se REUSE salarisse besnoei is, maar die land en sy mense bloei!!!
SKANDE ANC!!

Suzette ·

En dan wil hierdie spul in beheer is van die verspreiding van die entstof. Wat n JOKE!!!

Susan ·

Niemand is meer verbaas of geskok nie ……weet met JY die middelklas werker gaan dinges en betaal aan belasting …..en alles wat hulle nog kan verhoog.Die middelklas gaan wegval …..ryk en vrek arm gaan oorbly.Ek hou sommer op werk ….

Pieter ·

Die is niks nuut nie. Enige iets wat anc of eff aanpak is n groot gemors en diefstal.

Jacobus ·

Moet die gemiddelde burger alweer uitgetrap word wanneer hulle skepties is oor feitlik alle aspekte van Covid maatreëls – inentings inkluis.

Thelsa ·

. . . en almal reken die PERSONE is dom . . nee wat. Ons het ons misreken.

Erika ·

Of Course ” It Wasn’t me…. ”
Yet People are Voting for them Again & Again… Foolishly regardless
Nothing Positive manifested from them

Aikie ·

Liewe Vader! Is daar dan geen einde aan die mense se bedrog nie! Alles wat hulle aan raak ontaard in ‘n verneukspul. Stop die wereld. Ek wil afklim.

Phillip ·

3nige iemand met n hallelujah breinsel sal weet Medusa as sy aan iets vat word dit goud. Ons regring vat aan goud en dit word beesmis…

Colette ·

So die bedrog gaan nou net aangaan met die vaccines. Wat is nuut in Suid Afrika???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.