Grootskaalse belastingontduiking in sigaretbedryf blootgelê

(Skermgreep: TJSA)

Die organisasie Tax Justice SA (TJSA) sê sy ondersoek na die verkoop van onwettige sigarette wys “onteenseglik en sonder twyfel” dat die verskaffing en verkoop van onwettige sigarethandelmerke algemeen by kleinhandelaars voorkom. Dit wys ook dat diegene wat dit verkoop sedert veral die inwerkingstelling van die afsonderingstyd oënskynlik sonder vrees sake doen.

TJSA beywer hom vir bewusmaking oor die omvang en maniere waarop misdadigers deur belastingontduiking die staatskas plunder en pleit vir die vervolging van diegene wat hulle daaraan skuldig maak.

ʼn Navorsingspan van TJSA het 43 winkels in Kaapstad, Johannesburg, Durban en Pretoria besoek met die doel om sigarette teen R20 of minder per pakkie te koop. In sommige gevalle is sigarette vir so min as R7,20 per pakkie verkoop – en selfs goedkoper as daar in grootmaat aangekoop word.

TJSA sê hy beskou alle sigarette wat teen R25 of minder verkoop word as onwettig, omdat die prys nie eens naastenby die vervaardiging-, verspreiding en die minimum invorderbare belasting kan dek nie.

Vir die doel van die studie is ʼn veel laer drempel – minder as R20 per pakkie, pleks van R25 – egter gestel.

“ʼn Navorser kon as ʼn onbekende klant bloot van die straat af instap en sigarette teen R20 of minder in 42 van die 43 winkels koop,” lui die bevindings.

Sommige kartonne is teen kwalik ʼn derde van die prys verkoop wat net nodig is om die belasting te betaal. Twee handelaars het openlik sigarette verkoop wat hoër nikotienvlakke bevat as wat wettig in Suid-Afrika is (die perk is 1,2mg), met nog ʼn handelaar wat verduidelik het dat die sigarette uit Mosambiek na Suid-Afrika gesmokkel is en geen belasting daarop betaal is nie.

In sommige gevalle word sigarette vir minder as R8 verkoop. (Skermgreep: TJSA)

“Dit lyk inteendeel of verkopers só min gepla is deur enige dreigement of optrede deur die polisie of Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) dat hulle nou dié sigarette openlik langs wettige handelsmerke in winkels uitstal.”

Luidens die navorsing word die sigarette wat spotgoedkoop verkoop word teruggespoor na ʼn handvol vervaardigers. Die meeste handelsmerke is afkomstig van die Gold Leaf Tobacco Corporation (GLTC) en lede van die Fair-Trade Independent Tobacco Association (Fita SA).

In navorsing deur die Universiteit van Kaapstad is ook uitgewys dat dié vervaardigers die swartmark, wat beduidend gegroei het weens die afsonderingstydperk en die verbod wat in ʼn stadium op die verkoop van sigarette gegeld het, uitbuit om hul markaandeel te vergroot.

Omdat beperkte sigarette van bekende handelsname in dié tyd beskikbaar was, is pryse van onwettige sigarette verhoog om te voldoen in die vraag na sigarette deur mense wat voorheen nié onwettige sigarette gekoop het nie. Die inkomste en markaandeel vir onwettige handelsmerke het die hoogte ingeskiet.

TJSA sê wetgewing word openlik geminag. Die organisasies het al die transaksies vir die navorsingstudie ook in die geheim verfilm en sê politici en wetgewers kan die verskynsel nie langer ontken nie.

Hy het sy verslag oor die verkoop van die sigarette reeds aan die SAID en die departemente van gesondheid, polisie en handel oorhandig.

Video-opnames is van die aankope gemaak. (Skermgreep: TJSA)

“Korrupsie en die oënskynlike versuim deur die vervaardigers van onwettige handelsmerke om die belasting en aksyns op al hul sigarette te betaal, beroof die regering en Suid-Afrikaners jaarliks van miljarde rande,” lui die verslag.

TJSA sê die vervaardigers steel die land se geld en ontduik hul belastingverpligtinge terwyl die SAID versuim om op te tree om die vervaardiging, verskaffing en openlike verkoop van die handelsmerke op die land se strate te stuit.

“Ons glo dat die enigste geloofwaardige verduideliking vir die pryse wat ons navorsingspan landwyd op kamera vasgelê het, die wydverspreide misdadige ontduiking van belasting- en aksynsbetalings deur die vervaardigers van die betrokke handelsmerke is, asook die versuim van die polisie en die SAID om wetgewing af te dwing.”

TJSA beveel in die verslag onder meer aan dat diegene betrokke in hegtenis geneem en vervolg word, asook dat daar op hul bates beslag gelê word. Die organisasie sê hierdie bates is gekoop met die miljarde rande wat deur belastingontduiking van Suid-Afrikaners geplunder is.

Die organisasie vra ook dat die SAID enige tabakvervaardigingsaanleg sluit wat handelsmerke produseer wat teen minder as die minimum invorderbare belastingbedrag verkoop word.

TJSA sê ʼn minimum prys van tabakprodukte moet teen 30% meer as dié belastingbedrag gestel word en dat enigiets minder as dit dadelik as onwettig beskou moet word en gekonfiskeer moet word.

Só lyk belasting op sigarette  

  • R17,40 aksynsbelasting is betaalbaar op elke pakkie van 20 sodra dit die fabriek verlaat,
  • 15% BTW is betaalbaar; as ʼn produk dus teen R20 gekoop word, word R2,61 belasting benewens die aksynsbelasting van R17,40 gehef,
  • ʼn minimum verkoopprys van R20,01 per pakkie is nodig nét om belasting te dek,
  • TJSA sê sigarette wat teen minder as R25 per pakkie verkoop word moet as onwettig beskou word; die belasting laat ʼn onhoudbare marge van net R4,43 om die koste van vervaardiging, verspreiding en die wins van die vervaardiger, groot- én kleinhandelaar te dek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Eltan ·

Ons rokers het die regering gewaarskuu teen dit wat presies nou gebeur agv lockdown regulasies…
Waarom moet ons elkgeval belasting betaal op sigarette indien die belasting in elkgeval nie aangewend word vir die doel waarvoor dit gevorder word nie…

Schalk ·

Eltan ek rook nie eers nie en ek stem saam met jou. Verseker gaan dit uitberei na die drank sektor ook. Die volgende is die medisyne bedryf! Ten minste weet jy jou” belasting geld” word reg aangewend.

Pieter ·

Gaan vra eers vir Zuma en sy kaders elke sent terug wat hulle van belasting betaalers geroof het en dan kom julle na die punt toe.

Geurt ·

Wees verseker dat een van die ministers hierby betrokke is. Kyk maar hard na die minister wat die hardste werk om alkohol en sigarette se gebruik te beheer. Dis my afleiding!

Net ek ·

Spoor dalk die vervaardigers se direkteure na, seker ‘n klomp sit in die regering en maak seker dat die verkope van sigarette en alkol verbied word. Vra maar eers daar waar is die belasting geld, daar word mos lekker geleef deur die kadars op belasting geld. Die verslag is oohandig aan die departemente van gesondheid, polisie en handel, dit was nou tydmors want hierdie departement deel baie lekker in die onwettige handel. Hier sal tog ook soos baie ander ongeruimthede niks van kom nie!

Baardman ·

Die regering skiet hulleself in die voet. Hulle gaan nog besig wees om te konkel oor die entstof, dan neem die swartmark weer hulle geld uit die staatskas.

Boris ·

Hierdie mark kom al jare aan. Reeds in 2004 het ek met ‘n sigaret verteenwoordiger gepraat oor sigarette wat ek kon koop teen kwart van hul produk se prys, waarop hy die belasting ontwyking van betrokke vervaardigers aan my verduidelik het. Die regering het doerietyd al kennis gedra daarvan en nooit enigiets daaromtrent gedoen nie.

Persheks Adri ·

Ek blameer vir kopdoek en haar kinders hulle het mos lekker geld gemaak op level 5 so vra haar en haar kinders om te betaal tsssk net. Nou wil almal huil oor belasting gggmmmfff

Chivago ·

“Deur belastingontduikding die staatskas plunder” sê TJSA. Is “gaan kyk na die regering eerste” nie dalk die ideale plek vir julle om te gaan rondkrap nie? Laat ek julle nou mooi vertel, ek sal op enige manier probeer om belasting te ontduik. Omdat die verregaande belastings op sigarette al R20 per pakkie is, sal ek aanhou om belastingloos te koop. Wens ek kon ‘n manier kry om persoonlike belasting ook te systap.

Wakker ·

En nou gaan die goedkoop siggies duur word, en die winkels maak of hul belasting betaal.

Wakker ·

en nou weet ek ook hoekom die tuck shops hul pryse elke weer verander.

Riaan ·

Alweer die maklike opsie – Die rokers. Volgende sal wees die drinkers, maar NOOIT OOIT die SABC, Eskom, Guptas, en ander sake om maar net ‘n paar te noem nie. Die $500 biljoen is vinniger verdwyn as ‘n David Copperfield kaart truuk.

Dit is nie moeilike wiskunde eers in baie van die gevalle nie, gaan ondersoen bietjie hoe iemand soos Dlamini Zuma van 1994 tot nou toe dit reg gekry het om haarself op te werk tot R1.3 BILjoen.

Kry ‘n lewe man, en los die rokers uit vir ‘n slag.

domheks ·

In elke dorpie, LANDWYD, kry jy die uitlanders wat al die ou goedjies verkoop. Sonder belasting. Maar almal is mos welkom in SA. Moenie nou kla nie, die uitlanders is meer welkom as die blankes.
antie kopdoek moet maar verduidelik

Pieter J ·

Aksynsbelasting op drank en sigarette is heeltemal buitensporig en daarom doe mense alles in hul vermoëns om dit te vermy. Ek wens hulle kon dieselfde regkry met drank.

Sakkie ·

Van Kopdoek se eerst verbot op verkoop van sigarette en ek tot R2 000.00 vir ‘n gross VIP sigarette moes betaal, het ek besluit ek gaan nou net hierdie onwettige sigarette verkope ondersteun. Dis hoe ek my geld “belasting”van die ANC Regering weg hou. Meeste van my vriende ondersteun my ook en doen dieselfde.
Hoop die regering ly nog miljarde rande se skade.
Dieselfde gaan met die drank gebeur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.