Grootskaalse soektog ná moord op Klerksdorp-polisievrou

(Foto: SA Polisie)

Die polisie het ʼn reusesoektog van stapel gestuur na die moordenaar van ʼn polisiebeampte van Noordwes wie se liggaam Woensdagaand in haar huis gevind is.

Sers. Martha Mamoitoyi Bouwer (41) se liggaam is Woensdag om 19:50 in haar huis in Kanana, net buite Klerksdorp, in ʼn bloedplas aangetref. “Die grusame ontdekking is gedoen nadat Bouwer se kollegas na haar gaan soek het toe sy die oggend nie vir werk opgedaag het nie,” het brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, gesê.

Die polisie moes die deur na die huis oopbreek.

“Volgens voorlopige berigte is Bouwer moontlik die laaste keer saam met haar voormalige vriend gesien wat hulle minderjarige kind na ʼn tante geneem het wat glo aangesê is dat die slagoffer siek voel,” het Mokgwabone gesê.

Bouwer, verbonde aan die Kanana-polisiestasie, se Toyota Corolla word steeds vermis.

Noordwes se polisiehoof, lt.genl. Sello Kekana, het opdrag gegee dat die polisie se 72 uur lange aktiveringsplan in werking gestel word om na Bouwer se moordenaar te soek. Hy het sy medelye met haar gesin betuig.

Volgens Kekana ondermyn die moord op ʼn polisiebeampte, of hulle nou aan of van diens is, die gesag van die staat en kan nie geduld word nie.

Die Valke ondersoek die saak.

Enigiemand met inligting oor die voorval word gevra om die ondersoekbeampte, AO Piet Vermeulen, by 079 881 9933 te nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael 1

Dit is snaaks hoe die polisie n moord op n polisie beampte se status verhoog ek glo hulle mandaat is om elke moord so te hanteer en nie dat hulle kan besluit wat ernstig is of nie.

Trotse Boervrou

Soveel simpatie vir hierdie polisielid se gesin. Sterkte, mag God julle vertroos in hierdie hartseer tyd. Ek wens die Regering wil alle mense in die land se lewens so belangrik ag en so hanteer. Die bloed vloei soos riviere in ons strate. Nog ‘n lewe daarmee heen. Hierdie het nie ten doel om kleur uit te wys nie. Dit sluit almal in. Mnr die President, verduidelik asb. aan die land, wat jou in daardie posisie geplaas het, wat die Regering daaromtrent gaan doen. Na alles is jy in diens van die nasie. Ons betaal jou warm bed en veilige lewe,… Lees meer »

Genis

Met die wetteloosheid is SA n moord geteiterde land.. Lewe maak nie meer saak nie, net die sogenaamde regte van die wat on-wetlik optree…

Baardman

Meegevoel. Sy was tien teen een n beampte wat geteiken is omdat sy haar werk behoorlik gedoen het. Net jammer die plan om die skuldiges vas te trek het n tydsbeperking van 72 uur, glo my uit ondervinding van 2 inbrake, na 72 uur hoor jy nie weer van die polisie nie

JohanR

Wat ‘n land Cyril! As dit nie vrouens en kinders wat doodgesteek of doodgeskiet word nie, of aangerand word, of verkrag word nie dan is dit boere op groot skaal (oor die dertig aanvalle net in Junie Cyril) wat hulle lewens op die wreedste maniere verloor, of vermink word op die wreedste manier. En nie een word uit jou bek nie Cyril, nie een word…..net tjoepstil! Dit is seker wat gebeur as ‘n president van ‘n land, en al sy mense, bieg dat hy eerste president van die ANC is en dan president van Suid Afrika. Wel Cyril ek is… Lees meer »