Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye: Hier is die 5 kategoriewenners!

GALVAT-logo-met-boot-320x207Die top 5-liedjies in Maroela Media se Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog, wat ook die kategoriewenners is, is pas bekend gemaak.

Die kategoriewenners, waaruit die publiek gaan stem vir die liedjie wat die titel Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye sal ontvang, is soos volg:

  • Tradisioneel: Die Stem van Suid-Afrika
  • Tydlose treffers: Kinders van die wind
  • Populêr: Pampoen
  • Raserig: Dis ʼn land
  • Kinderliedjies: Heidi

Dié vyf liedjies is as wenners in hul onderskeie kategorieë aangewys nadat duisende stemme in hierdie stemrondte uitgebring is. Die publiek het nou die geleentheid om vir die laaste keer te kom stem – hierdie keer vir die een liedjie wat die titel sal ontvang. Die wenliedjie word op 26 Oktober vanjaar bekend gemaak. Tydens die laaste stemrondte kry elke persoon wat stem, een ja-stem en een nee-stem per dag, wat dit anders maak as die vorige stemfases. Deelnemers kan dus daagliks terugkom na die stemwebwerf by www.grootsteliedjie.co.za om hul gunstelingliedjie te ondersteun. Stemme vir die wenliedjie open op Saterdagaand 5 Oktober om 19:30, en sluit op Sondagaand 19 Oktober om middernag. SMS-stemme sal ook in hierdie stemrondte uitgebring kan word, en een SMS-stem per selfoonnommer sal per dag toegelaat word. ʼn SMS-stem kan gestuur word aan die nommer 48052, met die woord “Virseker” en die sleutelwoord van die gekose liedjie in die SMS: “Stem” vir Die Stem, “Wind” vir Kinders van die wind, “Pampoen”, “Land” vir Dis ʼn land, of Heidi. Elke SMS kos R1.50.

Vir Afrikaanse musiekliefhebbers is daar dalk boonop aan die einde van die veldtog ʼn ekstra verrassing in die pyplyn. “Ons gesels tans met ʼn musiekmaatskappy oor die moontlikheid om van die top 50-liedjies op CD te verewig,” sê Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media. “Dis vyftig liedjies wat enige liefhebber van Afrikaanse musiek in een versameling bymekaar sal wil hê. Daar is ook die moontlikheid van ʼn boek wat die storie agter elk van die vyftig liedjies vertel. Die besonderhede hiervan is egter nog ʼn geheim, en ons sal meer daaroor vertel sodra al die fynere detail deurgepraat is.”

Die publiek kan nou kom stem by www.grootsteliedjie.co.za. Ondersteuners van die veldtog kan ook by die Grootste Liedjie se Facebook-blad aansluit (www.facebook.com/grootsteliedjie) om op hoogte te bly met verwikkelinge in die veldtog. Een deelnemer aan die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog wen aan die einde van die veldtog ʼn vierdag-bootreis vir twee op die MSC Opera, saam met die span van kykNET se Jukebox.Die waarde van die prys is sowat R15 000. Die wenner van die groot prys sal ook tydens Jukebox bekend gemaak word op 26 Oktober, wanneer die wenliedjie aangekondig word. Weeklikse pryse soos iPods, ATKV-vakansies, FAK-sangbundels, boeke, CD’s en wyn is ook op die spel.

Vennote
Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog word aangebied deur Maroela Media. Vennote in die veldtog is kykNET en Virseker (hoofborge), Radio Pretoria, Groot FM, die ATKV, Jukebox, eNuus, AfriForum en die FAK.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Jakkie groenewald ·

Sal meilik wees om t kies almal goed maar hou v pampoen en heidi mooi steve

Dries ·

Ag nee, dat ‘n flippen lied soos Pampoen moontlik die grootste Afr lied kan wees bevestig net weereens hoe siek ons nasie is. Ek is seker daarvan dat as enig iemand anders hom gesing het sou dit nie so gewild gewees het nie. Wat ek dus wil sê is dat mense stem vir Steve. Hoe mens Pampoen kan vergelyk met enige van Koos Dup se liede gaan my verstand te bowe!!!.

linda pretorius ·

My keuse sal natuurlik heidi wees en daarna pampoen…… Pragtige liedjies;-)

Lana Badenhorst ·

Stem saam metPampoe en Kinders van die Wind, maar as ek tussen die twee moet kies …. Kinders van die Wind. Dis ‘n tydlose, pragtige, hartroerende song!!

Mervyn Keown ·

1. Is die howe vir ons as burgerregte groepe nl Afriforum en Inwoners Vereenigings DIV Bethlehem. Goedgesind, na my mening nee en daarom kom Munispaliteite weg met moord.

Thys ·

Daar is regtig so baie mooi afrikaanse liedjies, maar hierdie wat gekies is, is natuurlik uitstaande. Dit hang ook af wat jou smaak is. Ek kies sommer al vyf liedjies. Hulle is so besonders. Elkeen het so groot storie agter hulle. Ek weet die jonger geslag sal anders dink, maar dit is elkeen se reg om sy of haar se bsonders se smaak te he.

Johan van der Merwe ·

Ek is verstom deur keuses soos Pampoen en Heidi. Het ons mense dan GEEN waardering vir goeie musiek nie – iets met sinvolle lirieke en ‘n strelende melodie soos Koos du Plessis se “Storie vir ‘n stadskind” en vele ander. ASSEBLIEF. Ek gee moed op!!

Gerda ·

Johan, voor jy ander afkraak, maak seker van jou feite – dit is Sprokie vir ‘n Standskind nie storie nie

Irene Pool ·

Heidi se oorsprong nie Suid Afrikaans nie. Kinders van die wind – diep en het soveel waarhede in.
Pampoen soos net Steve dit kan sing. So eg afrikaans! Die Stem – oudtyds!

As dit by gewildheid kom waar daar saam gesing word dan is Pampoen die aanvaarbaarste!
en gewildste. Not nooit gehoor dat mense graag een van die ander liedjies sing nie, te swartgallig – begin met Pampoen en almal sing saam!

cherie fourie ·

Heidi en Pampoen? Seriously? Help so n volk…As ons so stem vir n liedjie, hoe de duiwel gaan ons stem in die verkiesing. Johannes Kerkorrel se -Halala is n grooot liedjie…en so ook Hoe ek voel oor jou…en Skipskop se ek ook. Red my! En my nageslag!

Ilza Myburgh ·

Aai dat mense so negatief kan raak oor afrikaanse liedjies geniet ons taal en alles wat daarmee saamgaan jy weet nooit wat die toekoms vir afrikaans gaan wees nie,As die skole alles na engels toe gaan waar gaan afrikaans heen. Geniet ons taal en ons liedjies en basta!

Esther Venter ·

Laat elke persoon luister na wat sy gunsteling is en respekteer hom of haar daarvoor. Smaak verskil of dit nou liedjies, sangers, klere of haarstyle is en dit is juis dit wat die lewe interessant maak.

Mornay ·

Al wat ons onsself moet vra is hoe ons sal voel om vir die volgende 10, 20 of 30 jaar nog die liedjie te hoor? Vir wie sal dit nog relevant wees? Mornay

Driekie Venter ·

Dit is die mooiste liedjies pampoen en kinders van die wind sal sien! Dankie maroela media!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.