Grootste Afrikaanse sakeplankompetisie begin vandag

akademiaAkademia begin Donderdag met sy nasionale sakeplankompetisie vir 2014 met prysgeld ter waarde van meer as R300 000.

“Hierdie kompetisie, wat die grootste Afrikaanse sakeplankompetisie van sy soort in Suid Afrika is, spog reeds met nasionale en internasionale belangstelling in sommige van sy 2013-wenners,” het Chris du Plessis, woordvoerder vir Akademia, in ‘n verklaring gesê. “Die Akademia Sakeplankompetisie wat in 2013 begin is, het ten doel om voornemende en reeds bestaande entrepreneurs terug te bring na die basisdokument van hul besighede – hul sakeplan.”

Rob Davies, die minister van handel en nywerheid, het onlangs aangetoon dat bykans vyf uit elke sewe nuwe klein besighede jaarliks in die stof byt. Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, is die doel van die kompetisie om energie vir entrepreneurskap los te maak en om entrepreneurs bewus te maak van die belangrikheid van ʼn sakeplan. “Die volhoubaarheid van klein en mediumgrootte besighede is van uiterste belang ten einde volhoubare werkskepping in Suid Afrika te verseker”, aldus Visser.

Die 2014-sakeplankompetisie spog sover met vennote soos Investec Batebestuur, die Atterbury Groep, die ATKV, Mentor 24, Maroela Media, Business Partners, eNuus en Sake van Media24. Verskeie AHI-sakekamers soos die CCBC in Pretoria, die groter Tygerberg Sakekamer, asook die provinsiale AHI-streke in die Wes-Kaap en Vrystaat ondersteun reeds hierdie opbouende projek.

Die 2014-kompetisie het groot pryse op die spel. Semi-finaliste in die kompetisie woon werkswinkels gratis by waartydens hul sakeplan kennis deur kenners op hierdie gebied uitgebou word. Belangstellendes word daaraan herinner dat die sluitingsdatum vir inskrywings 19 Mei 2014 is. Belangstellendes skryf in deur ʼn sake-idee aanlyn in te dien.
Afgesien van die kompetisie beplan Akademia twee Entrepreneurseminare wat op 14 Mei in Bellville en 15 Mei in Pretoria sal plaasvind. Bekende sprekers sal tydens hierdie geleenthede optree en hul entrepreneuriese kennis en ervaring met deelnemers deel.

Vir meer inligting oor die kompetisie en seminare, asook registrasie vir hierdie geleenthede, besoek Akademia se webwerf of deelnemers kan “sakeplan”, hul naam en van SMS na 34933. Elke SMS kos R2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.