Grootste deel van laerskoolkurrikulum nie in 2020 gedek

(Argieffoto: Maroela Media)

Leerders in laerskole wat nie skoolgeld hef nie, het verlede jaar soms tot so min as ʼn derde van die kurrikulum behandel. Só wys die jongste uitgawe van die nasionale studie oor inkomste-dinamika (NIDS). Ongeveer 70% van Suid-Afrikaanse skole hef nie skoolfonds nie.

“Twee verskillende onafhanklike studies wys dat talle laerskole in arm gebiede verlede jaar tussen 50% en 75% minder geleer het as in 2019. Dit beteken dat skole soms slegs ʼn kwart van werk wat behandel moes word, wel afgehandel het,” lui die verslag. Dié studie het veral gefokus op wat leerders in huistaal – en eerste addisionele taalvakke soos Afrikaans en Engels – geleer het en het net na skole in Mpumalanga en die Oos-Kaap gekyk.

Skole was verlede jaar vir groot gedeeltes van die jaar gesluit in ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 te stuit.

Die NIDS-verslag wys daarop dat dié leeragterstand ʼn agteruitgang in laerskoolleerders se leesvermoë tot gevolg kan hê, wat reeds nie te waffers is wanneer dit met leerders in ander lande vergelyk word nie.

Die verslag wys boonop daarop dat skole maar oop kon gebly het, aangesien die sluit van skole nie ʼn  invloed gehad het op die aantal onderwysers wat weens Covid-19 gesterf het nie. “Hoewel data wys daar was ʼn toename van 134% in onderwysers wat dood is weens Covid-19, is daar nie ʼn direkte verband tussen sterftes en die tye wat skole oop was nie. Die toename in sterftes stem eerder ooreen met die voorkoms van die eerste en tweede virusgolf in Suid-Afrika,” lui die verslag. “Dit stem ooreen met die Wêreldgesondheidsorganisasie se uitgangspunt dat die sluiting van skole nie ʼn doeltreffende manier is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp nie.”

Bevindings van die NIDS-studie wys ook daarop dat hoërskoolonderwysers nie erger blootgestel is aan Covid-19 as hul kollegas by laerskole nie. Dit is omdat ouer kinders nie meer geneig is om die virus oor te dra nie. “Dit ondersteun weereens die argument dat skole nie primêr die plek is waar Covid-19 versprei nie.”

Tog wys die verslag dat meer ouers aan die begin van 2021 huiwerig was om hul kinders skool toe te stuur, as aan die einde van verlede jaar. Altesaam 57% van ouers het in Januarie aangedui dat hulle “baie bekommerd” is om kinders skool toe te stuur, teenoor die 52% in November.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SomeOne ·

vir die anc is 30% meer as voldoende om te leer, te slaag of sommer net om skooltoe te gaan, maar lêsoontoe wil afrikaanse skole toemaak, maar dis sy eie “our people” wat nie die paal kan haal nie

Johan ·

Ek kry die kinders vreeslik jammer wat so heeldag maskers moet dra. Dit moet ‘n vreeslike inpak op hul sosiale ontwikkeling hê. N jong vriendin van my kla van baie boelie gedrag ook, ‘n groepie wat haar agtervolg en “sit op jou masker” noem, sy wil nie eers eet of water drink by die skool nie. Maar die Maskermal mense sal boet daarvoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.