Grootste dwelmlaboratorium nóg in Oos-Kaap ontdek

Foto: Valke

Lede van die Valke se dwelm- en misdaadintelligensie-eenheid het Sondag op die grootste tik-laboratorium nóg in die Oos-Kaap toegeslaan.

Kapt. Anelisa Feni, woordvoerder van die Valke, het gesê die lede het omstreeks 07:00 op die laboratorium in Southernwood in Oos-Londen afgekom. “Daar is op talle houers van ongeveer 200 liter met chemikalieë beslag gelê wat vermoedelik gebruik word om tik te vervaardig. Beamptes het ook op tik ter waarde van ongeveer R30 miljoen beslag gelê,” het Feni gesê.

Sy het gesê dit is die grootste dwelmlaboratorium wat nog ooit in die geskiedenis van die provinsie ontdek is. ʼn 31-jarige verdagte is in hegtenis geneem. “Die Valke se ondersoek duur voort en nog inhegtenisnemings word verwag.”

Die verdagte sal na verwagting vandag in die Oos-Londen-landdroshof verskyn.

Volgens Feni is dit die tweede dwelmlaboratorium in Oos-Londen waarop die Valke vandeesmaand toegeslaan het. Die eerste een is verlede week in Vincent in die stad opgespoor. Daar het beamptes ook toerusting en chemikalieë gevind wat gebruik word om tik te vervaardig.

Brig. Gops Govender, die provinsiale bevelvoerder vir die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, het die beamptes gelukgewens met die inhegtenisneming van die verdagte en opsporing van die laboratorium. Govender het ook die gemeenskap bedank vir goeie samewerking met die owerhede in die stryd teen dwelmhandel in die provinsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.