Grootste hofsaak oor SEB- en verkryging word nóg groter

Argieffoto (Foto: No-longer-here/Pixabay)

Die grootste SEB- en verkrygingsaak tot nog toe het pas groter geword met drie bekende organisasies wat tans by Sakeliga se konstitusionele litigasie daaroor betrokke raak.

Die EFF, die Vryemarkstigting se Rule of Law-projek, en die sekuriteitsmaatskappy Fidelity is al drie tans in proses om as respondente en/of vriende van die hof (amici curiae) toegelaat te word, vir die verhoor op 25 Mei 2021 in die konstitusionele hof.

Die saak spruit uit ʼn appèl deur die minister van finansies teen die hoogste hof van appèl se bevinding verlede jaar, met koste, in Sakeliga se guns. In die saak het die hof met Sakeliga saamgestem dat die 2017-verkrygingsregulasies, uitgevaardig deur minister Pravin Gordhan, onwettig en ongrondwetlik is. Die regulasies het ʼn nuwe era in SEB-verwante staatsverkryging ingelui: vir die eerste maal kon staatsentiteite weier om tenders te aanvaar as dit nie aan arbitrêre SEB-vereistes voldoen het nie, terwyl hulle voorheen slegs tussen 10% en 20% van tenderpunte kon aftrek. In plaas van om by die uitspraak van die hoogste hof van appèl te berus, het die minister van finansies egter – onder meer op openbare aandrang van die ANC-sekretaris-generaal Ace Magashule – tóg appèl na die konstitusionele hof aangeteken.

Die EFF se aansoek om as amicus curiae toegelaat te word, is deur die minister van finansies geïgnoreer en deur Sakeliga teengestaan, omdat dit geen nuwe insigte aan die hof bied nie en slegs die minister se argumente met politieke ophef herhaal. Die konstitusionele hof het verlede week die EFF se eerste aansoek afgekeur en hulle versoek om ʼn behoorlike aansoek in te dien.

Sakeliga verwelkom intussen die voeging van die Rule of Law-projek as amicus curiae tot die saak. Luidens ʼn verklaring van die Rule of Law-projek wil hulle die hof bystaan deur aandag te vestig op die Grondwet se verbintenis in artikel 1(b) daarvan tot nie-rassigheid. Voorts is die Rule of Law-projek bekommerd daaroor dat die minister se regulasies die oppergesag van die reg in gedrang bring, aangesien die minister nie by magte is om regulasies oor verkryging vir die hele regering te maak nie, maar slegs vir sy eie portefeulje van nasionale staatsfinansies.

Die sekuriteitsgroep, Fidelity, het aansoek gedoen om as respondent in die saak toegelaat te word. Die groep fokus op die skade wat minister Gordhan se verkrygingsregulasies veroorsaak het en steeds veroorsaak.

Sakeliga se regsverteenwoordigers sal op 25 Mei mondelinge betoë in die konstitusionele hof lewer, in dié opspraakwekkende en toonaangewende saak oor swart ekonomiese bemagtiging in staatsverkryging. Sakeliga wil sien dat die konstitusionele hof bevestig dat voormalige minister van finansies Pravin Gordhan buite magte opgetree het toe hy in 2017 die betrokke regulasies uitgevaardig het en dat ministers nie sodanige bevoegdhede het nie.

“Die 2017-PPPFA-regulasies het, sonder die parlement se toestemming, ʼn nuwe era in rasgebaseerde verkryging, wat op geen wyse die openbare belang dien nie, ingelui,” verduidelik Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. “SEB is ʼn mislukte en skadelike beleid, en veral op die gebied van staatsverkryging het dit ʼn toksiese teelaarde vir korrupsie geskep, omdat dienslewering en produkte nie aan hul nut vir die publiek gemeet is nie, maar aan hul nut vir politici.”

Die saak hou verreikende gevolge in vir die toekoms van ras-gebaseerde wetgewing en die impak daarvan op die sake-omgewing en ekonomie in Suid-Afrika.

“Die konstitusionele orde, wat ʼn voorvereiste vir ʼn gunstige sake-omgewing is, word in gedrang gebring wanneer lede van die uitvoerende gesag, sonder die magtiging van die wetgewer en strydig met die beginsels van konstitusionalisme, na goeddunke ideologies gefundeerde regulasies uitvaardig,” waarsku Le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pieter ·

Hoe kan jy n land best as jy net graad twee op skool gehad het. Die land is in n groot gemors te danke aan die kommunistiese ANC.

Tiptol ·

Die hoogste hof het klaar uitspraak gelewer. BEE is net ‘n ander woord vir korrupsie.

Dirk Mostert ·

Ek sien BEE as ‘n erkenning van eie minderwaardigheid.

FM ·

Tenspyte van al die harde feite glo ek onwrikbaar dat hier ‘n omkeer in ons pragtige land aan’t gebeur is.

Indien net een persoon met my saamstem is dit voor God se troon waar HY in almag regeer.

Yvonne ·

FM ek glo met my hele hart dat die Heer in beheer is en op Sy tyd sal dinge gebeur

Fedup ·

I will not be holding my breath.
Let’s see where this will be going then.
One thing I know, all this bee nonsense is illegal though.
No matter which way one look at it.

JM ·

FM, ek stem saam met jou en glo ook dat dinge in hierdie land aan die draai is na reg en geregtigheid.

Sarel ·

Indien die aansoek nie slaag nie gaan die ANC wraak neem en gebruik met verkiesing later vanjaar en sal heel moontlik BEE verskerp

Anoniem ·

Gr 2 in ou Taal beteken Sub B !!! Jacob Zuma was president en het Gr 5 (St 3 ) gehad.

Johan ·

Is daar nog lande waar ongeletterde beeswagters aangestel word in die hoogste amp?

jzjz05 ·

BEE en SEB het die selfde uitwerking as Apartheid. As Aparheid onaanvaarbaar was is BEE en SEB net so onaanvaarbaar. Maar dat dit vandag deur die regering van nou met n gouerandtjie voor gehou word omdat polieties korrek is.???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.