Grootste knaagdier woon nou in Pretoriase dieretuin

Kapibaras by die Overloon-dieretuin in Nederland waar die Pretoriase-drie gebore is. (Foto: ZooParc Overloon/Facebook)

Die grootste knaagdier ter wêreld sal vandeesweek weer by die Pretoriase dieretuin te siene wees nadat hulle langer as 20 jaar nie in Suid-Afrika woonagtig was nie.

Tracy Rehse, direkteur van bewaring by die dieretuin, het Maandag aan Maroela Media gesê dat drie semi-akwatiese kapibaras Dinsdag by die dieretuin vrygelaat sal word.

“Die mannetjie en twee wyfies is almal een jaar oud en weeg tans 22 kg. Dié knaagdiere kan tot 12 jaar in aanhouding leef en selfs tot 50 kg weeg. Hulle kan ook tot 1,4 m in lengte en meer as ʼn halfmeter hoog groei.”

Die drie het van die Overloon-dieretuin in Nederland gekom waar hulle ook gebore is, maar die spesie kom oorspronklik in groot dele van Suid-Amerika voor.

Die kapibaras sal deel uitmaak van ʼn nuwe Suid-Amerikaanse uitstalling by die dieretuin wat na verwagting binne die volgende paar maande diere soos swane, eende en rivierskilpaaie wat eie aan die land is, sal huisves.

“Ons was op die uitkyk vir ʼn unieke en eksotiese dier om by die dieretuin aan te hou en kapibaras was die natuurlike keuse daarvoor,” het sy gesê.

“Hulle is nie net die grootste knaagdier ter wêreld nie, maar ook kundige swemmers wat hul eie ontlasting in die oggende eet.”

Kapibaras is herbivore wat aan gras, water- en ander plante wei om hul tande wat voortdurend groei in bedwang te hou. Dié enorme knaagdiere eet egter ook hul eie proteïenryke ontlasting juis omdat die gras so moeilik verteerbaar is. Hul afval help om die gras twee maal te verteer.

“Kapibaras is baie sosiale diere wat dit geniet om in groot watermassas te wees. Hulle nuwe woning het ʼn groot waterbron waarin hul kan baljaar en ons verwag dat hulle baie aktief deur die dag sal wees.”

Dié diere se varkvormige liggame is aangepas om in water te lewe en hul gedeeltelik gewebde tone help ook hiermee. Kapibaras se klein oë, neus en haarlose ore is hoog op hul koppe sodat hulle waaksaam in die water kan bly.

Kapibaras word deur verskeie lande as ʼn indringerspesie beskou en klein groepies van hulle is reeds in Florida, Amerika, opgemerk.

“As deel van ons toestemmingsvoorwaardes vir die verkryging van dié diere mag die mannetjie nie met die twee wyfies paar nie. As gevolg hiervan is hy reeds gesteriliseer,” het Rehse gesê.

“Ons het gehoop om ʼn paar baba-kapibaras te verwelkom, maar verstaan ook dat ʼn moontlike indringerspesie katastrofiese gevolge kan inhou.”

Die drie kapibaras sal Dinsdag om 10:30 by die Pretoriase dieretuin in Gauteng vrygelaat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Belinda ·

Hule is te cute. Hulle lyk soos groot ginea pigs. Sal like van so ene as troetel dier. Kan imagine hoe my katte sal reageer. LOL.

Bjorn ·

Nee asb kry n ander huis vir hulle, die dieretuin in pretoria is in n onherstelbare toestand.

Pieter ·

Ek stem, ek was so paar maande terug daar, en ek was geskok om te sien hoe dit agteruit gegaan het

Casper ·

Souterige as hulle hiasinte eet is dit nie die oplossing vir Harties nie.

Blikkies ·

Mmmmm, hulle lyk so lekker want hulle eet so lekker in die oggende?

Casper ·

Daai ou grootte lyk dan groter as ‘n leopard.Sal nie wil hê hy moet my aan die arm beetkry nie.Hy byt jou arm morsaf.

Marcel ·

Hoekom enigsins uitheemse spesies hier vertoon? Volgende is ‘n Indiese Olifant. Maar ja laas toe ons die Dieretuin besoek het was dit vuil, golf karretjies wat jou platry, en orals leë hokke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.