Grootste ossewa-trektog in 34 jaar

Meer as 180 jaar na die Groot Trek het inwoners van die Vrystaat Saterdag weer 16 ossewaens op hul eie groot trek gesien.

Van Clarens na Parys het dié ossewaens hul staal gewys. Hulle is op sleepwaens gelaai en het die lang pad na die FAK se vakansieplaas Udolpho, net buite Parys in die Vrystaat, aangedurf.

Die FAK het ’n ossewakamp in Clarens gekoop. Die waens is gekoop as ’n nuwe toevoeging tot die FAK se vakansieplaas Udolpho se akkommodasie-opsies.

Vrywilligers van oraloor het gehelp om dié waens te vervoer op die tog deur die Vrystaat. Motors met sleepwaens met hul kosbare vrag het van Clarens deur Bethlehem, Reitz, Petrus Steyn, Heilbron, Deneysville, Sasolburg en Parys gery waar hulle uiteindelik hul bestemming aan die oewer van die Vaalrivier bereik het.

Jan-Danie Malan, die FAK se kultuurorganiseerder in die Vrystaat, sê elke deelnemer aan die “Groot Trek” het ’n Voortrekker-naam gekies. Malan self het onder die naam van Paulus van Gass gereis. Paulus was ’n Voortrekkerseun wat saam met Hans Dons de Lange op ’n verkenningstog gegaan het.

Marius van Zyl trek onder die naam Sarel Cilliers en het die gebed afgelê voor die 16 ossewaens weggespring het. Dit is simbolies van Cilliers wat die gelofte afgelê het van 9 tot 16 Desember in 1838 voor die bekende Slag van Bloedrivier waar 464 Voortrekkers ’n Zoeloe-aanvalsmag kon afweer.

Jaco Cilliers, die hoof van Erfenisbewaring van die Erfenisstigting, het die sweep geklap om die geskiedkundige “Groot Trek” van 2022 af te skop. Die geskiedkundige trek is die grootste van sy soort sedert die historiese 150ste herdenking van die Groot Trek.

“Dis sedert 1988 die grootste trek wat nog deur die land aangepak is. Dis nou wel op bakkies, maar dit is ’n trek wat ons almal geniet en waardeer,” sê Malan.

Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor die hele groep en veral die vrywilligers wat onbaatsugtig hul hande kom vuil maak het vir ’n goeie doel. “Dankie vir elke vrywilliger wat hier gehelp het en hul tyd opgeoffer het en swaar werk gedoen het om hierdie waens op te kry en op die pad te wees,” sê ’n trotse Malan.

Die Rapportryerbeweging en Bethlehem Museumtrust het die konvooi in die dorp ingewag en sterkte met die tog toegewens. “Ons wil graag die konvooispan sterkte met die reis toewens. Ons vertrou dat die reis sonder teëspoed sal verloop en dat hierdie ‘Trek’ ook sal dien as ’n nostalgiese ervaring en terugblik op die verlede, maar ook ’n vergesig op die toekoms van bemagtiging en identiteitsvorming van die Afrikanerjeug,” sê Danie Eichstädt, die voorsitter van die Rapportryerbeweging se Bethlehem-korps.

Die konvooi het Saterdagaand reeds op die oewer van die Vaalrivier aangekom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.