Grootste prys nóg vir beste Afrikaanse reklame

Pendoring 2015

Pendoring 2015

’n Oorsese studiereis ter waarde van ’n allemintige R100 000 om by die skerpste reklameskeppers oorsee te gaan leer. Dít is die vet prys waarmee die Pendoring-reklametoekennings vanjaar, ter viering van sy 20ste verjaardag, die algehele wenner wat met die Prestige-toekenning wegstap, gaan beloon – die grootste óóit vir skeppende werk in die plaaslike reklamebedryf.

Tipies van twintigjariges, sit Pendoring nie stil nie, maar is vol nuwe planne. Om reklame die geleentheid te gee om opnuut die oorspronklikheid, kreatiwiteit, humor en trefkrag van die Afrikaanse taal ten toon te stel en te vier, is die fokus vanjaar uitsluitlik op Afrikaanse reklame. Met dié doel voor oë, het die Pendoring-direksie besluit om weg te doen met die Eg Suid-Afrikaanse afdeling waarin enige van die 11 amptelike landstale kon meeding solank die konsep Eg Suid-Afrikaans was.

“Pendoring is nie oorspronklik in die lewe geroep om reklame as sodanig te bevorder nie, maar spesifiek om kreatiewe, oorspronklike en uitmuntende Afrikáánse reklame te bekroon,” het Japie Gouws, voorsitter van die Pendoring-direksie en besturende direkteur van die ATKV-groep, gesê. “Die Eg Suid-Afrikaanse kategorieë het mettertyd die fokus weg van Afrikaans af verskuif. Dít het nie advertensie-agentskappe en bemarkers aangemoedig om werklik treffende Afrikaanse advertensies te skep nie. Inteendeel, die meeste inskrywings in dié kategorieë was in Engels.”

Gouws het daarop gewys dat Afrikaans vanjaar 90 jaar oud is. “Ons wil die lewenskrag van dié dinamiese jong taal vier met advertensies wat álle Suid-Afrikaners sal geniet, ongeag hul kultuur en taal,” het hy verduidelik. “Afrikaans is ʼn ryk bron waaruit ons kan put wanneer dit kom by die skep van advertensies met impak. Dit moet aangemoedig word. Ons land sal soveel armer wees sonder Afrikaans!”

Volgens hom praat Afrikaanse advertensies met die Afrikaanse verbruiker in sy eie taal en dra dit by tot die kleurrykheid van ons land. “Dink maar aan die destydse Cremora ‘koffiekapitaal’-advertensie met Jan Spies wat vertel dat Cremora ‘pure plaas’ proe. Meer onlangs het die Klipdrift-advertensie ‘met eish, ja’ almal oorrompel en volksbesit geword. En wie sal ooit Sasol se ‘glug-glug’-advertensie vergeet met die ouma wat ewe goedgelowig sê hul kleinkind gaan ‘seker nie ver nie’ wanneer sy stootkarretjie met tollende wiele van die stoep af jaag?”

Gouws meen Afrikaans hoef regtig nie afgeskeep of geïgnoreer te word as ’n minderheidstaal nie – en bemarkers moet dit weet. “Dit gaan, om die waarheid te sê, baie goed met Afrikaans,” het hy bygevoeg. “Volgens die 2011-sensus is Afrikaans die huistaal van sewe miljoen Suid-Afrikaners. En anders as wat baie mense dink, is Afrikaans nie ‘wit’ nie. Net 40% van alle Afrikaanssprekendes is wit; 50% van alle Afrikaanssprekendes is bruin, 9% swart en 1% is Indiër. Te meer, daar is 13 miljoen Suid-Afrikaners wie se eerste addisionele taal Afrikaans is. Daar is dus nie minder nie as 20 miljoen mense in Suid-Afrika wat Afrikaans magtig is. Dís mos nie ʼn minderheidstaal nie!”

Volgens Gouws wys 2013 se matriek-uitslae dat 55 000 van die 550 000 matrieks se huistaal Afrikaans was en 140 000 het Afrikaans as eerste addisionele taal gekies. “Dit is jongmense wat ook ʼn behoefte het om in die taal van hul voorkeur aangespreek te word. Bemarkers kan nie só groot segment van die bevolking ignoreer nie. Dit is immers ’n bewese feit dat adverteerders ’n groter opbrengs op hul bemarkingsbelegging kry wanneer daar met ’n teikenmark in sy moedertaal gepraat word.”

Benewens die oorsese studiereis van R100 000 vir die Prestige-wenner, ontvang elke kategoriewenner ’n goue Pendoring-trofee en R6 000; naaswenners kry ’n silwer Pendoring en R2 500; en die algehele studentewenner R10 000.
Sluit aan by Pendoring se Facebook-groep of volg @Pendoring_ op Twitter en gebruik die hutsteken #Pendoring. Vir meer inligting oor die toekennings besoek www.pendoring.co.za

Inskrywings het Maandag, 4 Mei 2015 oopgemaak en sluit 31 Julie 2015.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Duidelik ignoreer Jonathan Jansen hierdie statistiese gegewens wat nie gelieg kon word met die motivering vir slegs engelse onderrig aan die UV.

Eish! ·

Glo my, ek kan regtig nie meer wag vir dit nie. Ek dink ons gaan feesvier onder al die lekker advertensies. Niks se iets soos die taal Afrikaans nie. En dit is ‘n aanhaling van een van my swart kollegas. Hy sal soms vir my kom vra: hoe kan ek in mooi Afrikaans dit en dat se. Dan moet ek vir hom ‘n idioom of vergelyking uitdink om te gebruik. Afrikaans Bo! Of sal ek soos die hele land se as iets lekker is: Vrystaat! (lol, al is dit ‘n bul, ons almal verstaan wat dit beteken, naamlik oorwinning of lekker!)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.