Grootste saak oor SEB Dinsdag aangehoor

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. (Foto: Morné Prinsloo)

Die grootste SEB-en-verkrygingsaak tot dusver sal Dinsdag in die Konstitusionele Hof aangehoor word wanneer Sakeliga ’n vroeër uitspraak in sy guns rakende die 2017-verkrygingsregulasies sal moet verdedig.

Sakeliga het op die vooraand van dié opspraakwekkende en toonaangewende saak gesê die algehele konsensus is steeds dat SEB as bemagtigingsvoertuig misluk het en hervorm moet word.

“SEB is een van die skadelikste beleidsvorme in Suid-Afrika vir ekonomiese groei,” het Piet le Roux, hoof van Sakeliga, Maandag aan Maroela Media gesê. “Ons sal SEB moet verander as ons ’n volhoubare toekoms in hierdie land wil hê.”

Sakeliga se regsverteenwoordigers sal môre mondelinge betoë in die Konstitusionele Hof lewer. Volgens Sakeliga behoort die Konstitusionele Hof te bevestig dat die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan, buite magte opgetree het toe hy in 2017 die betrokke regulasies uitgevaardig het en dat ministers nie sodanige bevoegdhede het nie.

Die saak spruit uit ’n appèl deur die minister teen die bevindinge van die Hoogste Hof van Appèl verlede jaar. Dié hof het met Sakeliga saamgestem dat die 2017-verkrygingsregulasies, uitgevaardig deur min. Pravin Gordhan, onwettig en ongrondwetlik is. Die regulasies het ’n nuwe era in SEB-verwante staatsverkryging ingelui: vir die eerste keer kon staatsentiteite weier om tenders te aanvaar as dit nie aan arbitrêre SEB-vereistes voldoen het nie, terwyl hulle voorheen slegs tussen 10% en 20% van tenderpunte kon aftrek.

In plaas daarvan om by die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl te berus, het die minister van finansies egter – onder meer op openbare aandrang van die ANC-sekretaris-generaal, Ace Magashule – appèl by die Konstitusionele Hof aangeteken.

Maroela Media het vroeër vandeesmaand berig die EFF, die Vryemarkstigting se Rule of Law-projek, en die sekerheidsmaatskappy Fidelity het intussen as respondente en/of vriende van die hof (amici curiae) betrokke geraak.

grondwethof2

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

Le Roux meen Sakeliga is slaggereed vir môre se hofgeding.

“Ons het ’n uitstekende uitspraak in die Hoogste Hof van Appèl gehad. Ons het ’n goeie regspan en vriende van die hof wat toegetree het en ons het lede van die publiek aan ons kant.

“Ons is aan die regte kant van die geskiedenis.”

Driebeenstrategie

Le Roux het ook Maandagoggend Sakeliga se strategie teen die regering se SEB-beleid tydens ’n mediakonferensie bekend gemaak.

Dié strategie het “minder SEB, meer besigheid” ten doel en berus op drie bene, naamlik organisasie, litigasie en die bevordering van die alternatief tot SEB.

Organiseer

Sakeliga beoog om ondernemings en kapitaal téén SEB te mobiliseer, asook finansiële steun vir SEB-litigasie en SEB-alternatiewe te werf.

Litigeer

Die organisasie wys daarop dat SEB ’n gevestigde konsep en praktyk in Suid-Afrika geword het en nie eensklaps met litigasie gestuit kan word nie. Die organisasie se strategie is dus om SEB “laag vir laag” deur middel van litigasie te pak. Sakeliga oorweeg tans vyf sake vir litigasie.

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

Dit sluit in die regspraktisynskode (konsep) wat die onafhanklikheid van die regsprofessie met rasgebaseerde vereistes beïnvloed, asook die Wet op Eiendomspraktisyns wat rolspelers soos makelaars, agente en verhuurders se reg op saketoegang as eiendomspraktisyns afhanklik maak van geldige SEB-sertifikate.

Nóg ’n saak wat oorweeg word, is munisipale veilings waartydens mense wat nie swart is nie verhoed word om aan sommige veilings deel te neem waar staatseiendom verkoop word.

Die beraamde koste van die vyf sake beloop R5,5 miljoen en “moet lei tot hervorming van SEB-beginsels en die weg baan vir ’n ná-SEB-sakeomgewing”.

Bevorder alternatief

Sakeliga wil voorts “ware bemagtiging” bevorder en moedig dus as deel van sy strategie alle sakelui en lede van die publiek aan om nie aan SEB deel te neem nie. Hulle word eerder aangemoedig om sake te doen met sakeondernemings wat waarde toevoeg ongeag ras en politieke voorkeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Laat ou ace en die slim anc die regskostes uit hulle eie sakke betaal. Hoekom moet ons as belasting betalers altyd betaal vir die anc se gemors.

Wakkerslaper ·

Kyk, ek wens julle alle sterkte toe, maar ek is bevrees ek is nou nie te optimisties nie. Hierdie kommunistiese terroriste regime sal hom nie so maklik laat onder kry nie. Waarom dink julle word die howe teen so ‘n vinnige pas getransformeer? SEB is een van die regime se grootste wapens om ons as blankes te verneder, te verarm en te verjaag. SEB vereistes sal NOOIT versag word nie…. Wat nog van laat vaar word!

SjN ·

Die saak gaan seker weer uitgestel word, hoop geregtigheid seevier.

Kokerboom ·

Gaan vir hulle asb Sakeliga! Die President tree totaal rassisties op in alles wat hy doen en sê. Luister net mooi elke keer as die kader praat!! Fyn en geslepe maar paaiend!!

Jakes ·

Ramaphosa het in soveel woorde al verskeie kere gese dat SEB sal bly staan asook kaderontplooing. Ek sal die laaste persoon wees wat die agbare president met integriteit of geloofwaardigheid mee bejeen. Nog minder sal enige hof in SA SEB ongrondwetlik verklaaromdat dit teen die grein van die onbevoegde ANC regering is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.