Grootste stemdag sedert algemene verkiesing

(Foto: Twitter via @IECSouthAfrica)

Vandag is die grootste stemdag sedert die algemene verkiesing, met tussenverkiesings in agt van die land se nege provinsies. Net die Wes-Kaap sit droëbek.

Die meeste van hierdie tussenverkiesings vind plaas in wyke waar die raadslid tydens die algemene verkiesing tot die provinsiale wetgewer of die parlement verkies is.

In baie van die wyke is dit die DA wat sy vesting moet verdedig, en die verwagting is dat dié party dalk ʼn paar kan afstaan.

Die tussenverkiesing wat met die meeste belangstelling dopgehou word, is Ekurhuleni wyk 15 in die hart van Kempton Park aan die Oos-Rand. Die VF Plus neem van die 27 tussenverkiesings net aan hierdie een deel, en kan dus al sy hulpbronne op een plek toespits.

Elders in Gauteng verdedig die DA ʼn baie klein meerderheid net ʼn paar kilometer van Kempton Park in Benoni se voorstad Actonville, waar veral Indiërkiesers woon. Aan die Wes-Rand kry die grootliks bruin kiesers in die Randfonteinse voorstad Toekomsrus ʼn stemgeleentheid, asook elders in die Randfontein/Westonaria-omgewing, naamlik in wyk 8.

Drie tussenverkiesings vind in die Oos-Kaap plaas. In die hart van Makhanda lê Makana wyk 12, wat die Britse Setlaarsmonument insluit. Die deel van Queenstown nes jy van Jamestown se kant af inkom, rondom Queens College, kry vandag ʼn nuwe raadslid, asook wyk 21 van die Mnquma-munisipaliteit, ʼn landelike gebied naby Dutywa in die suidelike Transkei.

Die twee Vrystaatse tussenverkiesings is albei in die noorde van die provinsie, te wete in die woonbuurt Orange Grove in Welkom en in die Kroonstadse township Maokeng.

Die meeste tussenverkiesings vind plaas in KwaZulu-Natal, waar die DA ses wyke verdedig, die IVP een en die ANC twee. Van die ses DA-wyke is vier in Durban (Morningside, Stamford Hill, Umhlanga en Phoenix-Stonebridge) en twee in Pietermaritzburg (Bombay Heights en Raisethorpe). Die ANC-vestings is in Kokstad en ʼn landelike gebied noordwes van Inanda, en die IVP se wyk is ʼn afgeleë vallei tussen Greytown en KawMaphumulo.

Limpopo en die Noord-Kaap het elk twee tussenverkiesings. Die Noord-Kaap s’n is op Loeriesfontein en die wyk in Limpopo lê net buite Mookgophong (Naboomspruit).

Op die steenkoolvelde van Mpumalanga vind twee tussenverkiesings plaas naby die dorpies Lothair en Balmoral, een by Klarinet naby Witbank en nog een in die omgewing van Nelspruit. In al vier hierdie tussenverkiesings kan die ANC ʼn aanslag verwag van die EFF.

Laastens het Noordwes twee tussenverkiesings, naamlik in die Rustenburgse woonbuurt Geelhoutpark en in die myngordel rondom die suidelike hostel van die Impala-platinummyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter Retief ·

Jan-Jan wat n lekker Lees artikel. Dankie vir die mooi Afrikaans.

Jannie van Niekerk ·

Die uitslag van hierdie tussenverkiesings sal bepaal of die meeste Suid Afrikaners misdaad goedgesind is, soos die res van die uitslag in die agemene verkiesing bewys het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.