Grootste tussenverkiesingsdag volg Woensdag

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Pas ná die Amerikaanse politieke hoogtepunt van die jaar gaan Suid-Afrika Woensdag sy eie politieke temperatuur toets, met 95 tussenverkiesings in wyke dwarsoor die land, en die beheer oor twaalf munisipaliteite minstens teoreties op die spel.

Meer as 600 000 kiesers in 95 wyke gaan Woensdag hul wykraadslede verkies, en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se hoofkiesbeampte, Sy Mamabolo, het gesê streng gesondheidsmaatreëls teen Covid-19 sal geld.

Dit is die meeste munisipale tussenverkiesings op een dag in die land se geskiedenis. Die rede vir die baie tussenverkiesings is dat daar, weens die koronavirus-inperkings, sedert Maart nie tussenverkiesings kon plaasvind nie.

In twee Noord-Kaapse munisipaliteite, naamlik Renosterberg (wat setel in Phillipstown) en Phokwane (wat setel in Hartswater) is die hele stadsraad ontbind en sal alle wyke tussenverkiesings hou.

Die ander tien munisipaliteite waar beheer op die spel is, is George en Knysna in die Wes-Kaap, Khai Ma (Pofadder) en Tsantsabane (Postmasburg) in die Noord-Kaap, Walter Sisulu (Aliwal-Noord) in die Oos-Kaap, Mtubatuba in KwaZulu-Natal, Johannesburg en Mogale City (Krugersdorp) in Gauteng, en sowel JB Marks (Potchefstroom) as Rustenburg in Noordwes.

Sommige van hierdie potensiële oornames is uiters onwaarskynlik (dit sou byvoorbeeld vereis dat die DA al vier wyke in George verloor, wat onwaarskynlik is, of albei in Knysna, of dat die ANC uiters veilige wyke in Mogale City en Rustenburg afstaan.

Gauteng

In Johannesburg is die aandag veral op drie wyke – twee in Lenasia (wyke 9 en 120) en een in Riverlea (wyk 68) – wat met baie klein meerderhede deur die DA verdedig word. Die drie raadslede is deur die DA geskors nadat hulle saam met die ANC gestem het om die ANC se Geoff Makhubo tot Johannesburgse burgemeester te verkies.

Inwoners in Tshwane wyk 3 (Proklamasieheuwel, Wespark en Kwaggasrand) se tussenverkiesing is uitgestel.

Elders in Gauteng word ‘n reusagtige stryd verwag in Emfuleni wyk 16, wat die woonbuurte Arconpark en Rust Ter Vaal in Vereeniging insluit, maar ook ‘n splinternuwe plakkerskamp waar die ANC sowat 900 nuwe kiesers geregistreer het.

Oos-Kaap

In die Oos-Kaap val die klem op Kouga wyk 2 (Pellsrus by Jeffreysbaai) waar die DA sal probeer om die ANC te verras, en Walter Sisulu wyk 11 (Jamestown en ‘n deel van Aliwal-Noord) waar die DA meen hy kan dalk net die ANC ontsetel.

Vrystaat

In die Vrystaat sorg Matjhabeng wyk 3 (Hennenman) altyd vir ‘n kop aan kop stryd tussen die ANC, die DA en onafhanklike gemeenskapskandidate, terwyl ‘n wedloop soos min in Mohokare wyk 6 (Smithfield) besleg word tussen die ANC en die EFF.

KwaZulu-Natal

Vyf van die tussenverkiesings in KwaZulu-Natal sal fyn dopgehou word. Ray Nkonyeni wyk 2 is Margate, Ramsgate en die omliggende platteland. Dis DA-wêreld, maar die VF Plus se kandidaat sal weet hoeveel afgetrede Afrikaanse mense in die omgewing woon.

Die DA sal hoop om sy groot meerderhede in Ethekwini wyk 36 (Durban-Noord) en Msinduzi wyk 25 (Montrose en Chase Valley in Pietermaritzburg) uit te bou, terwyl die ANC sal hoop op ‘n goeie wen in Ethekwini wyk 32 (so ‘n lang, dun wyk van die Durbanse middestad tot in Wentworth).

Tydens die vorige tussenverkiesing in Mtubatuba is die ANC-kantoor op die dorp afgebrand en het geweld uitgebreek. Nou verdedig die IVP sy munisipale meerderheid en ‘n meerderheid van net 69 stemme bo die ANC in wyk 10, wat ‘n uiters landelike wyk is.

Limpopo

Van al die tussenverkiesings in Limpopo is die fokus beslis op Polokwane wyk 14 (tussen New Pietersburg en Seshego). Die EFF het in 2016 net-net teen die ANC verloor en sal nou die bordjies wil verhang in hul leier, Julius Malema, se tuisstad.

Mpumalanga

Mpumalanga het twee wyke in die spel waar Afrikaanse kiesers die meerderheid vorm. Emalahleni wyk 18 sluit Reynorif en Spring Valley in, en as die DA en VF Plus mekaar hard genoeg bykom kan die ANC dalk net inglip, soos onlangs in Bethal gebeur het toe die VF Plus weliswaar die tweede plek ingeneem het met die DA derde.

Govan Mbeki wyk 3 is ‘n groot deel van Secunda en in die afwesigheid van ‘n VF Plus-kandidaat kan die DA maklik wen.

Noordwes

Noordwes bied drie interessante tussenverkiesings. Madibeng wyk 29 sluit Broederstroom, Kosmos en Skeerpoort in en behoort in DA-hande te bly. JB Marks wyk 5 is Potchefstroom rondom die Laerskool ML Fick, en dit behoort ‘n groot stryd tussen twee sterk kandidate van die DA en VF Plus op te lewer. Dit is tans ‘n DA-wyk maar die VF Plus het onlangs die nabygeleë wyk in die buurt Miederpark ingepalm.

In Rustenburg wyk 2 (Chaneng en ‘n landelike gebied tot byna by Sun City) het die EFF in 2016 so byna die ANC verslaan en hulle sal wel weer probeer.

Noord-Kaap

Benewens die twee ontbinde munisipaliteite bied twee Noord-Kaapse ANC-wyke ‘n interessante wedloop met die DA wat sal probeer om die ANC te klop in Dawid Kruiper wyk 10 (Rosedale in Upington) en Hantam wyk 3 (Brandvlei en omgewing).

Wes-Kaap

Die Wes-Kaap bied nege interessante tussenverkiesings. In Kaapstad wyk 14 (Blackheath, Happy Valley en Kuilsrivier) sal ‘n plaaslik verdeelde DA hoop om die wyk nietemin op ‘n drafstap te behou.

Minister Patricia de Lille het nog altyd van haar sterkste steun aan die Weskus en in die Suid-Kaap geniet, en sowel sy as haar party, Good, sal in Saldanhabaai en George groot kopsere veroorsaak vir haar voormalige party, die DA.

Saldanhabaai wyk 13 is in Louwville, waar veral die DA, Good en die ANC goed behoort te vaar.

Vier tussenverkiesings vind in DA-wyke in oorwegend bruin dele van George plaas, te wete wyke 8 in Parkdene, 14 en 27 in Pacaltsdorp, en 17 in Rosemoor.

In wyk 8 maak die voormalige burgemeester, Bazil Petrus, ‘n terugkeer as DA-kandidaat. In al vier wyke staan die DA, ANC, EFF, Good, Plaaslike Besorgde Inwoners en, interessant genoeg, die VF Plus.

In Knysna gee inwonersverenigings die DA opdraande in wyke 9 en 10, wat die middedorp en die Koppe omvat. Die VF Plus steek ook in wyk 10 hul toon in die water nadat ‘n VF Plus-tak onlangs daar gestig is.

Drakenstein wyk 3 is die Noorder-Paarl, Agter-Paarl en Slot van die Paarl, waar die DA ‘n verbete aanslag van die ANC en VF Plus moet afweer.

Alle stempunte is Woensdag van 07:00 tot 21:00 oop, behalwe sommige stempunte in die noordelike Transkei, wat reeds om 19:00 sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
AJ

Die opposisie partye word daaraan herinner dat hulle kompeteer met GROOT SKELMS in die komende tussen verkiesings.

Vir GROOT SKELMS, wat kan sien om ‘n staat te kaap, is verkiesingsbedrog sommer ‘kinderspeletjies’!

Voorkoming (van verkiesingsbedrog) is beter as genesing … en voorkoming is baie goedkoper!

Yvonne

Opposisie partye moet baie wakker wees…grootskaalse verneukery weer aan die kom

Dirk Mostert

Is “gerrymandering” wettig? Dis wanneer ‘n wyk se kiesersrol gelaai word met kiesers van ander woongebiede. Ons wyk lyk soos ‘n seekat, met arms in woonbuurte tot 60km hiervandaan, selfs kiesers in ‘n aangrensende distrik. Wie besluit oor wyksgrense? As gerrymandering onwettig is, waar kan ‘n klag ingedien word?
As ingrendeling volgens gerugte teruggaan na ‘n strenger vlak, sal dit natuurlik nie voor Donderdag afgekondig word nie.

Nico

Alle sterkte vir die VF+.