Grootste wildverskuiwingsprojek in Afrika skop af

zinave-olifante-01

Van die olifante wat in 2016 in  Zinave Nasionale Park in Mosambiek hervestig is, kom by die park aan. Foto: Vredesparkstigting/Verskaf.

Een van die grootste wildverskuiwingsprojekte in Afrika het hierdie week afgeskop om wildediere in die 4 000 km² Zinave Nasionale Park in Mosambiek te hervestig.

Wilfried Pabst, eienaar van die Sango-afdeling in die Savé-vallei bewaringsgebied, het 6 000 diere vir hierdie projek geskenk, terwyl ʼn verdere 500 diere van die Gorongosa Nasionale Park in Mosambiek in Zinave hervestig sal word.

Honderde buffels, elande, kameelperde, rooibokke, koedoes, waterbokke, wildebeeste, sebras en olifante sal in die volgende drie jaar na Zinave gebring word. Die 6 500 stuks wild word oor ʼn afstand van sowat 600 km verskuif. ʼn Totaal van 7 500 wilde diere sal in Zinave hervestig word tydens die projek wat deur die Vredesparkstigting gekoördineer word. Dit sal na verwagting later ook roofdiere insluit.

Luidens ʼn verklaring van die Vredesparkstigting sal die 6 500 wilde diere eers in ʼn veiligheidsgebied van 18 500 hektaar aangehou word voordat dit in die kerngebied van Zinave vrygelaat sal word.

Die park is ʼn integrale deel van die Groter Limpopo-oorgrenspark, waarvan die Krugerwildtuin die kerngebied is. Die hervestigingsprogram is deur die regering van Mosambiek begin nadat ʼn bestuursooreenkoms met die Vredesparkstigting in September 2015 onderteken is.

zinave-olifante-02

Die olifante verken hulle nuwe tuiste in Zinave Nasionale Park in 2016. Foto: Vredesparkstigting/Verskaf.

Een van die belangrikste doelwitte van die ooreenkoms sluit die rehabilitasie van die Zinave-park in, wat tot in 1972 een van Afrika se gewildste natuurreservate was. Die park was veral bekend vir sy groot troppe kameelperde. In die middel van die 1970’s het die burgeroorlog in die land uitgebreek en feitlik al die diere in die park, asook in Gorongosa, is gestroop.

Volgens die ooreenkoms sal Zinave se infrastruktuur en veiligheidstelsel opgebou en sy personeel opgelei word om dié park weer as ʼn gewilde toeristebestemming te vestig. Zinave kan veral weer gesog word onder toeriste as ʼn Groot Vyf-bestemming naby die kus.

Die Banhine, Limpopo en Zinave Nasionale Parke is almal belangrike komponente van die Mosambiekse been van die Groter Limpopo-oorgrenspark omdat dit groot stukke land en rivierstelsels met mekaar verbind.

“Met hierdie projek kan ons die skade aan die natuurlewe van Zinave help herstel. Die herstel van groot landskappe en ekostelsels is die tak van oorgrensparke en ons wil die skenkers bedank vir hul ondersteuning van die heropbou van Zinave,” het Werner Myburgh, uitvoerende hoof van die Vredesparkstigting, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anton ·

…sjoe n groot operasie wat wag…ek wens julle alle sterkte en sukses toe met die projek…dankie aan die man wat die wild geskenk het…groot van hom…

M'Lady ·

Ag asseblief. Ek ruik n rot. Wilfried Pabst is n grootwild jagter. Hy kry vir seker iets in ruil van die Mosambiekse regering vir sy “groothartigheid.”

What a joke ! ·

Alles om maar net weer gestroop te word!
Waar nou weer tussen die Suid Afrikaanse grens en ander land word soveel diere gestroop omdat die drade gelig is huh??? Watter slim besluit was dit nie ne die klomp genies!
Ek voel nie veel vir die geld wat die samaritaan in waarde weg gee nie maar eerder vir die diere wat verlore gaan!
Daar is maar net veel honger en baie baie baie gulsige mense oor wanregeerde lande daar buite, baie van die diere gaan dit nie maak sonder regte egte bewaring nie!

Jammer maar ek is nie positief oor die vooruitsigte van bewaring van enige spesies in Afrika nie!
Die kontinent het dit maar net nie in die bloed om te wil bewaar nie!
Te minste gaan iemand lekker bosvleis eet vir n rukkie!
Oh well……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.