Grootvlei se kragprobleme dalk gou verby

Ontevrede inwoners het einde Februarie saamgedrom in opstand teen die munisipaliteit (Foto: Verskaf)

Die Dipaleseng-munisipaliteit in Mpumalanga het aangekondig hy het geld aan Eskom betaal om die kragtoevoer na dorpe in dié munisipaliteit te verhoog.

Onluste het twee weke gelede in Grootvlei uitgebreek weens inwoners se ontevredenheid met die gereelde kragonderbrekings.

Mafundu Makhubu, uitvoerende burgemeester van die Dipaleseng-munisipaliteit, het gesê die munisipaliteit het ’n totaal van R1 773 000 vir opgraderings en R50 656,25 vir uitstaande boetes aan Eskom betaal om sodoende die kragtoevoer van 3 500 KVA na 5 000 KVA na Grootvlei op te stoot.

Greylingstad, wat ook onder dié munisipaliteit val, se kragtoevoer is ook opgestoot tot 7 500 KVA. ’n Betaling van R800 000 gaan Maandag aan Eskom gedoen word.

“Die toename in kragtoevoer gaan binne die volgende 14 dae geïmplementeer word,” het Makhubu gesê.

Maroela Media het vroeër berig roterende kragonderbrekings is in Grootvlei ingestel om te verseker dat die beperkte kragtoevoer deur almal in die verskillende dele van die dorp gedeel kan word.

Dit volg na Eskom Desember verlede jaar die munisipaliteit in kennis gestel het dat die kragtoevoer na Grootvlei beperk gaan word.

Makhubu het gesê die dorp gebruik meer krag as wat Eskom ingevolge sy ooreenkoms aan die dorp beskikbaar stel.

Grootvlei gaan al sedert verlede jaar Desember gebuk onder gereelde kragonderbrekings. Inwoners word partymaal vir dae aaneen in duisternis gedompel.

Ontevrede inwoners het einde Februarie alle paaie na Grootvlei versper. Munisipale dienste is onderbreek en betogers het in groot getalle na die plaaslike munisipale kantore opgeruk, munisipale werkers gedreig en aangeval, asook amptenare en raadslede gyselaar gehou.

Inwoners was erg geraak deur die kragonderbrekings. Inwoners was soms tot vyf dae lank sonder krag en het ʼn tweede keer in drie maande vars produkte en elektriese toestelle ter waarde van duisende rande verloor.

Makhubu sê die munisipaliteit is jammer vir enige ongerief wat die gereelde kragonderbrekings vir inwoners veroorsaak het.

“Ons waardeer almal se geduld en vra almal se samewerking in hierdie moeilike tyd,” het Makhubu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Lambertus

Ons het nog steeds rotasie beurt krag gehad gister. Daar was weer ‘n probleem met die toevoer na Grootvlei Eskom dorp gisteraand en het eers na 10 uur gisteraand weer krag gekry. So ver my kennis strek is ons nog steeds op’ n 24 uur roteer basis. Grootvlei Eskom en Skoonplaas nedersetting ongvang om die 24 uur beurt met Grootvlei Myndorp. Balfour, waar die burgermeester bly, se krag word nie gesny nie…