Grootwithaai het noue ontkoming met stuk plastiek

Die haai het in ‘n stuk plastiek verstringel geraak. (Foto: NSRI)

ʼn Grootwithaai aan die kus van Mosselbaai is van ʼn stadige dood gered nadat dié in ʼn stuk plastiek verstrengel geraak het.

JC Roos, ʼn vrywilliger by die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het medieseondersteuning aan boord die Blue Pointer gebied toe die bemanning ʼn withaai met ʼn plastiekstrook om sy lyf aangetref het.

Die filmspan van Discovery se White Shark South Africa was ook aan boord dié vaartuig en was besig om episodes vir die jaarlikse Discovery Shark Week te verfilm.

Volgens die bemanning het die haai reeds vir ʼn geruime tyd met die stuk plastiek om sy lyf geswem, aangesien dit reeds groewe naby sy kieue gemaak het. Indien die haai nie hulp ontvang het nie sou dié dier waarskynlik ʼn stadige en pynlike dood gestref het.

“Om die boot naby genoeg aan die haai te kry, was byna onmoontlik, so die bemanning het besluit om hom met aas te lok,” het Roos gesê.

Die volgende dag is haai-reddingsapparate by die Blue Pointer afgelewer en die span het te werk gegaan om dit op te stel.

“Ongelukkig kon die apparate nie op die boot gebruik word nie en ons moes ʼn meganisme ontwerp sodat daar genoeg afstand tussen die haai en die boot is. Ons het ʼn stelsel ingerig met behulp van ʼn gewone boothaak en -paal, ʼn losmaakmes, boeie, tou en ʼn paar drywende boeie.”

Die haai is met die derde probeerslag bevry. (Foto: NSRI)

Volgens Roos was hy vol vertroue dat die stelsel die haai sal bevry. Die bemanning het ʼn tunaviskop as aas gebruik en die haai het vinnig die boot genader.

Die reddingspoging het egter in ʼn herrie ontaard toe die haai erg begin spartel het.

“Te midde van die chaos het ek probeer om die plastiek van die haai af te sny, maar hy het so gespartel dat ek nie kop of stert kon uitmaak nie,” het Roos gesê.

Roos het vir die tweede keer probeer, maar die haai was steeds verstrengel en het vinnig weg geswem.

Tydens die derde poging het Roos daarin geslaag om die plastiekstuk af te sny en die haai te bevry.

“Die haai het met ʼn hengse spoed weg geswem en almal op die boot het begin juig.”

Die stuk plastiek waarin die haai verstrengel was, is glo afkomstig van pakkies aas wat deur vissermanne gebruik en oorboord gegooi word.

Dié bevrydingspoging was ʼn eerste vir Roos en die NSRI as geheel.

“Dit was ʼn opwindende ervaring en ek is dankbaar om deel te wees van ʼn organisasie wat mens en dier help,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SjN ·

Baie dankie aan almal betrokke, darem positiewe nuus vir n slag.

Buks ·

Die regte afrikaanse naam vir die haai is Witdood haai engels is hy Great white shark

Sune van Heerden ·

Dagsê Buks en Brakanjan

Die naam “grootwithaai” word heeltemal erken en aanvaar in Afrikaans.
Trouens, om sy reputasie as ‘n “mensvreter” te weerlê, word die naam “grootwithaai” deur baie natuurliefhebbers verkies (sien die skakel na die Afrikaanse Wikipedia wat Brakanjan gedeel het).

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Cherokee ·

Ook die naam wat ek verkies, om logiese redes. Dankie Suné.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.