Groter kontantprys vir Gerda Steyn ná Comrades-rekord

Die Suid-Afrikaanse kampioene Edward Mothibi en Gerda Steyn ná hul oorwinning Sondag in die Comrades-marathon van Durban na Pietermaritzburg (9 Junie 2019) (Foto: Motshwari Mofokeng/African News Agency/ANA)

Suid-Afrika se Gerda Steyn het ʼn kontantprys van R1,2 miljoen ontvang ná sy Sondag die rekord verbeter het tydens die Comrades-marathon van Durban na Pietermaritzburg.

Steyn het binne 5 ure, 58 minute en 53 sekondes oor die eindstreep gejaag. Sy verbeter die vorige rekord met meer as 10 minute wat in 2004 deur Elena Nurgalieva van Rusland opgestel is (6:09:23).

Die 29-jarige ontvang ʼn bedrag van R500 000 omdat sy die eerste vrou oor die eindstreep was, ʼn bykomende R500 000 omdat sy die rekord verbeter het en R200 000 omdat sy die eerste Suid-Afrikaanse vrou oor die eindstreep is.

Alexandra Morozova, van Rusland, wat die tweede vrou oor die eindstreep was, het 18 minute 48 sekondes ná Steyn by die eindstreep aangekom.

“Ek kan dit nie glo nie. Ek kan nie in hierdie stadium my bene voel nie,” het Steyn ná haar oorwinning gesê. “Ek voel geseënd en baie dankbaar vir vandag se wedloop. Ek was verlede jaar so gefokus op my plan, en vanjaar het ek net gehardloop soos wat ek gevoel het. My wedloop het met erns begin toe ek besef die rekord is ʼn moontlikheid. Ek het my alles gegee en alles op die pad gelos.”

Die Suid-Afrikaner Edward Mothibi was die eerste man oor die eindstreep en het die 94ste weergawe van die gewilde (en moordende) Comrades-marathon gewen. Dit was boonop net sy tweede Comrades-probeerslag. Hy het die afstand in ʼn tyd van 5:31:33 afgelê, nie eens ’n minuut vinniger as Bongmusa Mthembu in die tweede plek nie. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Chantelle ·

WELL DONE!!!! op so n besonderse prestasie Trots op die groen en goud

Griet Skryf n Sprokie... ·

JY VERDIEN DIT,DEUR EN DEUR!!! WELGEDAAN GENIET DIT SUSSA!

Ellisras ·

Ek hoop nie deel van die prys moet deur die Ministerie van Sport betaal word nie. Hulle is swak betalers.

Thelma ·

Wonderlik, weereens baie geluk.

Ek is so trots daarop dat beide man en dames wenner van SA is.

Rupert Ashford ·

Baie geluk, voorwaar iets om op trots te wees. Hoop nie sy moet helfte vir SARS gee nie.

Kwagga ·

Ai, besef die die media dan nie dat ons in SA bly nie, nou weet elke tweede rower wat nuus lees sy is R1.2milj ryker……

Geluk Gerda.

Daan ·

Net vandag begin ek oefen – om TV te kyk vir volgende jaar se Comrades

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.