Groter vraag laat makadamiapryse styg

Foto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Pryse vir makadamianeute is besig om te styg nadat dit verlede jaar tot ʼn rekordlaagtepunt gedaal het. Met die Suid-Afrikaanse oestyd op hande is daar dus groot hoop vir die toekoms. Kenners waarsku egter dat dit nou meer as ooit nodig is om die ideale prys vir makadamianeute te vind om die langtermynvolhoubaarheid van die bedryf as ʼn geheel te verseker.

Roelof van Rooyen, direkteur van Global Macadamias, sê vroeë aanduidings uit markte in Asië, die Midde-Ooste, Europa en die VSA toon daar is ʼn sterk vraag na gedopte én ongedopte neute.

Dit volg op ʼn moeilike tyd verlede jaar, toe Chinese kopers munt geslaan het deur groot hoeveelhede neute teen rekordlae pryse aan te koop. Dit is egter die aggressiewe aankope uit China wat ʼn invloed gehad het op die oortolligheid in die mark en waaraan vanjaar se stewiger vraag te danke is.

Aanduidings regdeur die mark is dat dop- en pitpryse vir makadamias met tussen 10% tot 30% gaan styg, afhangende van kraakstyl, grootte en gehalte.

“Selfs met die styging is pryse nog ver weg van waar dit moet wees vir volhoubaarheid in die bedryf. Om alle rolspelers in die mark volhoubaar te laat funksioneer is dit belangrik om ʼn balans in terme van pryse te vind,” sê Van Rooyen.

Met China as die hoofmark vir ongedopte neute het baie boere verlede jaar hul neute regstreeks aan Chinese kopers gelewer, veral waar kopers bereid was om onmiddellike betalings vir neute te doen.

“Dit het boere se kontantvloei op plaasvlak gehelp, maar was nie noodwendig goed vir die bedryf nie”, sê Van Rooyen. Hy waarsku dat sulke transaksies op die duur dalk nie volhoubaar kan wees nie.

Vanjaar se stewiger pryse ten spyt is die pryse volgens hom nog nie waar dit moet wees vir die langtermynvolhoubaarheid van die bedryf nie. Baie werk moet dus nog gedoen word wat produkontwikkeling betref en aan die verwerkingskant van makadamianeute.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Ons gewone mense kan dit alreeds nie bekostig nie en nou wil hulle dit nog duurder maak? Neute is baie gesond, maar daar is nie meer ‘n neut wat bekostigbaar is. Dit is so jammer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.