Gru-aanval op pendelaars skok Kaapse stadsraad

Argieffoto

Die grusame besonderhede van die jongste aanval op ʼn Kaapse pendeltrein skok hom meer as wat hy kan verwoord, sê Brett Herron, Kaapse burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling.

ʼn Pendelaar is Vrydagaand doodgesteek en agt mense beroof en van ’n Metrorail-trein afgegooi terwyl dit onderweg was tussen Lynedoch en Eersterivier naby Stellenbosch. Een van die slagoffers is met ’n afgebreekte meslem in sy kop aangetref.

Herron sê Kaapse spoorpendelaars moet daagliks gewelddadige aanvalle op treine trotseer. Hy beskuldig die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) daarvan dat hy nie sy deel betaal vir die finansiering van die spesiale Spoorwetstoepassingseenheid wat die Stad Kaapstad tans oplei nie.

Prasa se raad het intussen met “uiterste skok” op die voorval gereageer en beskryf dit as “ʼn sinnelose aanval op weerlose pendelaars”.

“Dié gevoellose optrede deur medeburgers op onskuldige passasiers, wat oor die algemeen van die armstes van die armes is, is tekenend van ʼn gewonde nasie,” sê Khanyisile Kweyama, Prasa-raadsvoorsitter. “Ons probeer nog die volgehoue aanval op en vandalisme van infrastruktuur in die Wes-Kaap verstaan.”

Sy sê die “skielike verskuiwing na aanvalle op onskuldige burgers, is ondraaglik en word ten sterkste veroordeel”.

Volgens Herron het Prasa in Mei vanjaar ʼn ooreenkoms onderteken ingevolge waarvan die korporasie ingewillig het om die spesiale eenheid saam met die stadsraad en Wes-Kaapse regering te help finansier. “Die stadsraad en provinsiale regering het ongekende steun aan Metrorail-pendelaars gebied omdat hulle ons inwoners is en onder onaanvaarbare, onmenslike en onveilige toestande moet reis.”

Hy sê ten spyte van Prasa se verpligting om ʼn veilige openbarevervoerstelsel te verseker en al die stadsraad se pogings om hulle te help om hul plig na te kom, wag hulle steeds op die korporasie se bydrae van R16 miljoen. “Ons het talle dringende versoeke gestuur om die Prasa-bestuur te herinner om hul belofte na te kom.”

Weens die tekort van R16 miljoen moet die stadsraad nou die aantal kwekelinge in die opleidingsprogram verminder, sê Herron. Die stigting van die eenheid en bedryfskoste vir 12 maande beloop sowat R47,9 miljoen.

Herron meen die spoorpendeldiens in die Suidwes-Kaap is op die rand van ineenstorting.

Hy het Sondagaand ʼn dringende beroep op Blade Nzimande, minister van vervoer, gedoen om in te gryp en te verseker dat Prasa sy deel betaal. “Ek het die minister ook gevra om ʼn noodtoestand af te kondig wat die spoordiens in Kaapstad betref sodat die nasionale regering bykomende hulpbronne beskikbaar kan stel om die voorgesette aanvalle te ondersoek en die skuldiges aan te keer en te vervolg.”

Prasa moedig intussen pendelaars aan om verdagte optrede aan te meld. Hy sê passasiers wat aangeval word, moet geen weerstand bied nie, kalm bly en oogkontak vermy, maar probeer om hul aanvaller se gelaatstrekke te onthou.

Die ondersoek na Saterdag se aanval duur voort. Prasa sê volgens die polisie is al die slagoffers kollegas en woon hulle in die omgewing van Eersterivier. Die agt, almal mans, is na verskeie nabygeleë hospitale gebring.

Maroela Media het die provinsiale polisie om kommentaar genader en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Danie ·

Ek vermoed hierdie het meer te doen met taxi bedryf hoe meer hulle die passesiers intimideer hoe minder gaan hulle van spoor vervoer gebruik maak, dus meer besigheid vir taxis. Ek dink as deeglike ondersoek ingestel word gaan ons almal ontnugter wees.

Jannie ·

NIKS skok my meer in hierdie 4de wêreld se misdaad-mekka nie!!!

Hendrik UAE ·

Ek pleit dom.Bestaan die spoorweg poliesie afdeling nog?

Donderstorm ·

Bring terug die spoorweg polisie en verskerp vieligheids maatreels en die deure moet ook nie kan oopmaak terwyl die treine ry nie

Theresa ·

Ook so gedink, Danie. Die manier hoe die taxidrywers mense op paaie bedreig; skade berokken en ‘n arrogansie tentoonstel wat onwettigheid op talle gebiede weerspieël, is skandalig en ‘n belediging vir die wetstoepassers in hierdie land.
Uber, treine, busse – als kan uitstekende vervoermiddels wees en behoort die ondersoek na die oorsprong van hierdie geweld tot op die been nagevors word.
Terloops, stel die departement moontlik ex-taxidrywers deesdae as busdrywers aan? Nuwe ondervinding is dat busse stop waar geen busstop is nie. Jaag soos padvarke in strate asof geen gevaar inhou nie en ry oor rooi robotte en stopstrate. Ervaar ander dit ook??

Mich ·

Danie, jy is absoluut reg.
Ek hoop “gewone” mense ( én Politici) lees jou kommentaar oor en oor,
TOT die waarheid insink!

Wilma ·

Anc het gesorg dat wet en orde ontaard het in chaos. Kriminele word gearresteer en soma vinnig wee uit op parool. Sies vi SA Wetgewing

Bekommerde ·

Ek is so bekommerd oor die geweldadigheid wat alhoemeer voorkom & niemand wil meer betrokke raak of PA staan vir die probleem nie.
As meer mense opgelei word as Spoorwegpolisie – word meer werk geskep .

Mens kan jou nie indink hoe erg dit moet wees om gedurig in vrees te leef nie. Die buurt waar jy bly is ‘n oorlog zone – om by die werk uit te kom is iets ysliks & dan is die baas daar ook nog bakleierig en jou kollegas ook . Geen wonder dat so baie geweld hoog ty vier

Stuiwer ·

Ek stem nie saam met die opmerking dat slagoffers nie weerstand moet bied nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.