Gru-besonderhede in hof oor egpaar wat vermoor is

Waarskuwing: Besonderhede in hierdie berig kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.

Tewie en Eurika Human. Foto: Verskaf

Die rondgaande hof in Mosselbaai het Donderdag gru-besonderhede aangehoor rakende die moord op Tewie en Eurika Human.

ʼn Spesialis forensiese patoloog, dr. Christa Hattingh, het getuig dat Human minstens 11 kap- en steekwonde deur sy aanvallers toegedien is voordat hy vir dood op die vloer van sy motorhuis agtergelaat is.

Sy vrou, Eurika, is in haar slaapkamer vier keer met ʼn mes in die nek en bors gesteek.

Die egpaar is op 14 Junie 2016 in hul huis in Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap oorval en vermoor. Hulle lyke is vier dae later deur ʼn vriendin gevind.

Die Humans se werknemer, Stephen Lokoro, staan tereg op twee klagte van moord en twee van roof met verswarende omstandighede. Thamsanqa Sishuba dien reeds twee lewenslange vonnisse vir die moorde uit.

Hattingh het getuig dat sy een van die moordwapens, ʼn swaar staalpyp met ʼn lem vooraan, in Human se klere gevind het toe sy die outopsie uitgevoer het.

ʼn Lid van die polisie se uniformtak in Groot Brak, ao. Frik Schutte, het vroeër vandag getuig dat hy die eerste polisiebeampte op die moordtoneel was. Hy het in grusame besonderhede aan regter Mark Sher beskryf wat hy by die Humans se huis aangetref het en gesê dat hy aanvanklik gedink het dat mev. Human dalk nog leef omdat daar lugborrels uit die wonde aan haar nek gekom het.

Stephen Lekoro

ʼn Paramedikus op die toneel kon egter geen hartklop vind nie en sy verklaring was dat mev. Human reeds ʼn geruime tyd dood was en dat haar liggaam begin ontbind het.

ʼn Buurman het aan hom gesê dat Human en haar man in die huis woon maar hy kon mnr. Human nêrens in die huis kry nie. Hy het tevergeefs na die motorhuis se sleutels gesoek en moes uiteindelik die slot breek om toegang te verkry. Daar het hy op mnr. Human se liggaam afgekom waar hy op sy maag gelê het.

Die buurman het die Humans se selfoonnommers aan hom verskaf maar albei fone was afgeskakel, het Schutte getuig.

Nog ʼn getuie, ao. Paulus Scheepers, het ʼn verklaring voorgelees wat die Humans se destydse huishulp, Jeanette Uithaler, in 2016 afgelê het. Sy is intussen met Alzheimer se siekte gediagnoseer en kon nie self getuig nie.

Uithaler sê in die verklaring dat die beskuldigde op die dag van die moord by haar huis vir haar kom sê het dat sy nie die volgende dag moet gaan werk nie omdat die Humans nie tuis gaan wees nie.

Tydens kruisondervraging deur adv. Dawie Scholtz, wat vir Lekoro verskyn, het Scheepers toegee dat hy nie ʼn kenner van Alzheimer se siekte is nie en dat hy nie kan sê of Uithaler met die aflê van die verklaring in 2016 reeds simptome van die siekte getoon het nie.

Die saak duur voort. Adv. Lenro Badenhorst is die aanklaer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Elvira ·

Alzheimers? Sommer skielik gekry nê Jeanette? Ek kry ook soms Alzheimers wanneer dit my pas. Rus in vrede liewe mense, mag hier behoorlike strawwe gegee word.

susan ·

Dis Mark vat vir Elvira aan
Mense maak sommer wilde stellings en verkondig dit vir die waarheid.

Kallimaari ·

Advokaat Dawie Scholtz mag maar sy kop in skaamte laat sak oor die klad wat hy teen homself, die oorledenes, en Afrikaaners bring weens sy verdediging van ‘n moordenaar. Dit is ‘n laagtepunt.

Kobie Welgemoed ·

Ek wonder hoe verdedig jy so moordenaar.? Hoe gaan staan jy voor God? So sal ek nooit in my lewe werk nie. Ek vrek liewers van honger. Mag die Here die familie bystaan en reg laat geskied.

Thomas ·

Jy haal die woorde uit my mond. Hoe slaap jy in die aand advokaat?

HFC ·

Jy lieg vir en saam met hulle wetend dat jy besig is om jou pakslae aan te vul vir die tyd wat kom hierna.

Meisie ·

Mark – Ras bril. Rêrig? Hoe kom jy tot daai gevolgtrekking? Miskien is jy die een wat Elvira se kommentaar lees soos jy wil en nie wat daar staan nie. Baie sterkte aan die familie en vriende in hierdie bitter hartseer saak

Madel ·

Mag reg en geregtigheid geskied…sterkte aan die getuies wat weer die afgryslike gebeure moet herleef dit kan nie maklik wees nie…veral die polisiebeampte AO Frik Schutte wat die ontdekking van die 2 liggame moes doen . Sterkte aan die familie en vriende.

Frankie ·

Die advokaat doen niks verkeerd nie. Enige mens het reg op verdediging. Ek het al dikwels self gesien hoe onskuldige mense in die pen ry vir ander se misdade.
Indien hierdie mense wel skuldig is, behoort hulle die doodstraf opgelê word. In die afwesigheid van die doodstraf, behoort hulle lewenslank te kry, soos in LEWENSLANK, nie 25 jaar nie. Hulle moet in die tronk sterf en daar veras word. Die as kan in die rommel uitgestort word.
Hulle kan ‘n spesiale seksie vir die mense in die tronk skep, soortgelyk aan “death row.” Hulle moet daat bly totdat die doodstraf weer ingestel word, wanneer hul vonnis voltrek kan word. Hulle kan dan hulle dus in daardie eenheid voortdurend bekommer oor die moontlikheid dat hulle wel eendag vir hul grudade tereggestel kan word.
Hulle moet ook verplig word om hul “huisvesting” te verdien deur werk te doen. Indien hulle nie hul daaglikse onoste kan dek nie, moet hulle van hul daaglikse benodighede ontbeur, byvoorbeeld een ete per dag, geen storte nie, ensovoorts. Stel my as hoof van die seksie aan en ek sal hulle mooi uitsorteer.
Daar moet ook nie aan rehabitasie aandag gegee word nie, omdat hulle nie weer teruggeplaas sal word in die samelewing nie. Al die tyd wat hulle uitdien moet daarom as straf uitgedien word.

Kobus ·

HFC, n advokaat of prokureur lieg nie. Hulle lewer nie getuienis nie, maar dra by dat die verhoor ordelik en billik verloop, en staan die hof by om die waarheid en toepaslike reg toe te pas. Dit hou ons sisteem in stand. Hulle werk ook op instruksie van kliente. Ek glo beide advokate doen hulle werk professioneel en met trots.

Jack ·

I am amazed at the ignorance of people like Kalimaari etc, not understanding the legal process. Like doctors, pharmacists etc providing a service to criminals, i trust lawyers also perform their duty with pride and dignity. Do not catagorise yourself.

Domvraag ·

Luister na die verdediging se advokaat ” Lord as instructed by my client” en dan word daar gelieg, feite verdraai ens want dis net n werk en die advokaat moet optree want hy word betaal om die beskuldigde los te kry. So, ek haal my hoed af vir die advokate wat weier om n moordenaar te verdedig wanneer alles daarop dui dat hy skuldig is. Vir die res wat dit net sien as geld maak, julle siel is reeds by Mamon. Jul siel verkoop vir geld.
Dink aan die Oscargeval waar getuies se integriteit aangeval en hul verneder is en dit toe reeds duidelik was dat Oscar skuldig was………hy skreeu soos n vrou en die getuies het hom hoor skreeu en nie vir die vermoorde nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.