Gru-botsing eis hoërskoolmeisie, drie ander

Keshia van Niekerk (Foto: Facebook)

Die gemeenskap van Welkom in die Vrystaat is in rou nadat ʼn gru-botsing tussen drie voertuie die lewe van vier mense geëis het.

Sers. Mamello Mokhuoane, woordvoerder van die polisie, sê die botsing het Saterdagaand kort voor middernag op die R30 buite Virginia plaasgevind.

Mokhuoane sê hoewel die polisie nie in dié stadium noukeurige besonderhede oor die ongeluk het nie, kan sy wel bevestig dat drie voertuie, ʼn Renault, ʼn Land Rover en ʼn Volkswagen Golf, in die ongeluk betrokke was.

Die polisie het twee van die vier slagoffers as Stephan Broodryk (20) en Keshia van Niekerk, ʼn gr.12-leerder aan die Welkom-Gimnasium, geïdentifiseer. Broodryk is op die toneel dood verklaar en Van Niekerk is later in die hospitaal dood.

Mokhuoane sê die polisie kan nie in dié stadium die name van die ander twee oorledenes bevestig nie. Sy sê die ander insittendes van die drie voertuie het nié noodlottige beserings opgedoen nie. Die oorledenes en beseerdes is glo almal jong mense.

Stephan Broodryk (Foto: Facebook)

Intussen het boodskappe van bemoediging op die Welkom-Gimnasium se amptelike Facebook-blad ingestroom.

“Ons innige simpatie en gebede is met Keshia se gesin. Jy was ʼn trotse Gimmie vol lag en vreugde en ons gaan jou vreeslik mis,” het die skool geskryf. “Geen woorde gaan die onbeskryflike pyn en stukkend-wees verlig nie. Hou styf vas aan God se ewigheidsbelofte. Hy druk julle styf vas,” het Dorea Maritz geskryf.

Vriende van Broodryk het ook huldeblyke aan hom op sosiale media gelewer. “Rus sag, Stephan. Ons gaan jou so baie mis. Jy was ʼn baie goeie en spesiale persoon. My hart is nou seer en ek gaan nog baie lank hartseer wees,” het Devin Lambrechts gesê. “Rus sag by liewe Jesus, Stephan. May angels lead you home. Ons almal se hart is nog steeds in skok – ons gaan jou so mis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Carien ·

So verskriklik hartseer. My hart gaan uit aan die ouers en familie van die kinders. Rus sag julle mooi kinders.

VM ·

Dankie vir die beriggewing rondom die noodlottige ongeluk maar dit sal waardeer as Sers Mokhuoane haar feite kan regkry. Twee van die ander kinders word steeds in die intensiewe sorgeenheid behandel agv hul beserings. Een is kritiek maar stabiel en die ander een ernstig maar stabiel. Ons Goudveldharte is stukkend vir hierdie ouers, maar ons weet dat ons Hemelse Vader hierdie ouers en families omsingel met Sy liefde.

Annie ·

Sterkte aan die ouers, familie, skool maats – hierdie is baie hartseer.

leser ·

sterkte aan alle familie en vriende, “die Here het gegee, die Here het geneem” net Hy besluit wanneer Hy Sy blomme wil he

DS ·

My innige innige meegevoel. Ek het ook my seun op so jong ouderdom verloor en geen woorde kan daai verskriklike, rou , hartuitrukkende hartseer beskryf nie. Ek hou julle in my gebede.

adriana ·

Dit is ‘n verskriklike ramp – om die minste te se.
Dink aan julle en wens julle sterkte toe – geen woorde sal die pyn wegneem nie.
Albei pragtige kinders.

Speedguard ·

Dit ruk elke keer ‘n stuk uit my hart uit as ek so berig lees, motors is gevaarliker as vuurwapens, Ek het menigte sulke tonele ondersoek, gehelp en gehuil as ‘n wetstoepasser, dit is asof mens in ‘n ander dimensie beweeg, sterkte aan die ouers en almal wat aan sulke omstandighede blootgestel word of was. Ek in my beperkte kennis Bid vir ‘n iedere en ‘n elk van julle !!!

apie ·

Dankie Speedguard vir ‘n stuk goeie raad. Stem saam. Tragies

Ouer ·

Hoe gaan dit met die ander kinders/ jongmense in die hospitaal? Hoop daar is verbetering? Laat weet indien iemand kennis dra asb?
Sterkte aan die ouers wat hulle pragtige kinders verloor het.
Dit is n tragedie.

Anoniem ·

Hi “Ouer” .. die een seun in die Hospitaal – is stabiel hulle gaan hom donderdag stadig uit sedasie bring, asook die ander meisie maar sy moet nog n wangbeen operasie kry.

Theresa B ·

Dis bitter hartseer. Sulke pragtige jongmense wat se hele lewe nog voor hul gelê het. Baie sterkte vir al die families. Mens het nie regtig woorde nie.

Isabel ·

Vanoggend is ek stukkend oor my seun wat ook in n motorongeluk seer gekry het en in hosp na 40dae aan n kiem dood is.. Matriek jaar net kla gemaak! Elke keer as ek hoor van n kind wat dood is is ek van voor af in rou!!! dit is hartverskeurend..
Dink so aan die ouers!!

Hannelie ·

My hart is seer vir die ouers wat hul kinders verloor het, hulle is nog so jonk. Mag jul vertroosting kry, jul gaan almal deur hartseer en skok, maar weet God is daar om jul op te tel, vas te hou en te vertroos. Dis so verskriklik om sulke berigte te lees. Ek het ook my broer 12 jaar gelede in ‘n grusame ongeluk verloor. STERKTE !!

Gesiggie ·

So hartseer, 2 mooi jong kinders wat nog n lewe voor hul gehad het…. May Angels lead you Home soos deur vriend gestel…. RIP Keshia en Stephan…. en sterkte aan die Familie en vriende wat afskeid moes neem van die twee pragtigge kinders, mag God jul vertroos en bystaan deur die tyd van smart

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.