Gru-botsing in Mpumalanga eis vier

Die wrak van die Volkswagen Polo. (Foto: Verskaf)

Vier mense is Vrydagaand in ’n gru-botsing op die N2 tussen Piet Retief (Mkhondo) en Ermelo in Mpumalanga dood.

Moeti Mmusi, woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, sê ’n Volkswagen Polo en ʼn Toyota-bakkie het reg van voor gebots.

Die trompop botsing het die lewe van die bestuurder van die Volkswagen Polo, dié van sy twee vrouepassasiers sowel as die lewe van die bestuurder van die bakkie geëis. Hy was die enigste insittende van dié voertuig.

Volgens Mmusi is drie van die vier oorledenes op die toneel dood verklaar. Een van die passasiers het later in die Piet Retief- provinsiale hospitaal aan haar beserings beswyk.

Die Volkswagen was ten tyde van die botsing van Sheepmoor op pad na Piet Retief. Die bestuurder van die bakkie was op pad na Sheepmoor.

Mmusi sê ’n ondersoek na die botsing is reeds van stapel gestuur.

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het intussen ’n beroep op motoriste gedoen om dié deel van die N2 met groot omsigtigheid te gebruik, veral in die nag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swerwer ·

Daar is nie meer ‘n pad wat nie bekend is vir grusame ongelukke nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.