Gru-moord op Polokwane-ma: 2 hoor dán oor borgtog

Tanya Wiers.

Tanya Wiers.

Die twee mans wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op Tanya Wiers (44) van Polokwane, het Donderdag weer in die Polokwane-landdroshof verskyn.

Ao. Lesiba Ramoshaba, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat Alfred Hlongwane (45) en Frans Maela (25) op aanklag van moord en roof in die hof verskyn het. Hlongwane was die Wiers-gesin se tuinier en is vroeg in Maart vasgetrek. Maela is ʼn dag ná die moord op 7 Februarie vanjaar in hegtenis geneem.

Albei se aansoek om borgtog is uitgestel tot 22 Maart.

Die polisie het aanvanklik ná die moord op Wiers en die inhegtenisneming van Maela gesê hulle is op soek na die tuinier omdat hy hulle moontlik in die ondersoek kan bystaan. Later het die polisie egter gesê hulle soek nie na nog verdagtes nie.

Wiers se seun, Rolf (16), het op sy ma se liggaam afgekom. Sy het verskeie steekwonde aan haar nek en onder haar ken gehad, asook verdedigingswonde aan haar hande. Haar oë is met ʼn onbekende skerp voorwerp verwyder.

Haar man, Rolf sr., het vroeër aan Maroela Media gesê hy is oortuig daarvan die moord was nie deel van ʼn gewone rooftog nie, omdat baie min uit die huis gesteel is. Slegs Tanya se trouring, toonring, armband en rekenaartablet is gesteel.

Hy het destyds gesê hy vermoed die moordenaars moes ongesiens agter Tanya by die huis se elektriese hek ingeglip het toe sy ingery het. “Tanya het seker die huis oopgesluit en die inkopies ingedra. Sy het die brood in die broodblik gesit en die suiker, macaroni en vetkoekies gebêre. Sy sou op pad gewees het om die toiletpapier in die gangkas te bêre want dit het nog op die vloer gelê. Haar selfoon en bril het op die eetkamertafel gelê en haar skoene op die vloer van die eetkamer. Ek vermoed die eerste struweling het al daar begin, want die tafel het sommer so skeef gestaan.”

Volgens Rolf lyk dit of Tanya probeer het om kamer toe te hardloop om van haar aanvallers te vlug en dat die struweling daar voortgesit is. Daar was bloed aan die gangmuur, een van haar oorbelle is op die vloer van die hoofslaapkamer gevind en die ander een in die egpaar se oudste dogter, Bianca (18), se slaapkamer.

Lees alle vorige berigte oor Tanya Wiers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

tamboti ·

Kom Pietersburgers, ruk op na die hof op 22 Maart en gaan skree GEEN BORG VIR RASSISTIESE MOORDENAARS!

Rina ·

Wat noem mens ‘n land soos SA deesdae? Kinders gooi mekaar met bakstene op skool – sinnelose moorde word oraloor gepleeg. In jou eie huis is jy ‘n gevangene weens verskerpte veiligheidsmaatreels – desondanks is jy nog steeds onveilig! Ure nadat nuwe inkopiesentrum geopen word, val die eerste geweerskote weens rooftog. En so kan mens aangaan en aangaan – die een rillerstorie na die ander. Ek vermy om deesdae oogkontak met mense in winkels te maak – totaal buite my aard! Verdomp te bang vir alles!

Alida ·

Wat wil hy buite die tronk doen? Dieselfde aan die volgende vrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.