Gru-moord op Polokwane-ma: Nog ʼn verdagte vas

Tanya Wiers.

Tanya Wiers.

Die tuinier van die Wiers-gesin van Polokwane is in hegtenis geneem in verband met die grusame moord op Tanya (44).

Ao. Lesiba Ramoshaba, woordvoerder van die polisie, het gesê Alfred Hlongwane (45) is verlede week in hegtenis geneem in verband met die moord op Wiers. Hlongwane sal op 15 Maart saam met die ander verdagte in die saak, Frans Maela (25), in die hof verskyn wanneer hulle om borgtog sal aansoek doen. Hulle word van moord en roof aangekla.

Maela het in Eduanpark, dieselfde buurt waar die Wiers-gesin woon, gewerk. Die polisie het aanvanklik na die moord op Wiers en inhegtenisname van Maela gesê hulle is op soek na die tuinier omdat hy hulle moontlik in die ondersoek kan bystaan. Die polisie het egter later gesê hulle soek nie meer na nog verdagtes nie.

Wiers se seun, Rolf (16), het op 7 Februarie op sy ma se liggaam afgekom. Sy het verskeie steekwonde aan haar nek en onder haar ken gehad, asook keerwonde aan haar hande. Haar oë is met ʼn onbekende skerp voorwerp verwyder.

Haar man, Rolf sr., het vroeër aan Maroela Media gesê hy is oortuig daarvan die moord was nie deel van ʼn gewone rooftog nie, omdat baie min uit die huis gesteel is. Slegs Tanya se trouring, toonring, armband en rekenaartablet is gesteel.

Hy sê hy vermoed die moordenaars moes ongesiens agter Tanya by die huis se elektriese hek ingeglip het toe sy ingery het. “Tanya het seker die huis oopgesluit en die inkopies ingedra. Sy het die brood in die broodblik gesit en die suiker, macoroni en vetkoekies gebêre. Sy sou op pad gewees het om die toiletpapier in die gangkas te bêre, maar dit het nog op die vloer gelê. Haar selfoon en bril het op die eetkamertafel gelê en haar skoene op die vloer van die eetkamer. Ek vermoed die eerste struweling het al daar begin, want die tafel het sommer so skeef gestaan.”

Volgens Rolf lyk dit of Tanya probeer het om kamer toe te hardloop om van haar aanvallers te vlug en dat die struweling daar voortgesit is. Daar was bloed aan die gangmuur, een van haar oorbelle is op die vloer van die hoofslaapkamer gevind en die ander een in die egpaar se oudste dogter, Bianca (18), se slaapkamer.

Lees alle vorige berigte oor Tanya Wiers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

A grobler ·

Almal toi toi by hof as dit n nie blanke is kan ons nie as wittes ook gaan toi toi sodat borgtog nie toegestaan word nie sodra dit bruin is is dit rassisties maar waar wittes vermoor of aangerand word is dit niks dan staan hulle borgtog toe ons moet ook bymekaar staan hoop daar word iets gedoen aan die moorde

Marilize ·

Ek glo daar sal weer massa protesaksie wees soos met eerste verskyning van eerste verdagte was deur wit en ook swart gemeenskapslede

Annie ·

Laat die wereld sien hoe gatvol ons is vir die dubbel standaarde …

Sonja ·

Hoe in die lewe kan n moordenaar of verkragter….iemand wat duidelik n gevaar is vir die samelewing, nog aansoek doen vir borg. Hoeveel was nie al uit op borg en dan doen hulle net weer dieselfde misdaad nie. Ja, niks moet mens seker meer verbaas in die land nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.