Gru-ongeluk eis agt op N3

Foto: ER24

ʼn Gru-ongeluk het die lewens van agt padgebruikers geëis toe ʼn ligte afleweringsvoertuig Sondag teen ʼn vragmotor op die N3 buite Harrismith in die Vrystaat gebots het. Volgens Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, het die vragmotor, met ʼn Noord-Kaapse registrasienommer, en ʼn ligte afleweringsvoertuig, met ʼn KwaZulu-Natalse registrasienommer, kop aan kop gebots.

Volgens die Vrystaatse polisie wil dit voorkom of die bestuurder van die ligte afleweringsvoertuig beheer oor die voertuig verloor het.

“Die impak van die botsing het die vragmotor na die middel van die pad laat swenk en in ʼn tweede afleweringsvoertuig van dieselfde maatskappy as die eerste, laat vasry.” Agt mense is dood en twee mense, onder wie die vragmotorbestuurder, is in die ongeluk beseer.

“Ons is baie hartseer oor hierdie tragiese ongeluk en wil graag ons opregte medelye betuig aan die familie en vriende van diegene wat in die ongeluk omgekom het. Ons hoop ook dat die beseerdes vinnig sal herstel,” sê Mashinini. Hy sê wetstoepassingsowerhede ondersoek die voorval en sal vasstel wat presies tot die ongeluk aanleiding gegee het.

“Ons wil motoriste wel waarsku dat moegheid een van die grootste probleme op ons paaie is en bestuurders wat moeg is, kan nie behoorlik op die pad reageer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amatambo ·

Ek kan eenvoudig NIE verstaan hoe is dit MOONTLIK dat daar soveel padongelukke gebeur nie – wat my laat wonder of van daardie bestuurders òf geen lisensie het nie, òf hy het dit gekoop, maar nooit die padreëls en regulasies geleer het nie – die houding is eenvoudig: “Ek het die pad saam met my voertuig gekoop, gee dus pad voor my/UIT MY PAD!!!” Ek is in my lang lewe in sewe verskillende kategorieë getoets en as gevolg van my pa se streng – nee – drakoniese – benadering tot padveiligheid onder alle omstandighede en toestande ‘n skoon rekord gehad tot my inders besluit het “Ma is nou te oud om self rond d\te kerjakker – die paaie is deesdae te gevarlik…” gevolglik moes ek maar teen wil en dank terugstaan en daarmee tevrede wees dat ek nou letterlik aftree/uittree voordat ‘n taksi my “uitvee”…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.