Gru-ongeluk eis jong man van Pta

Franco Schutte. Foto: Facebook

Franco Schutte. Foto: Facebook

Slegs ʼn maand nadat ʼn jong man van Pretoria met groot opgewondenheid sy eie konstruksieonderneming begin het, is hy Dinsdag in ʼn gru-ongeluk dood.

Franco Schutte (19) is op slag dood toe hy op die N11 by Kranspoort aan ʼn vragmotor gewerk het wat onklaar geraak het en ʼn tweede vragmotor die stilstaande vragmotor getref het.

Schutte se ma is jare gelede oorlede en hy het in sy ouma se huis grootgeword. Liesl van Deventer, wat Schutte ná sy ma se dood onder haar vlerk geneem het en ʼn moederlike rol in sy lewe vertolk het, het aan Maroela Media gesê Schutte is vroeg Dinsdagoggend saam met sy sakevennoot uit Pretoria om na die vragmotor te gaan kyk wat by Kranspoort onklaar geraak het.

“Soos ons verstaan was Franco agter op die vragmotor besig toe die ongeluk gebeur het. Die ander vragmotor se remme het glo nie gewerk nie en ek weet nie of hy probeer het om van die pad af te kom of wat nie, maar hy het hulle volspoed getref. Franco se vennoot het probeer om hom uit die pad te ruk, maar was te laat. Hy is op slag dood,” het sy gesê.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is na die ongelukstoneel ontbied deur konstruksiewerkers wat gesien het wat gebeur. Die tweede vragmotor het as gevolg van die botsing omgeslaan en het in die pad gelê. Volgens Meiring is die bestuurder in die vragmotor vasgekeer en reddingswerkers het twee uur lank gesukkel om hom met meganiese toerusting uit die wrak te sny. “Die man het matige beserings opgedoen en is na die Midmed-hospitaal geneem,” het Meiring gesê.

Van Deventer het vertel dat Schutte vanjaar in matriek was, maar in Junie besluit het om weens finansiële omstandighede uit die skool te gaan en sy eie ondeneming saam met ʼn vennoot te begin. “Hy was net so hulpvaardige en liefdevolle kind wat altyd aan almal om hom wou gee. Hy was die soort persoon wat dadelik in jou hart ingekruip het as jy hom leer ken het; ʼn wonderlike mens,” het sy gesê.

Huldeblyke vir Schutte het sedert Dinsdagmiddag op sosiale media ingestroom met vriende wat vertel het hoe goeie mens hy was en hoe baie hy gemis sal word.

Volgens Van Deventer het die familie nog nie begrafnisreëlings getref nie. Sy het wel aangedui dat Schutte bo-op sy ma begrawe sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Charlotte ·

Ai so so jammer dat sy lewe so gou kortgeknip is en dit aan die begin van sy toekomsdroom en grootmens lewe. Mag die Here saam met sy naasbestaandes wees en mag God hul berusting gee. Aan die drywer vd ander trok….die hartseer wat jy deur jou onverskilligheid gebring het kon sekerlik vermy geword het…maar vandag se dae kry elke 2de jan rap n trok lisensie en pdp sommer te koop op straat. Dis al die hoeveelste trokongeluk wat kwansuis n rem probleem gehad het!! Strenger maatreels vir lisensies en pdp moet toegepas word in SA!!

Henk ·

Dit is die bestuurders maar ook die eienaars van die trokke wat hulle bestuurders druk om vinniger te ry en terselfdetyd nie hulle trokke onderhou nie. Die land is siek!

Buitestander ·

Empatie en medelye met die familie.
Ons sien nou deur ‘n speel en ‘n raaisel maar eendag van aangesig tot aangesig.
Laat die gereg sy loop neem. Dit is moeilik om met sekerheid te sê wat gebeur het. So moet nie aannames maak wat mens later kan berou nie.
Alles gebeur met ‘n bepaalde doel.

Ethel ·

Dit is werklik so hartseer. maar wonderlik om te sien dat hy sy deel wou doen. Ons kan die Families en almal betrokke net opdra aan die Here.

marianne ·

Franco se skierlike afsterwe is so hartverskeurend…
Hy klink na ‘n fantastiese jong man was.
Rus sag en veilig liewe kind.

Wat-ek-lees ·

Kranspoort is tussen Middelburg en Groblersdal en daar word huidig aan die bergpas gewerk. Ek was lanklaas op daardie pad maar ek glo dat die waarskutekens (borde) nog steeds daar is dat vragmotors na die laagste rat moet skakel aan die begin van die pas. Dit is duidelik om te voorkom juis wat nou daar gebeur het. Waarom die bestuurder nie maar verkies het om teen die pad se wal vas te ry bly ook ‘n raaisel. Dis egter hier waar opleiding inkom. ‘n Ongeluk só onnodig.

Cheryl ·

Dit is waar dat hulle tussen Middelburg en Groblersdal aan die pad werk. Ons was laas naweek
Kranspoort toe en daar was amper 2 ongelukke. Daar is kort namekaar plekke waar mens moet stop en wag – julle gaan nie glo hoe jaag die mense nie – Dis een baan en op een plek gaan
‘n voertuig met ‘n karavaan sommer ‘n trok verby en jaag amper in die aankomende verkeer wat wag in, toe ons ‘n tweede keer wag toe jaag ‘n ou weer verby ‘n voertuig wat te stadig na sy sin ry en ook weer amper in die aankomende verkeer in. Laas naweek was die probleem meer die mense in gewone voertuie as die trokdrywers. Mense moet geduld beoefen as hulle daardie pad wil ry, want hulle gaan nog lank aan hom werk en daar is baie “Stop & Go”s

snoefie ·

Nig n vragmotor wat “onklaar” geraak et. terwyl duisende kilometers treinspore le en roes of gesteel en as skroot verkoop word.

tamboti ·

Stem saam Snoefie, maar dit pas mos ons regering en ekonomie dat daar baie werk geskep word vir die massas. Nou is ons totaal afhandlik van die gemors van die Taxi bedryf en swaar vragmotors wat paaie stukkend ry en mense vermink en dood.
Die meerderheid van hierdie bestuurders moes niks meer as trapfiets en kruiwa dryf nie!
Die eienaars gee ook nie regtig om nie.

Oom Ekonoom ·

Die feit dat die vrag via pad en nie spoor vervoer word nie is n skande, en bloed op ons regering se hande. Dit sou baie beter vir die ekonomie wees as die treine behoorlik gewerk het, soveel beter dat ons land nou baie beteraf sou kon gewees het. Probleem is net dat hierdie regering nou net hulle eie sakke volstop en nie n vlenter omgee oor die welstand van enigiemand nie, ook nie die armes of “voormalig benadeeldes” nie.

James Louis ·

Baie sterkte aan sy familie. Geen ouer moet nodig hê om ‘n kind te begrawe nie :( God seën julle !

Theresa ·

Innige simpatie aan vriende en familie.
Verkeersdepartement: Waarom word die ongelooflike hoë ongeluksyfer wat veroorsaak word deur trokdrywers nie op voorblaaie gepubliseer nie, asb? Die 80km per uur (sover ek weet) wat hul moet handhaaf en die linkerbaan waarin hul behoort te hou (nie op noodbaan en beslis nie in middelbane nie) word geensins gehoorsaam nie. Pta – Jhb ritte bewys dit daagliks. Altyd die remme. Nee – ek dink dis altyd hoë spoed en dan nie weet wat om te doen in noodsituasie nie. Vanoggend weer 6uur ‘n bus gehad wat opdraend en afdraend jaag soos ‘n malmens. Geen respek vir insittendes of wat of wie ookal langs die pad nie. Stel hul nou ex-taxi drywers aan as busdrywers? Laat weet die publiek – dan moet busse vermy word. Stel ‘n spesifieke afdeling aan om vragmotors te monitor en te beboet vir foutiewe gedrag op alle paaie. Hul ry die paaie juis so tot niet. Met die argwaan agter die stuurwiel, verdien hul geen respek nie en dwing dit met aggressie af.

Elize ·

Ek reis daagliks op ‘n ander probleem pad, die Moloto pad in Pretoria. Tans ry ek al sesuur in die oggend werk toe, en julle wil nie weet hoe ry die mense nie. Het geen respek vir mede motoriste, verontagsaam al wat ‘n verkeersreel in die boek is. Die busse en taxis ry op jou stert of hulle druk jou doodeenvoudig van die pad af. Al die sogenaamde metropolisie teenwoordigheid op die pad, is totaal en al op die verkeerde tyd van die dag, wanneer die oortredings nie plaasvind nie, want hoekom moet hulle so vroeg opstaan dan? Ons kry mos hom die pension, die medical en die salary. Duisende nuwe rekrute, maar dit beteken nog steeds absoluut niks vir padbeveiliging nie.

Baie hartseer van die jongman wat nou ‘n nuwe toekoms in die gesig gestaar het. Sterkte aan sy familie/vriende wat agterbly.

neelsie ·

Metro -polisie staan en gesels en frustreer net die gehoorsame motoriste.
Keer ons laasweek voor en wil my beboet omdat die motor se hoofligte aangeskakel is gedurende die dag.
Hoe belaglik, intussen jaag gekrokte ,oorlaaide bakkies by hulle verby.

Jeanne ·

Foeitog. Dit is ontsettend tragies. So ‘n pragtige jong man aan die begin van sy loopbaan. Baie jammer oor julle groot verlies, geen woorde kan dit beter maak nie. Hou sy herinneringe naby aan julle harte, en mag julle in God vertroosting vind, want daar is geen sin aan die dood van so ‘n mooi jong man nie. Moet se, ek wat self snelweg elke dag ry, kan getuig van die trokke se onverskillige optrede op die paaie. Omdat hulle groot is, het hulle hierdie valse gevoel van dat hulle in beheer is, ek voel al lankal dat trokke op ons paaie die grootste gevaar is, en hulle bewegings beter gereguleer moet word.

Jeanette Visser ·

Ek wil ook graag kommentaar lewer oor ongeskikte padgebruikers. Ek ry elke dag op die Ou Warmbad Pad werk toe, hier gaan die busse en taxi’s jou aan beide kante verby, ry jy in die geel lyn wat eintlik nie mag gebeur nie (dis vir noodvoertuie) kom hulle verby gejaag jy ry dan 90-100kmph en dit lyk of jy stilstaan. Ry jy tussen die witlyne 100kmph dis die spoedgrens op die pad, kom hulle op jou afgejaag en flikker die ligte sodat jy moet pad maak. Nou dwing hulle jou eintlik om vinniger te ry wat ek nie wil nie(bespaar bietjie brandstof) op die einde besluit jy ry maar in die geel lyn dat hulle maar net verby kan kom. Net soos een skrywer hier sê die Metro Polisie staan op die verkeerde plekke op die verkeerde tye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.