Gru-ongeluk eis twee kinders

(Foto: Verskaf)

ʼn Gru-ongeluk op die N14 in Centurion het die lewe van twee jong kinders en ʼn volwassene geëis. Die ongeluk het Vrydag om en by 18:00 naby Rooihuiskraal plaasgevind.

Die oorledenes en nog twee beseerdes was almal insittendes van ʼn ligte afleweringsvoertuig wat klaarblyklik van die pad afgery en verskeie kere gerol het, voordat dit ʼn muur langs die pad getref het.

Volgens paramedici van Emer-G-Med, die nooddienste wat na die toneel uitgeroep is, is al die insittendes agter in die ladingsgedeelte van die voertuig uitgeslinger en het noodlottige beserings opgedoen. Die oorledenes is twee kinders – ʼn eenjarige meisie en ʼn seun van omtrent sewe jaar – en ʼn volwasse vrou.

Nog twee passasiers, wat voor in die voertuig gesit het, het matige beserings opgedoen en is op die toneel deur paramedici behandel. Die man en vrou is na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer.

Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.

Dieselfde dag, ook op die N14, het ʼn ligte vliegtuig naby die afrit na die R511 in Centurion neergestort. Volgens die nooddienste CERT-SA het die voorval ongeveer 10:55 plaasgevind. “Wonderbaarlik het die vlieënier geen beserings opgedoen nie.”

Meer besonderhede oor die voorval is nie bekend nie.

‘n Ligte vliegtuig het op die N14 in Centurion geland. (Fotos: Cert-SA/ Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.