Gru-ongeluk eis vyf op pad na Leandra

Die ongeluk in Boksburg waartydens twee mense dood is. (Foto: ER24)

Sewe mense is dood en vyf ernstig beseer in twee verskillende ongelukke wat Sondag op Suid-Afrika se paaie plaasgevind het.

In die eerste ongeluk is vyf mense Sondag op slag dood en drie ernstig beseer in ʼn ongeluk tussen twee sedanmotors in Mpumalanga.

Die kop-teen-kop-botsing het teen 14:00 op die R29 tussen Kinross (net buite Evander) en Leandra plaasgevind. Volgens Mpumalanga se departement van gemeenskapsveiligheid en sekuriteit is die enigste oorlewende na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

“Een van die motors het ses insittendes ingehad. Net die bestuurder van dié motor het die ongeluk oorleef. Die ander voertuig het twee insittendes gehad, wat albei ernstig beseer is,” sê Moeti Mmusi, woordvoerder van die betrokke departement.

Hy sê ʼn ondersoek na die oorsaak van die ongeluk word gedoen en meer inligting sal mettertyd bekendgemaak word.

In nóg ʼn ongeluk, dié keer in Boksburg, Gauteng, is twee mense Sondag dood en nog twee ernstig beseer.

Paramedici van ER24 is vroeg Sondagoggend na die toneel op die N17 ontbied waar hulle ʼn pasiënt in ʼn kritieke toestand aangetref het. Die twee motors het skynbaar gerol. “Ten spyte van die span se beste pogings om die beseerde se lewe te red, het die persoon aan sy beserings beswyk,” sê Ineke van Huyssteen, ER24-woordvoerder. “Nog ʼn persoon is en ook op die toneel dood verklaar.”

Volgens Van Huyssteen het twee pasiënte ernstige beserings opgedoen en is hulle op die toneel behandel voordat hulle na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.