Gru-ongeluk in Bethal eis 4

Met paramedici se aankoms op die toneel het hulle die opgefrommelde motors aangetref (Foto: ER24)

Vier mense is dood en drie beseer toe twee voertuie Sondagaand in ʼn ongeluk op die N17 tussen Bethal en Ermelo in Mpumalanga betrokke was.

Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, sê paramedici is omstreeks 19:30 na die toneel ontbied, waar hulle met hul aankoms twee opgefrommelde voertuie aangetref het.

“Vier mense het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar,” sê Van Huyssteen.

“Onder die beseerdes was een persoon in ʼn kritieke toestand terwyl twee ander matige beserings opgedoen het.”

Die beseerdes is op die toneel behandel voordat hulle per ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is vir verdere mediese behandeling.

Dit is nog nie duidelik hoe die ongeluk gebeur het nie.

In ʼn afsonderlike ongeluk wat Donderdagaand op die R40 by Witrivier, ook in Mpumalanga, plaasgevind het, is een persoon dood en twee ernstig beseer toe ʼn sleepwa en ligte motor gebots het.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het paramedici met hul aankoms op die toneel die voertuie in die middel van die pad aangetref. Een van die insittendes van die ligte motor het buite die voertuig in die pad gelê. Die ander twee insittendes was nog binne die motor.

Die bestuurder van die sleepwa het ongedeerd van die voorval afgekom.

“Die man wat buite die voertuig gelê het, het op die toneel aan sy beserings beswyk. Die ander twee was in ʼn kritieke toestand en op die toneel behandel. Hulle is daarna per ambulans na die Rob Ferreira-hospitaal in Nelspruit geneem vir verdere mediese behandeling,” sê Meiring.

Die omstandighede van albei ongelukke word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Die motor lyk verskriklik. Baie gevaarlike pad en mense neem kanse. Sterkte aan die families van die afgestorwenes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.