Gru-ongeluk in KZN: Koeëlgat in voertuig gevind

Die ongelukstoneel (Foto: Verskaf)

Daar is moontlik op die voertuig geskiet wat Dinsdagoggend op die N2 in Durban oor die pad gerol het.

Só lui ʼn voorlopige ondersoek na die gru-ongeluk wat vroegoggend op die N2-snelweg tussen die Umgeni- en Inanda-pad in Durban plaasgevind het. Kapt. Raj Rooplal van die Durbanse eenheid vir die bekamping van ongelukke het Dinsdag aan eNCA gesê ʼn koeëlgat is ná die ongeluk in die ligkompartement van die voertuig gevind.

“Ons aanvanklike ondersoek het daarop gedui dat daar moontlik ʼn menslike fout was wat tot die ongeluk kon lei. Ons het sedertdien die koeëlgat in die voertuig asook oorblyfsels van die koeël in die agterligkompartement van die voertuig ontdek. Die ondersoek slaan dus nou ʼn nuwe rigting in,” het Rooplal aan eNCA gesê.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat die omstandighede wat die ongeluk kon veroorsaak het, nog ondersoek word.

Mbele wou egter nie op die bewerings van die koeëlgat reageer nie.

Maroela Media het vroeër berig sewe mense is dood toe die bestuurder van ʼn ligte voertuig met agt insittendes Dinsdag omstreeks 05:45 beheer oor die voertuig verloor en dit verskeie kere gerol het. Daar was geen ander voertuig in die ongeluk betrokke nie.

By paramedici se aankoms op die toneel was die insittendes nog vasgekeer in die voertuig en hulle moes met meganiese reddingskake en ander hidrouliese gereedskap uit die voertuig uitgehaal word.

Sewe van die agt insittendes is tydens die ongeluk dood. Die agtste insittende het ernstige beserings opgedoen en is deur paramedici behandel. Hy is per ambulans na die naaste hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Francois ·

Ongeag wst die ongeluk veroorsaak het moet die bestuurder aangekla word van moord wsnt hoe ksn jy 8 mense in N sedan motor vervoer. Waar was die maksimum van 3 mense in n sedan nou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.