Gru-ongeluk: Snyman-gesin gegroet

Van links: Zelde, Lize en Willie (Foto: Verskaf)

“Ons wil julle salueer. Ons wil vir julle dankie sê dat julle ons lewens aangeraak het.”

Só het past. Frik Weideman van die Westerlig Lewende Woord-gemeente in Pretoria tydens die roudiens vir Willie (44) en Zelde (41) Snyman en hul dogter Lize (15) gesê nadat hulle op 10 Januarie in ’n ongeluk op die N3 naby Harrismith in die Vrystaat omgekom het.

Willie, Zelde en Lize was saam met hul boesemvriende, Ian Greyling (52), sy vrou, Christa (45), en hul seuns Jacques Greyling (16) en Jordan Marais (15) op pad na Pretoria van Uvongo waar hulle vakansie gehou het.

Die minibus waarin die twee gesinne gery het en ’n vragmotor was in die ongeluk betrokke. Almal behalwe Jordan het in die ongeluk omgekom.

Ian, Christa en Jacques Greyling is Dinsdag tydens ʼn troosdiens in die Herlewingsentrum Wonderboompoort gegroet. Jordan en sy ouboet, Donovan Delport (22), is nou die enigste oorblywende lede van dié gesin van Pretoria-Noord.

Drie kiste met wit lelies daarop, dié van die Snymans, is Donderdag om 11:00 deur geliefdes ingedra en voor in die kerk geplaas. Reëndruppels het hard tydens die diens op die dak geval.

“Dit is so asof die hemel vanoggend saam met ons huil,” het Weideman aan die begin van die roudiens gesê.

Foto’s van die Snymans is vertoon net voordat die troosboodskap gelewer is.

Die Snyman-gesin (Foto: Verskaf)

Weideman het in sy troosboodskap benadruk hoe groot verskil die Snymans in mense se lewens gemaak het en hoeveel omgee en liefde hulle as gesin uitgestraal het.

“Hierdie was ʼn gesin gewees par excellence. As ek na die Snymans gekyk het, sien ek een woord: liefde. As ek met die Snymans se familie praat, sien ek liefde. Dit was ʼn voorbeeld van ʼn gesin wat vir mekaar omgegee en ʼn verskil gemaak het waar hulle gaan,” het Weideman gesê.

“En nou beleef hulle daardie liefde waarna ons almal smag.”

Weideman het gedeeltes uit Lize se joernaal voorgelees wat sy bygehou het en gesê dat sy in besonder sy lewe daarmee aangeraak het.

“Weereens soos ek deur haar joernaal blaai, sien ek net liefde. Sy het geskryf: Ons was die eerstes wat ons hoop in Jesus geplaas het… Ek is deur God gekies. Ek is geseën met elke Christelike seëning. God is lief vir my en Hy is lief vir ons.”

Weideman het die gesin se geliefdes ook bemoedig dat hoewel daar nou ʼn leemte sonder die Snymans is, groet hulle vandag net vir ʼn kort rukkie.

Ná die diens het Wikus Britz, ʼn familielid, die bedankings gedoen en die Snymans geëer vir die gesin wie hulle was.

“Dankie, Here, vir die tyd wat ons saam met hulle op die aarde gehad het. Dankie dat ons deel kon wees van hul lewens. Niemand van ons sal ooit dieselfde wees nie – ons geliefdes is in ʼn oogwink van ons weggeneem. Hulle het diep spore in ons harte getrap, maar nou is hulle wedloop verby. Julle leef nou voort in ons harte. Julle is nou by jul Verlosser. Tot ons mekaar weer gaan sien,” het Britz gesê.

Die diens is met ʼn oorwinningslied afgesluit waarna die kiste op Frank Sinatra se hartroerende “My Way” uitgedra is. Die gesin is in die Zandfontein-begraafplaas in Pretoria ter ruste gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

teesee ·

Wat ek nie verstaan is- dat die ongeluk op 10 Januarie al gebeur het-mar is nou eers daroor berig

kolonel ·

Die berig is oor die begrafnis. Daar was beriggewing oor die ongeluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.