Gru-plaasmoord skok veiligheidsman

Annemarie Botha en haar seun Ruan. (Foto: Verskaf)

“Ek was al op baie moordtonele, maar dié toneel het my werklik geskok.”

Só sê Albert Gryvenstein, operasionele hoof van die veiligheidsgroep Bossies Community Justice, wat Saterdag na die toneel ontbied is waar Annemarie Botha (64) en haar gestremde seun, Ruan (31), wreed vermoor is.

Maroela Media het berig dat Fanie Botha op sy vrou en seun se liggame op hulle plaas buite Nelspruit, Mpumalanga, afgekom het nadat hy patrollie op die plaas gaan ry het. Dit blyk dat Annemarie, ’n onderwyseres by Calvary Christian School, verbete teruggeveg het toe sy en hulle seun, wat verstandelik gestrem was, aangeval is.

“Jy kon sien daar was ’n hengse struweling. Die meubels was omgekeer en stukkend. Daar was ook ontsaglik baie bloed,” het Gryvenstein gesê.

Annemarie is dood nadat sy verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek is en Ruan is vermoedelik met ’n voorwerp doodgeslaan.

Volgens Gryvenstein het dit gelyk asof Ruan sy ma probeer beskerm het omdat hy half bo-oor haar gelê het toe die liggame ontdek is.

“Ek kan nie dink waardeur hulle moes gegaan het nie. Dit was so onnodig. Daar is nie ’n manier dat hulle ʼn bedreiging vir die aanvallers kon gewees het nie.”

Hoewel Gryvenstein se maatskappy ’n beloning uitgeloof het vir enige inligting wat kan help om die moordenaars vas te trek, is daar nog geen deurbraak nie.

’n Roudiens is vandag (Donderdag) om 10:00 vir Annemarie en Ruan in Nelspruit gehou. Dit gaan volgens Jaap Breedt, ’n neef van Fanie, in die omstandighede ’n bietjie beter met hom.

Breedt het gesê dat hulle Sondag om 09:00 in ’n stoet vanaf die Pick n Pay in Nelspruit sal vertrek om ’n huldeblyk aan Annemarie en Ruan te bring en bewusmaking van plaasmoorde in Suid-Afrika te kweek. Lede van die publiek is welkom om deel van die stoet te wees.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

eff en anc is agter al die oor hulle rasisties houding en haat teenoor wit. – Niks minder nie.

Samuel

So hartseer en onnodig.

Pieter

Piet retief het ook met dingaan gaan probeer onderhandel.

Inkpot

Nog ‘n moord in Suid-Afrika se dik boek oor plaasmoorde!

koos

Al hierdie plaasmoorde asook ander moorde en verminkings van wit Suid-Afrikaners is vir die rekening van die Weste asook die VN. Hulle was voor in die koor met sanksies en dergelike onheilighede om die huidige regime aan bewind te kry, nou is hulle stilte oorverdowend. God is nie blind nie, pêl!