Gru-vonds toe broer oor muur klim

Die beskuldigdes het Maandag in die rondgaande hof in Parys verskyn. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die vermoorde Michael Zantow se broer het destyds oor die bure se muur in Sasolburg geklim in ʼn poging om uit te vind wat van Zantow en sy lewensmaat geword het.

Die toneel waarop hy eindelik afgekom het, was alles behalwe dit waarvoor hy gehoop het.

Michael Zantow (64) en sy lewensmaat, Annie Liebenberg (62), is in Augustus verlede jaar grusaam vermoor. Die verhoor van diegene wat vermoedelik daarvoor verantwoordelik is, word al heel week in die rondgaande hof in Parys in die Vrystaat aangehoor.

Zantow se broer, wie se naam op versoek nie genoem word nie, het Vrydag in die hof getuig dat sy vrou destyds ʼn oproep van Liebenberg se dogter, Maryke, ontvang het. Liebenberg se dogters kon haar nie in die hande kry nie en het op Zantow se broer se knoppie gedruk om ondersoek in te stel.

Die getuie en sy vrou het binne loopafstand van Zantow en Liebenberg gewoon en besluit om te gaan kyk of hulle tuis is aangesien nie een van hulle hul selfone geantwoord het nie.

“Ek het die hekke van die buitekant ondersoek en gesien alles is gesluit. Ek het ook na Michael en Annie geroep, maar dit was tjoepstil.”

Zantow se broer is toe na hul oorlede ouers se huis toe, maar hier was ook geen teken van die paartjie nie. Hy is terug na sy broer se huis en het vir sy buurman se skoonseun gevra of hy toegang tot sy broer se erf vanuit hulle erf kon kry.

“Die buurman het toegelaat dat ek oor die muur klim en sy skoonseun het saam gekom,” het hy gesê.

“Ons het gesien die agterdeur is oop. Die veiligheidshek was gesluit, maar ek het nietemin na my broer geroep. Daar was geen antwoord nie. Ek het in daardie stadium angstig begin raak.”

Die twee het die erf gefynkam, maar kon nie toegang tot die huis verkry nie. Zantow se oorlede ouers se Volkswagen Jetta was ook nie waar dit gewoonlik parkeer was nie. Die buurman se skoonseun het egter gesien die hek waar die Jetta altyd staan, was oop en die twee kon so toegang tot die huis verkry.

“My broer se windbukse was op die grond neergestrooi. Ek het toe regtig begin onraad vermoed want my broer sou nooit dit net laat rondlê terwyl hy nie daar was nie.”

Dit was eers nadat die polisie ontbied is dat Liebenberg se liggaam in ʼn stoorkamer op die erf aangetref is. Zantow se liggaam is ʼn dag later by sy oorlede ouers se huis aangetref. Hy is ook vermoor.

Nadoodse ondersoek bevestig gru-moorde

Annie en Michael was smoorverlief. (Foto: Verskaf)

Dr. Fortune Kefilwe Sefanyetso, wat by die departement van gesondheid in Sasolburg werksaam is, het die Dinsdag nadat Zantow en Liebenberg se liggame gevind is, ʼn nadoodse ondersoek op die slagoffers afgehandel.

Sy het Vrydag in die hof getuig dat albei grusaam vermoor is en vuil en oortrek was met die bloed wat hulle verloor het.

Volgens haar getuienis is Liebenberg met ʼn skerp voorwerp gesteek. Die amptelike oorsaak van haar dood was ʼn steekwond aan haar nek, asook ʼn tekort aan suurstof.

“Die ondersoek dui daarop dat sy gesteek en verwurg is. Daar is bloed in haar tragea aangetref, asook in die spier in haar nek. ʼn Hoofslagaar in haar nek was ook heeltemal afgesny.”

Sefanyetso het toegegee dat sy nie kon bepaal of Liebenberg eers gewurg of eers gesteek is nie.

Zantow het erge kopbeserings opgedoen nadat hy glo met ʼn byl aangeval is. Sefanyetso het in haar getuienis gesê dat hy verskeie wonde voor, in die middel en agter op sy kop opgedoen het.

“Dit is moontlik dat hy aanvanklik van agter af aangeval is,” het sy gesê.

Zantow het ook verskeie merke aan die palms van sy hande en arms opgedoen. Dié merke is vermoedelik opgedoen terwyl hy homself teen die aanval probeer verdedig het.

Sefanyetso het bygevoeg dat daar ʼn voorwerp oor Zantow se gesig geplaas is, maar dat sy onseker is oor die bedoeling daarvan.

“Ek het ʼn koord, wat van tou gemaak is, op sy gesig gevind. Die koord het van sy regteroor, oor sy neus tot by sy linkeroog gestrek.”

Sy het nie verder hieroor gespekuleer nie.

Die beskuldigdes in die saak, Stanley Lingena (38) en Sithembiso Hlongwane (28), sal Maandag weer in die hof verskyn wanneer die saak voortgesit sal word. Hulle bly intussen in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Goldy ·

Hoekom word hierdie tragiese gebeurtenis nie as rasgemotifeerd bestempel nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.